in ,

PIONEER® Weeg en Wen 2018: Só moet ‘n goeie oes mos lyk!

Elize Schutte, die eerste vrouewenner in Weeg en Wen, ontvang haar toekenning van Heinz Oellermann van PIONEER®. In die agtergrond is Elize se pryswenner-sojabone.

This post is also available in: English

“Ek wou nie inskryf nie, want dit was die eerste keer dat ek sojabone geplant het. My saadagent het my oortuig. Ek het niks geweet nie, maar so geleer soos ek aangaan,” vertel Elize Schutte van Klipdrift, Potchefstroom. Met dié eerste sojaboon-aanplanting het Elize ook die eerste vrou geword wat ՚n afdeling in die PIONEER® Weeg en Wen-kompetisie gewen het. Sy het die hoogste opbrengs vir sojabone onder besproeiing behaal met ՚n allemintige 5,8408 ton per hektaar met die PIONEER®-kultivar P64T39R.

Elize het ses jaar gelede voltyds begin boer na haar man se afsterwe en haar aftrede by die Noordwes Universiteit waar sy met rekenaarstelselontwikkeling te doen gehad het. Sy het 94 hektaar onder besproeiing en wil graag haar boerdery uitbrei, “want ek het nog baie planne”. Elize skryf die hoë opbrengs daaraan toe dat sy na kundiges se raad geluister het, dat die reën op die regte tyd geval het en dat alles maar net mooi saamgewerk het. Sy is van plan om aan te hou met die sojabone as wisselgewas met mielies en skuif nou die soja-aanplanting na ՚n volgende land.

՚n Groot nuwe uitdaging vir hierdie jaar is dat sy gaan oorskakel van ՚n stelsel van skottelbewerking en saadbedvoorbereiding na totale geenbewerking. Haar raad aan nuwe boere is om positief te bly en te kyk wat die mense met ondervinding rondom jou doen.

Tony Esmeraldo

Weeg en Wen 2018

Die droogte het deelname aan hierdie jaar se opbrengswedstryd beperk, maar diegene wat wel kans gesien het om in te skryf, het goeie oeste behaal. By die spoggerige toekenningsgeleentheid het Tony Esmeraldo van Corteva AgriscienceTM (dit is die naam van die maatskappygroep waarvan PIONEER®, PANNAR® en Dow AgroSciences deel is) gesê hulle verstaan dat dit vir boere oor wins per hektaar gaan. Met die samesmelting van die internasionale landboumaatskappye is die toegang tot saadtegnologie vir plaaslike boere nog meer vergroot en Tony sê hulle sal aanhou om in Suid-Afrika te belê solank die boere positief bly en na oplossings soek.

Daar is onlangs R100-miljoen belê in ՚n navorsingstasie by Delmas en R60-miljoen in ՚n saadaanleg in Rosslyn. Ondanks al die internasionale sakeverskuiwings sal boere in Suid-Afrika steeds kan voortgaan om PIONEER®- of PANNAR®-saad te koop.

Heinz Oellermann, besigheidsbestuurder van PIONEER®, het boere verseker dat PIONEER® sal aanhou met navorsing op plase om die beste oplossings vir plaaslike omstandighede te vind. Die saadspesialiste is daar om boere te help om die regte produkte op die regte hektare te plant en die beste gewasbestuurspraktyke vir daardie hektare aan te beveel.

Al hoe meer boere begin ook die idee van massasaadaankope aanvaar en maak gebruik van PIONEER® se gerieflike PROBOX™-saadhanteringstelsel wat sorg dat behandelde saad op kort kennisgewing op die plaas afgelewer kan word.

Borgboodskappe

Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, sê opbrengskompetisies gaan oor baie meer as om iemand te beloon vir die hoogste opbrengs; dit gaan daaroor dat boere by mekaar moet leer. Lucas Groenewald, streeksverkoopshoof van John Deere, het al die boere ՚n “groen” toekoms toegewens. John Deere wil boere help om goeie opbrengste te behaal deur die beste werkverrigting van John Deere se produkte, deur staantyd tot die minimum te beperk en deur die kleinste moontlike geldelike impak te maak.

Ben Schoonwinkel van Syngenta het boere gewys op die verskillende finansiële opsies en produkte wat Syngenta as deel van sy oesbeskermingspakket aanbied, soos om deur die jaar te koop en in Augustus te betaal teen ՚n uiters gunstige rentekoers. Hy sê Syngenta is vuur en vlam vir die nuwe jaar.

Corné Louw

So lyk die wenners

Zirk Scheepers van Cradock het die hoogste opbrengs behaal vir mielies onder besproeiing, naamlik 20,72 t/ha. Zirk sê hy is eintlik ՚n skaapboer, maar hy geniet dit om mielies te plant en te troetel. Kort op sy hakke was Jaco Cilliers van Douglas met 19,71 en Francois Hoffman van Delmas met 18,1555 t/ha.

Met droëlandmielies het die manne van KZN, Mark Stein, Bruce Shepherd en Ross Braithwaite, asook die Roosbroers van Wonderfontein in die Oosstreek, Gerlu en Heinrich, behoorlik die pitte laat spat met opbrengste van meer as 14 t/ha. Mark Stein het 15,4 t/ ha gestroop en Gerlu Roos 15,373 t/ha. In die Wesstreek het Dawie Maré 10,3 t/ha geoes, in die Oos-Vrystaat was Gerrie Claasen die wenner met 13,533 t/ha en in die Sentraalstreek, Bernard Rabe met 11,744 t/ha.

Gerrie Claasen van Bethlehem het ‘n uitstaande mielie-opbrengs van 13,533 t/ha gelewer met die PIONEER®-kultivar P2137B in die Sentraalstreek.
Mark Stein van KZN het ՚n opbrengs van 15,4 t/ha behaal met sy droëlandmielies.
Die Roos-boerdery van Wonderfontein het die droëland-afdeling in die Oosstreek gewen. Die broers, Gerlu en Heinrich, ontvang hulle toekennings van Prabdeep Bajwa en Tony Esmeraldo van Corteva en Heinz
Oellermann van PIONEER®.

Elize Schutte was die wenner in die afdeling van sojabone onder besproeiing met haar 5,8408 t/ha.

Met droëlandsojabone het Gareth en Michael Allen van Middelburg uitstekend presteer met onderskeidelik 5,0483 en 4,8772 t/ha. In die Wesstreek het Heinrich Fouché van Potchefstroom gewen met 4,67 t/ha, in die Oos-Vrystaat Josef van Eeden met 4,2003 t/ha en in die Sentraal-streek, Barry van Wyk met 4,4178 t/ha.

Nog ՚n familiespan, Gareth en Michael Allen van Middelburg, het die hoogste droëlandsojaboonoes behaal.

In die afdeling vir sonneblom het Gerhard Knoetze van Wolmaransstad die toekenning ontvang vir sy 3,3727 t/ha. Fochville het sy merk gemaak met ՚n groep boere wat amper beurte maak om weg te loop met die pryse vir die Sentraal-streek vir mielies en sojabone. Op ՚n vraag of daar iets in Fochville se water of grond is wat hulle so laat presteer het Bernard Rabe (11,7440 t/ha mielies en 3,84 t/ha sojabone) skertsenderwys geantwoord: “Ons wen, want ons skryf in.”

Die manne van Fochville het toekennings ontvang vir mielies en sojabone. Barry van Wyk, Armand de Villiers, en Nardus en sy pa, Bernard Rabe sê hulle studiegroep vind baat by deelname aan die kompetisie.

Op ՚n ernstiger noot meen Armand de Villiers (11,0629 t/ha mielies en 3,7262 t/ha sojabone) dat dit vir hulle plaaslike studiegroep baie beteken dat die lede deelneem, want dit gee hulle die geleentheid om praktyke aan te teken en met mekaar te deel en om die resultate te meet. Dit is immers die doel van opbrengskompetisies: Om by mekaar te leer.

Vir meer inligting oor PIONEER®, kontak jou naaste saadhandelaar of besoek www.facebook.com/pioneerseedsa/. Meer inligting oor die Weeg en Wen Kompetisie is op www.weegenwen.co.za.

So lyk ՚n span PIONEER® Weeg en Wen-wennerboere!

pioneer

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Aerobotics vat voor in gewasmonitering

Agri-Expo Livestock en die Groot Plaasproe bars uit sy nate