in ,

Orthman sny deur kostes

This post is also available in: English

՚n Drastiese vermindering van twee-derdes in hulle brandstofrekening gaan sorg dat die Du Preez’s van Grootpan naby Lichtenburg nie gou weer terugkyk nie. Die Orthman 16-ry XD 1tRIPr het sy plek in die boerdery oopgesny met groot besparings van tyd en koste.

Kobus en sy seun, André, het verlede jaar kort na strooptyd op die groot stap besluit om oor te skakel na minimumbewerking. Na vele gesprekke met kundiges en ՚n besoek aan ՚n strookbewerkervoorloper, Christo Cronjé van Vrede, het hulle besef strookbewerking met Orthman-tegnologie is die pad om te loop.

André sê vroeër het hulle soveel bewerkings gehad dat hulle teen die tyd wat die spuite en die stroper deur is, is tot 90 liter brandstof per hektaar gebruik het. Nou gebruik hulle omtrent 31 liter per hektaar.

Die nuwe bewerkingstegnologie het ՚n groot kopskuif tot gevolg gehad. “Ons is in die diep kant ingegooi,” vertel André.

 ՚n 16-ry Orthman XD 1tRIPr met sy eie kunsmistoedieningstegnologie is bestel en het in Oktober op die plaas aangekom – amper twee maande nadat hulle normaalweg met bewerkings sou begin het.

André sê hulle het gou ՚n paar lesse geleer en is ook besig met ՚n paar proewe en eksperimente. Die eerste les was dat die Orthman vertrou kan word om al die werk self te doen.

Hulle het na strooptyd, soos altyd, onder die spilpunte gesny en die grond te sag gemaak vir die swaar masjien. Die mielies is ewe diep van bo af geplant maar die grondoppervlak was nie meer presies gelyk nie.

“Die masjien soek eintlik ՚n harde kors om lekker te werk,” sê André.

In die droëlande het André ook proewe gedoen met gesnyde en ongesnyde lande en die groei in al die rye lyk baie goed. Die stroper sal die syfers gee, sê hy.

In die koringlande is daar ook proewe gedoen. Tradisioneel is die koringstoppels gebrand voor die volgende bewerking. Van die lande is gebrand en ander is gelos met net die strookbewerking en plant in die stroke en André sê die resultate lyk belowend. Brand is op pad uit!

Dit was verseker nie ՚n maklike landboujaar nie. Daar kon eers van 17 Desember af regtig geplant word. “Ons het mielies geplant tot Kersfees, toe suiker- en witbone tot 12 Januarie en daarna het ek my eerste sonneblomme geplant,” vertel André.

Só werk die Du Preez’s van Grootpan wyd, vinnig en volhoubaar.

Alles is met strookbewerking gedoen, wat gehelp het dat die kort plantvenster behoorlik benut kon word. Die plantstroke is perfek voorberei vir presisieplantwerk. Synde ook hoenderboere, gebruik André ook hoendermis as biologiese bemesting en die XD 1tRIPr kon die mis deeglik in die stroke inwerk waar dit kans het om te ontbind totdat die wortels dit nodig het. 

Die stroke word tussen 300 en 350 mm diep bewerk en die kunsmisplasing is van 200 mm af boontoe. André het ook ՚n meganiese verandering aan die kunsmisplasers aangebring om bykomende kunsmis net onder die grondoppervlak te plaas.

Die Orthman pas soos ՚n handskoen in die Du Preez’s se presisieboerdery. Die twee massatenks op die waentjie kan afsonderlik gekalibreer word en dan is dit ook moontlik om seksiebeheer toe te pas op elke vier rye. André sê hy het die een tenk gestel om ՚n konstante 200 kg kunsmis per hektaar te plaas en die ander tenk is gebruik vir wisselende toediening volgens die presisiekaarte.

Die Orthmann het sy eie satelliet-ontvanger en kan homself ook rig vir verdere fyn verstellings. As die trekker dit sou waag om van die spoor af te wyk, kan die Orthman met sy stuurbare wiele onder die kunsmistenks sorg dat die stroke gemaak word waar dit hoort.

André se plan is om elke jaar net langs die vorige jaar se strook te werk om bladvorming te help voorkom.

“Hierdie jaar het dinge bietjie vinnig gebeur, maar ons is reg vir die volgende seisoen en ons is baie tevrede met ons besluit. Brian Nieuwoudt-hulle se diens is ook goed. Hulle het die masjien in ՚n rekordtyd op die plaas aanmekaar kom sit en ingestel en daar is nie probleme nie,” sê hy.

Kry meer inligting oor die voordele van strookbewerking by Brian Nieuwoudt by 076-283-0766 of 011-396-1629 of bnieuwoudt@orthman.com. Besoek ook www.orthman.com

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

meadow

Meadow maak veilige voer

Bestuur arbeid met die oog op volhoubaarheid