in ,

Ontmoet Starke Ayres se staatmakers en nuwelinge

This post is also available in: English

Gietende reën kon geen demper plaas op Starke Ayres se boeredae op hulle proefplaas naby Bapsfontein nie. Die modder het stap deur die lande verhoed, maar al die produkte is mooi netjies in ’n groot markiestent uitgestal en die boere en produkkundiges kon lekker kyk, voel en gesels.

ProAgri het ook deurgestap en uitgevra en dit is wat ons uitgevind het:

Suid-Afrikaners verkies steeds oranje spanspekke en Starke Ayres het ’n volledige reeks vir aanplantings deur die jaar. Riaan Duvenhage, produkspesialis, sê vir somerdrag bly CYCLONE die staatmaker, vir lente en herfs kan boere na GOLDELIXER kyk en vir winterdrag is TOUCHDOWN ’n goeie keuse.

’n Nuwe spanspekkultivar wat bekendgestel is in die kanariespanspekkategorie, is CRISPY PEAR met ferm vleis, ’n goeie raklewe en ’n hoë suikergehalte. Vir die meer Galiatipe is KIRENE ’n goeie keuse, met ferm vleis, ’n goeie raklewe en ’n heerlike geur. Al die variëteite het weerstand teen grondgedraagde fusarium-siekte en poeieragtige meeldou.

By die waatlemoene is die grootste en gewildste kategorie steeds die langwerpige All Sweet-tipes. Riaan sê die ou staatmaker STAR 9906 is steeds beskikbaar en bly gewild, TURBO is ’n nuwe, swaarder variëteit en dan is SANTA MATILDE, mediumgroen met ligte strepe, die nuutste een wat nou die mark betree.

Starke Ayres het ook ’n reeks pitlose waatlemoene, waarvan ARAMIS die grootste vrugte dra, maar boere kan ook kyk na die ovaalvormige EMBASY wat bietjie ligter is, en die effens kleiner een, BOSTON.

In die suide met langer daglig bly CRIMSON SWEET ’n goeie keuse, CARINA werk baie goed vir die midseisoen en AUDRY met sy vinnige groei vir die vroeë seisoen, en dan is daar ook ’n nuwe variëteit met ’n ekstra groot vrug, AKSENT.

 In die noorde is TIGER baie gewild omdat dit tot 10 dae gouer dra as die ander. Dit kry ook nie maklik sonbrandskade nie.

 Riaan sê hoewel die grootste deel van die mark steeds groot waatlemoene vir die hele gesin verkies, is daar ’n groeiende mark vir kleiner vrugte wat maklik in die yskas pas. In die persoonlike reeks is die klein, ronde BOXY, van 4 tot 8 kg, gewild met sy ferm en geurige vleis.

Cobus de Beer is die wortelspesialis en hy sê vir die verwerkingsmark bly SAMBA met sy diep oranje kern ’n goeie keuse, so ook CHISTIANA en TATIANA wat albei vinnig ontkiem en groei. ’n Nuwe variëteit met ’n uitgebreide siekteweerstandpakket is CA 758 wat eersdaags kommersieel beskikbaar sal wees.

Vir die varsmark, asook supermarkte met n verskeidenheid van verpakkingsbehoeftes, is die elegante SOPRANO steeds die gewildste variëteit. Dit presteer uitstekend en is aanpasbaar in verskeie areas regdeur die jaar. Nuwe variëteite is SPEEDO, ’n vinnige groeier soos sy naam aandui, en SUBITO, wat van Februarie tot einde Oktober geplant kan word. Albei variëteite beskik oor uitstekende eenvormigheid en ’n uitgebreide siektepakket.

In die beetmark is een van die nuwe proefvariëteite wat bekendgestel is, BT156. Cobusde Beer sê dit is ’n mooi ronde beet, dieprooi met ’n gladde skil, ’n dun wortelaanhegting en ook ’n sterk lofaanhegting wat nie te groot is nie. 

 Starke Ayres het ook vir die spesialismark ’n geel beet en ’n gestreepte (candy striped) variëteit beskikbaar.

By die botterskorsies het Gerhard de Beer MELORA bekendgestel. Dit is bedoel vir die varsmark: aan die kleiner kant, maklik om te verpak, baie eenvormig en die gehalte van vleis is baie goed.

SHIBA bly ’n staatmaker: jy kan sorteer vir die varsmark of vir verwerking; hy dra ’n vrug van 800 g tot 1,5 kg. Plantestand het ’n groot invloed op die grootte van die vrugte.

GILDA is bedoel vir die verwerkingsmark; die vrug is in die vorm van ՚n blok met minder dele wat verlore gaan. KRISTA is ook jonk in die mark. Teen ’n stand van 12 000 plante p/ha sal jy lekker groot vrugte met diep oranje kerns kry vir verwerking.

Die pampoenmark is ook verdeel in die sakmark en verwerkingsmark. John Herbert, die produkspesialis, sê boere wat per getal in sakke verpak kan gerus kyk na STAR 7022 en STAR 7028. Die pampoene het ’n groter saadruimte binne en vul die sak gouer sonder dat dit te swaar is.

As die pampoene per gewig verkoop word, is STAR 7026 ’n beter keuse. Die pampoen is platter maar swaarder, wat beteken jy verpak meer kg per vrag. ’n Nuwe variëteit wat ook aan die vereistes voldoen, is *PK 268 wat volgepak is met vleis.

Die nuwe *PK 266 is weer uiters geskik vir die varsmark. Dit het ’n klein saadholte, is nie ’n baie groot pampoen nie, maar vertoon baie aantreklik met ’n diep oranje kleur wat veral goed werk as dit in skywe verpak word.

Tamaties bied die grootste verskeidenheid keuses vir oopland- en tonnelboere en boere se keuses word gerig deur die siektepakket, vruggrootte en opbrengste.

Theo BekkerSTAR 9081 bly die saladette waarvoor almal vra, maar daar word gewerk aan ’n opvolger met meer siekteweerstand.

Vir die varsmark bly STAR 9037 gewild, maar daar is ook nou ’n opvol-ger op pad met meer weerstand teen fusarium en ToCSV.

Tonnelboere kan uitsien na twee nuwe kultivars, RENKA en *TF 3798, wat nou kommersieel beskikbaar sal wees. Albei het ’n onbeperkte groeiwyse met baie kragtige groei, goeie weerstand en drag en presteer beter as ander in die tonnels.

*TF 4633 is ’n nuwe geel kersietamatie wat na vele aanvrae nou kommersieel beskikbaar gestel gaan word, SAMANTHA bly gewild vir sy smaak en *BR 5388 is ’n nuwe snoeptamatie (cocktail tomato) wat groter is as die gewone kersietamatie.

*BR5974 is ’n nuwe varsmarktamatie met robuuste groeiwyse en mooi ronde, gladde vrugte.

Die gewildste eiervrug bly VIOLET MOON. ’n Groot rede vir sy gewildheid is dat hy nie dorinkies by sy aanhegting het soos ander kultivars nie, so die skille word nie gekrap met kop teen toonverpakking nie. Hy vat ook lank om pitte te maak, so die vleis bly lank sag en lekker.

By die soetrissies is DIVA die kultivar wat Theo baie opgewonde maak. DIVA verkleur na geel en presteer goed buite en in tonnels. STAR 6657, wat na rooi verkleur, is ook ’n goeie keuse, met ’n goeie siektepakket vir ooplanverbouing.

By supermarkte bly die aanvraag na kleiner rissies vir robotverpakking hoog, maar die verwerkingsmark verkies steeds groot rissies.

 By die brandrissies is TRACER besig om homself stewig te vestig teenoor STAR 6604. Dit gaan veral oor sy eenvormige donkerder groen kleur.

Pieter Venter by die slaaikoppe het MUSKETEER en WELLTON uitgelig vir somergroei. Albei het goeie hitteweerstand. Hy sê COMMANDER presteer ook goed in die noordelike streke en vir die winter kan boere kom gesels oor PLUSKIN.

 In die spesialiteitslaaie is daar ’n hele reeks van albei kleure wat regdeur die jaar geplant kan word beskikbaar, van akkerblaarsoorte tot dié met meer krulle en frille.

 Pieter sê KILIMO’s ’n nuwe somerkool wat baie eenvormig is en veral gewild behoort te wees by die kettingwinkelgroepe. SAPPHIRE en STAR 3316 staan uit met goeie hitteweerstand en uitstekende swart-vrotweerstand.

In die spesialiteitsreeks is die rooikop kool, RUBY BALL, die mini-staatmaker en RED QUEEN die mediumgrootte ster, en vir groen babakool kan boere kyk na PERFECTION CROSS en FAST CASH. In kombinasieverpakking met die rooikoppe vertoon albei baie mooi.

By blomkool is STAR 4418 uiters geskik vir verpakking en CROSSWAY gaan die nuwe winterblomkool wees met ’n sterk raam en goeie siektebeskerming.

In die broccolimark is STAR 2204 ’n goeie keuse vir verbouing regdeur die jaar. TOPAZ, vir die verpakkingsmark, sal weer volgende somer beskikbaar wees. Boere moet ook met hulle verteenwoordigers praat oor die nuwe winterreeks wat nie by die somerdag vertoon kon word nie.

 Hy sê teling vir genetiese weerstand teen swartvrot bly vir Starke Ayres ’n prioriteit, want daar is nie maklike chemiese beheer nie.

Boerie Erasmus is die groenbone- en suikermielieman. Party van die kultivars is verseker lekkerder as lekkergoed. ODYSSEY is ’n uiters gewilde nuwe variëteit wat uitstekende kwaliteit en opbrengs lewer. ASSEGAI is ’n ou staatmaker wat goed vaar in winter- en somervarsproduktemarkproduksie.

By die groenbone is daar heelwat nuwe ontwikkelingswerk aan die gang vir rankbone endaar is ’n aantal nuwe variëteite wat tans geëvalueer word en baie belowend lyk.

Onder die dikker bone (8 tot 10 mm) bly ou staatmakers soos STAR 2000 veral gewild vir die verwerkingsmark. STAR 2005 is ’n meerdoelige boontjie vir verwerking in die varsmark wat uitstekende opbrengspotensiaal bied.

STAR 2007 is ’n nuwe toevoeging tot die reeks. Die variëteit het ’n uiterste gekonsentreerde drag met goeie gel-retensie. Tans is dit ’n gunsteling vir verwerking en die varsmark.

Die fyn boontjies se saad word meesal in Oos-Afrika geplant vir uitvoere na Europa.

Die tweekleurige suikermielie, INFERNO, is op sy soetste en lekkerste net so rou. Dit is veral gewild in die Amerikaanse mark.

LEGACY is een van die beste verkopers in die VSA en die Wes-Kaap. Die mielie aard baie goed in langer dagliglengtes. Die hoër suikerinhoud beteken dat die raklewe redelik beperk is.

ODYSSEY is sterk meerkoppig, vaar goed in die varsmark en is ‘n sterk, skoon plant. In die winter, wanneer die mieliekoppe normaalweg kleiner is, is ENDEAVOUR gewild, want sy kop is groter, so dit werk goed vir die varsmark en in die somer word hy vir verwerking ingespan.

Nuwe kultivars wat op pad is, is SC 5217 en SC 5228. Albei is mooi silindries en eenvormig en smaak baie lekker.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

2019 Nasionale Begroting: Geen reddingsboei vir die landbou

Nuwe landbou-organisasie in landbou