in ,

ProAgri 218

This post is also available in: English

Die Hopewell-suiwelplaas in die Oos-Kaap wat die regering vir R8,8-miljoen gekoop het as ‘n swartbemagtigingsplaas het nog in 2016 188 koeie in melk gehad en ongeveer 1 000 liter melk per dag gelewer. Vandag is daar 50 koeie oor en hulle produseer minder as 50 liter melk elke dag.

Dit is een van die verhale van mislukte regeringsprojekte wat deur die koerant, die Saturday Dispatch, uitgelig is, nadat hulle joernalis, Bongani Fuzile, ‘n aantal plase gaan besoek het. Nie een van die projekte was ‘n sukses nie.

Dit is nie eers meer opspraakwekkende nuus nie. Ek kry die indruk die regering gee nie eers om of die projekte slaag of misluk nie. Dit gaan net oor die aantal uitgedeelde hektare op die boeke.

Boerdery is nie maklik nie. Daar is ongelooflik baie uitdagings en faktore buite jou beheer, maar dit weet elkeen wat hier lees.

Elke keer as ons begin gereed maak vir NAMPO, verstom dit my om te sien hoeveel ontwikkelings daar is om aan boere ‘n wenkans te gee.

Kom ek lig enkele begrippe en tegnieke wat in hierdie uitgawe vervat is uit: Ons praat van ‘n plaaslike hooihark waarvan die tolle elkeen veerbelaai is en met ‘n koellaer in plaas van die gewone bus werk; nog ‘n plaaslike produk is ‘n hidrouliese fynsaadplanter wat gelyk twee soorte saad en kunsmis presies kan plaas in ‘n geenbewerkingstelsel; ‘n bandstropertafel van 13,7 meter wyd wat oor bulte en deur dale ewe hoog bly stroop; toerusting vir diepstrookbewerking wat boere toelaat om selfs in sandgronde bewaringsbewerking toe te pas; ‘n waterbesparingsprogram wat alle vorms van elektroniese beheer en selfs kameras gebruik om in boorgate in te loer; en tegnieke om wurms in skape te beveg deur met die natuur saam te werk.

Hierdie is maar net ‘n paar van die wonderlike oplossings waaroor ons geskryf het en ek glo na NAMPO pak ons weer bladsye vol tegnologie. Hoe ver is hierdie wêreld nie verwyder van politieke rooi opportuniste wat skree vir grond nie?

As Oumagroot van al die dinge moes hoor, sou sy haar hande saamgeslaan het en gesê het: “Gedoriewaar! Loop kry vir jou!”

So van NAMPO gepraat, ons gaan weer ‘n paar aanloklike pryse by die ProAgri-uitstalling in die Hinterlandsaal weggee – maak seker jy maak daar ‘n draai. Kyk op die GROOT kaart hieronder waar ons is en vat tog die kaart saam om jou roete te beplan. Al ons adverteerders is daarop gemerk!

Boer slim!

Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za

Lees ProAgri 218 hier: ProAgri_218

 

NAMPOkaart: nampokaart_2018

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Wurms: Hulle beheer moet goed beplan word!

Dom Boer se lag vir die dag: