in ,

ProAgri 217

This post is also available in: English

R800-miljoen. Dit is hoeveel geld Tiger Brands volgens vroeë berekenings as gevolg van die listeria-kiem in sy verwerktevleisaanlegte verloor het. Dit is sonder die skadevergoedingseise wat noodwendig gaan volg. Geen maatskappy gaan dit moedswillig aan homself doen nie. Êrens het die prosesse wat in plek gestel is om voedselgesondheid te waarborg, klaaglik misluk.

’n Kortpad is gevolg in die jaagtog na oorlewing of, meer waarskynlik, wins en dividende vir die aandeelhouers. Die hartseer deel is dat een voedselmaatskappy se probleme die hele bedryf raak. Nou is die sosiale media gevul met walgberigte oor heel varke wat met binnegoed en al in reuse meules gegooi word en twyfelagtige, grillerige bestanddele wat van oosterse lande en Suid-Amerika af ingevoer word.

Dit skep wantroue in die totale voedselketting en raak uiteindelik ook die primêre produsent, overgesetsynde, die boer. Vir ’n boer is daar maar min kortpadopsies. Oormatige en verkeerde gebruik van gifstowwe en chemikalieë om opbrengs te verbeter, gaan ’n boer gou terugbyt.

’n Gewone groenteboer wat produkte aan enige van die groot winkelgroepe wil lewer moet aan honderde vereistes en regulasies voldoen wat strek van arbeidsregulering tot die verkryging van waterregte en voldoening aan Global Gap-sertifisering. Dit behels dokumente van so 160 bladsye vol vereistes waarop ’n boer ge-oudit word.

Van die regulasies is werklik sinvol, want dit behels spuitprogramme en die tyd wat moet verloop tussen die laaste spuit en oes, wat noodsaaklik is vir verbruikers se gesondheid. Van die ander regulasies behels ’n vrag papierwerk en sertifikate wat baie tyd, en dus ook geld kos.

Boere gaan deur hierdie prosesse, ondanks die feit dat hulle prysnemers is met voortdurend dalende winsgrense. By ’n konferensie waar die AgriTech-skou in Israel onlangs bekend gestel is, het een van die sprekers daarop gewys dat boere in 1980 gemiddeld 31 sent gekry het van elke dollar se voedselverkope, nou kry boere net 16 sent uit die dollar.

Die gebruik van slim en volhoubare tegnologie is die enigste manier hoe boere winsgewend kan boer. In hierdie uitgawe is daar inligting oor tegnologie soos John Deere se reuse FX-planters waarmee jy krimpende plantvenstertye beter kan benut tot nuwe maniere om groentesaailinge voor te berei om tot drie weke se groeityd te wen.

Ek vertrou dat jy iets sal vind wat jou boerdery na die volgende vlak sal neem, sodat jy darem ook aan die einde van die maand ’n stukkie polonie kan koop!

Boer slim!

Annemarie Bremner

Laai ProAgri 217 hier af: proagri_217

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

bokhaar

Bokhaarpryse styg