in

Oorwintering van herkouers: Voer oordeelkundig en boer doeltreffend

This post is also available in: English

Die winter het die land in ‘n stewige greep beet en ryptoestande is volop. Die onvoorspelbaarheid van die natuur bied altyd uitdagings en kan selfs ervare boere laat kleitrap. Dit is daarom van die uiterste belang om versigtig om te gaan met wat die weerprofete sê.

Boere wat pro-aktief optree, sal die vrugte pluk in die vorm van kostebesparing en beter produksie.

Die uitdagings wat die wintermaande vir veeboere inhou, kan maklik oorkom word as ’n boer regdeur die jaar daarvoor beplan. Uitdagings waarvoor boere voorsiening moet maak is die gehalte en hoeveelheid beskikbare veld wat in die wintertydperk beskikbaar gaan wees, veldbrande, ongewone lang winters, asook die produksieteikens wat
behaal moet word om vooruit te boer.

Soos die wyse gryses altyd sê, jou planne moet nooit opraak nie. ProAgri
het op grond van gesprekke met voedingkundiges die volgende moets
en moenies van voervloei, voerbehoeftes en praktiese riglyne saamgestel om oorwintering so prakties en ekonomies as moontlik aan te pak.

Die tydsberekening vir die uitplasing van winterlekke is van die uiterste
belang. Kennis van die bestaande voedingsbronne, om sodoende die regte
aanvullings vir jou diere te gee om tekorte aan te vul, is die wenresep om
vee so te laat oorwinter, dat hulle hulle kondisie behou en die langtermyn doelwitte vir reproduksie kan bereik.

Reёnval in Suid Afrika 27 Julie – 3 Julie 2021.

Lekprogramme en lekinname

Een van die belangrikste faktore as dit kom by hoeveel voer voorsien moet
word, is die feit dat voerinname die grootste drywer van veeproduksie is.
Ná die eerste ryp verlaag die voedingswaarde van die veld drasties en dit
bestaan dan hoofsaaklik uit vesel. Lek kan die voedingswaarde aanvul.
Voorsien dus ՚n goeie proteïenlek sodra die eerste ryp val. Lekinname is ook ՚n goeie aanduiding van ruvoergehalte en beskikbaarheid.

Hoe swakker die ruvoer of beskikbaarheid daarvan, hoe hoër is lekinname by herkouers. Lek kan ՚n groot deel van ՚n boer se insetkoste uitmaak, maar
indien lek oordeelkundig gebruik word, is dit baie kostedoeltreffend. Dit is dus belangrik om ՚n goed beplande lekprogram te volg. Dit is belangrik om in ag te neem dat lek slegs dien as ՚n aanvulling tot die beperkende voedingstof of voedingstowwe van weiding. Dit is nie ’n voer nie. Lek word slegs aanbeveel wanneer daar voldoende weiding of ander ruvoer beskikbaar is.

Handhawing van liggaamskondisie

Die ekonomiese handhawing van liggaamskondisie is van kardinale
belang in enige oorwinteringsprogram. Herkouers skep energie uit die vertering van voer, maar hulle benodig ook voldoende proteïene om die rumenmikrobes te voed wat help om die voer te verteer.

Om die voerbehoeftes van die vee en die voerbeskikbaarheid van die verskillende voerbronne bymekaar te bring, is die terme droëmateriaal (DM) en droëmateriaalinname (DMI) geskep. Dit is die waarde van die voer waar die effek van vog en ’n paar ander aspekte uitgehaal is en die ruvoerinname van die dier kan hiervolgens gebalanseer word.

Oorwintering van vee bly vir enige veeboer een van die grootste uitdagings. Die volgende riglyne of beginsels is belangrik:

  • Voldoende hoeveelhede ruvoer in die vorm van gespaarde veld is ՚n voorvereiste vir suksesvolle oorwintering van vee op wintersveld.
  • Aanvulling moet reeds so vroeg soos middel Maart plaasvind, selfs vroeër afhangende van seisoene. Deur diere gereeld te weeg, kan presies bepaal word wanneer groei stilstaan of gewigsverlies intree.
  • Aanvulling op wintersveld moet nie gestaak word na die eerste reën nie, maar eers wanneer genoeg vreetbare materiaal in die lente beskikbaar is dat lekinname drasties daal.
  • Wanneer ՚n nie-proteïen stikstof of NPN soos ureum as proteïenbron gebruik word, is ՚n beperkte energie aanvulling noodsaaklik om die beste benutting van ureum te bewerkstellig.
  • Wanneer ureum in winterlekke gebruik word, bly dit voordelig vir liggaamsmassa en ekonomies om ՚n klein hoeveelheid ammoniumsulfaat by te voeg.
  • Indien winterweiding volumegewys ՚n probleem is, raak betyds ontslae van ou en surplus vee.
  • Kry jou kontantvloei reg en sorg vir die kernkudde. Dit is belangrik om te besluit watter diere is die produserende diere en om hulle in die beste moontlike kondisie te hou.

Goeie veldbestuur bly die sleutel tot sukses vir oorwintering in die somerreënvalgebiede van Suid-Afrika. Dit is belangrik om die dieregetalle elke jaar aan te pas by die klimaatsomstandighede sodat jou kernkudde se
kondisie behoue bly, langlewendheid verseker kan word en langtermyn reproduksiedoelwitte bereik kan word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Vleispryse tel kop op na uitdagende jaar

JDLink™ doen die skakelwerk vir jou – gratis