in

Pas op! Inkbessie kan jou vee afskryf

Die inkbessie (Cestrum laevigatum) is een van ‘n verskeidenheid indringerplante wat besig is om Suid-Afrika se natuurlike weiveld te verwoes.
Twee jaar gelede het die Departement van Landbou begin met ‘n veldtog om die stadsraad van Potchefstroom te help om indringerplante uit te roei, maar dit was nie orals ewe geslaagd nie, soos dié inkbessies langs die muur van die stadsraad se kwekery getuig!
Soos vele ander gevaarlike indringerplante, het die inkbessie ‘n skyn van onskuld met sy pragtige geel-groen kelkblomme.
In die noordelike dele van die land vorm die inkbessie ‘n struik van 1 tot 2 m hoog, maar aan die kusstreke van Natal en die Kaap kan dit die vorm van ‘n boom aanneem wat tot 5 m hoog kan groei.
Hulle groei in vrugbare en onvrugbare grond, hulle plant maklik voort, het pragtige geel blomme en hulle vergiftig ons diere! Die inkbessie (Cestrum laevigatum) is een van ‘n verskeidenheid indringerplante wat besig is om Suid-Afrika se natuurlike weiveld te verwoes.
 
Die plant is nie net ‘n probleem weens sy vinnige verspreiding nie, maar ook omdat sy blare en bessies giftig is en tot vrektes onder skape, bokke en beeste kan lei. Selfs kinders het al gesterf nadat hulle die groen bessies geëet het.
 
Die meeste gevalle van inkbessievergiftiging kom in Junie en Julie voor wanneer die bessies nog groen is en weiding skaars is. Boere moet dus nou optree om die pes beveg, voor dit nog ‘n seisoen se ellende kan veroorsaak.
 
Attie en Elrina Juyn wat in die Potchefstroom-omgewing naby die Vaalrivier boer, het ‘n hulpkreet na ProAgri gestuur in ‘n poging om boere en ander instansies bewus te maak van die gevaar.
 
Elrina skryf: “Kromdraai en groot gedeeltes van die Koepel (ja, die bewaringsgebied) het kanker! Ons het die afgelope jaar-en-‘n-half al R14 000 bestee aan die gif en diesel waarmee dit gemeng moet word.”
 
Soos met die bestryding van die meeste indringerplante is die kern van die probleem dat nie almal saamwerk nie. Dit help nie een boer doen sy plig en die voëltjies, wat hulle nie juis aan heinings steur nie, dra maar net weer die bessies oor die plaas se grens nie. Net so help dit ook nie dat die boere uit hulle pad gaan, maar die stadsrade en ander owerhede is laks nie.   
 
Elrina som dit so op: “Ek voel in hierdie stadium oorweldig deur die omvang van die toestand en voel ons voer ‘n verlore stryd. Solank daar op buurplase (en langs die pad!) van die plante in massas blom, word die bessies soos ‘n veldbrand deur voëls versprei en jy begin telkens maar net weer van voor af.”
 
Roei die indringers uit
 
Mnr Piet Theron van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op Potchefstroom het in reaksie op ‘n navraag van ProAgri gesê hy is bly dat die media begin om die oorlog saam te veg. Hy het onlangs in ‘n artikel in die plaaslike koerant, die Potchefstroom Herald, ‘n ernstige pleidooi gerig dat Verklaarde Onkruid en Indringerplante (VOI) uitgeroei moet word.
 
Hy sê: “Ingevolge die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne,1983 (Wet 43 van 1983) mag geen VOI op enige grond voorkom nie en dit sluit stadsgebied in. Aangesien die Departement die uitroei van VOI in ‘n ernstige lig beskou, is daar alreeds met die uitreik van kennisgewings ingevolge die Wet begin en word daar beplan om aansienlik meer kennisgewings uit te reik waar grondgebruikers nie die plante uit eie beweging beheer nie.”
 
Grondeienaars wat nie hierdie plante uitroei nie, maak hulleself skuldig aan ‘n misdryf, maar mnr Theron sê hy wil eerder mense se samewerking hê as om hulle met vervolging te dreig: “Die Departement hoop en vertrou dat alle grondgebruikers sal saamwerk om hierdie plante vrywillig uit te roei aangesien dit reeds ‘n nadelige invloed op die landbougrond in die distrik het. Die voorkoms van inkbessie langs die Vaalrivier neem alreeds ernstige afmetings aan en boere verloor jaarliks beeste as gevolg daarvan.”
 
Ken jou vyand
 
Hildegard Klein van die LNR se Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming skryf in ‘n inligtingstuk wat in 1986 uitgereik is, dat die inkbessie toe reeds versprei het na dele van die Kaapprovinsie, Kwazulu/Natal, die sentrale en suidelike dele van Transvaal, die Noord-Vrystaat, asook Swaziland en Zimbabwe.
 
Die plant is van Brasilië af ingevoer om as heiningsplant en windskerm aangeplant te word, maar dit het in die veld versprei.
 
Die vrugte en bas van inkbessie bevat die gifstowwe, saponien en setrumied, wat hoofsaaklik in die jong lote met blare, asook in die jong groen bessies, gekonsentreer is.
 
Chase Valley-siekte, ‘n siektetoestand by beeste wat gereeld in die Chase-vallei naby Pietermaritzburg voorkom, word toegeskryf aan die inname van inkbessies. Diere wat groot hoeveelhede inkbessies vreet, vrek gewoonlik skielik en sonder waarskuwende simptome.
 
Die inligtingstuk beskryf inkbessie-vergiftiging soos volg: “Akute vergiftiging gaan gewoonlik gepaard met buikpyn, tandegekners, pogings om die buik te skop of met die horings by te kom, kwyling, tranende oë, ‘n kromgetrekte rug, ‘n wankelende gang, versnelde asemhaling, swak polsslag, toenemende swakheid en soms gelerige oogbindvliese en slymvliese.
 
“Net voor die dood word die worsteling en skoppery erger en die dood tree gewoonlik in na 4 tot 12 uur. In die geval van minder akute vergiftiging is die simptome minder ernstig en die toestand kan na 3 tot 4 dae verbeter.” 
 
Kry jou wapens
 
Geen boer of regdenkende grondeienaar kan tog ‘n onskuldige dier so ‘n wrede lyding toewens nie, daarom moet elkeen saamwerk vir doeltreffende beheer van die pesplant wat dit veroorsaak. 
 
Mnr Theron sê: “Met doeltreffende beheer word bedoel dat geen saadvorming mag plaasvind nie. Die maklikste metode is om as eerste fase slegs die plante naby die grond af te sny. Die tweede fase is om die plante algeheel uit te haal. Waar grondtoestande of gebrek aan arbeid dit moeilik of onmoontlik maak om die plante heeltemal uit te haal, kan die afgesaagde stompe net so gelaat word op voorwaarde geen hergroei toegelaat word nie. Deur alle hergroei gereeld af te sny voordat dit 500mm oorskry, sal die wortelreserwes van die plante mettertyd uitgeput word en sal dit later doodgaan.”
 
Daar is wel gifmiddels teen inkbessie geregistreer, maar navorsing is aan die gang om die gifmiddels te verbeter sodat dit makliker aangewend kan word. Tans moet die middels deur stamaanwending toegedien word. In praktyk behels dit dat elke plant eers afgesaag moet word voordat die middel aangewend word.
 
Die proses is nie maklik of goedkoop nie en daarom is dit belangrik dat ‘n hele gebied van ‘n kant af skoongemaak moet word.
  
Dit is òf dit, òf die alternatief soos deur Elrina uitgespel: “Party boere gee net moed op met veeboerdery. Inkbessie se gif is verskriklik gevaarlik.”

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Maak-water-goedkoop-warm

Wat beteken insekdodergroepkodes?