in ,

ProAgri 227

ProAgri

This post is also available in: English

“Mag jou ooie almal lam en mag jou lammers almal ooie wees.” Dit was die goeie wens waarmee ՚n gesoute boer my begroet het toe ek so twee dekades gelede my eerste landbouradioprogram, Landboukorrels, aangebied het.

Synde ՚n stadsjapie, het ek maar so ՚n rukkie gevat om te verstaan wat die man aan my probeer sê, maar deur die genade en die geduld van vele kenners en boere wat saam met my die pad geloop het, kan ek darem vandag boere se goeie wense verstaan.

Ondertussen het ek self so bietjie met boerdery begin speel, nou nie skape nie, maar wel visse en groente en ek kan darem met ՚n mate van gesag vir die visboere toewens: Mag jou eiers almal uitbroei en jou vingerlinge almal mannetjies wees!

Ons stap met hierdie uitgawe in ProAgri se 25ste bestaansjaar in en ons sal deur die loop van die jaar so bietjie terugkyk na hoogtepunte in die verlede, maar soos altyd met die oog op die toekoms. Ons wil immers almal slim en vorentoe boer.

ProAgri se verjaarsdagmaand is November en ek glo ons gaan lekker partytjie hou, maar tot dan stuur ek graag my goeie nuwejaarswense aan iedereen: Mag genoeg reën op die regte tyd val, mag die sprinkane en die nege ander plae verby hou, mag die laers, skottels en tande hou tot die laaste pit klaar geplant is, mag die dieselprys laer daal as die mielieprys en mag die mielieprys die  bankbestuurder gelukkig maak, mag die melkprys hoër wees as die voerprys, mag die beste bul se
saad elke keer vat, die ram sy werk getrou doen, en elke hen elke dag ՚n spogeier lê, mag die regering oorsee besig raak en net die boere uitlos en mag iemand tog net die lig aanskakel by Eskom!

Alle voorspoed vir die nuwe jaar.

Lees lekker en boer slim!
Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za

Lees ProAgri 227 hier: ProAgri SA Uitgawe 227

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

One Comment

Onteieningswetsontwerp: Groter duidelikheid

kaasfees

Vier SA Kaasfees se 18de jaar in 2019!