in ,

ProAgri 224

This post is also available in: English

Blinkoog, oopgesig en met ’n vriendelike “Hallo Tannie” kom groet hulle wanneer ek op die plaas aankom om ’n artikel te skryf. Die boerekinders help op die plaas en speel buite en hulle gesigte straal selfvertroue en hoop uit.

Wanneer ’n nuwe masjien op die plaas aankom, is dit hulle wat die opwinding wys wat Pa al geleer het om weg te steek. Dit is die Hallo Tanniekinders wat my motiveer om lang ure te werk, my woorde oor en oor te herkou en die mooiste moontlike artikels te skryf oor die masjiene en ander tegnologie wat boerdery die toekoms indra. Ek wil hê hulle tone moet net so krul van lekkerkry oor die beskrywing as oor die tegnologie self. Saam met ons adverteerders is dit immers die toekoms waarin ons belê.

Op pad terug van so ’n positiewe plaasbesoek is ek skielik oorweldig deur ’n gevoel van verontwaardiging, woede en hartseer toe ek oor die nuus moet hoor dat Suid-Afrika se president ontken dat boere vermoor word. Hoeveel van hierdie pragtige Hallo Tannie-kinders moes al by oop grafte en langs hospitaalbeddens staan as gevolg van plaasaanvalle, of self in ’n plaashuis probeer wegskuil van die gewelddadige terroriste?

Wat doen die president en sy ANC-regering om vir hierdie kinders ’n toekoms te skep? Ons geldeenheid raak waardeloos, eiendomsreg word aangeval, meer as R5 per liter van die reeds peperduur brandstof beland in die staatkoffers waar dit heel moontlik deel van die korrupsiesiklus word… en politieke retoriek stook net meer geweld.

Dit laat ’n mens magteloos voel tot jy weer op die volgende plaas kom en ’n opgeskote seun met volle oortuiging verklaar: “Ek wil boer!” Nou ja jong man en jong dame – ek wil ook hê julle moet boer! Laat elkeen wat wil, doen wat hy kan om dit moontlik te maak.

Hier by ProAgri bring ons in hierdie propvol, lekkerleesuitgawe ’n wavrag vol woorde oor tegnologie wat boerdery vorentoe kan vat.

Geniet dit, en… boer slim!

Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za

Lees ons jongste uitgawe hier: ProAgri 224_


What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 50.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 50.000000%

yara

Beeste presteer op selfgemengde lek en voer

Kuhn

Valtrac: Baal beter met die nuwe Kuhn LSB 1270 DX-grootpakbaler