in ,

Ontmoet die uitstallers

This post is also available in: English

ProAgri het by ՚n paar van die uitstallers op die skip gaan inloer. Die stalletjies is druk besoek en soos een van die uitstallers gespot het: “Hier op die skip kry ons hulle, hulle kan nêrens heen gaan nie.”

Hortec lewer gevorderde laboratoriumdienste aan veral vrugteboere om chemiese neerslagvlakke te meet en hulle nuwe elektroniese weerstasie, iLeaf, gaan boere help met pro-aktiewe besluitneming, sê John Stone.

World Focus se klem val op plantenergie en die biologiese bevordering van plantgroei. At van Schalkwyk sê die blootstelling op Seil Safari beteken baie vir die maatskappy. Hulle bied oplossings vir alle gewasse en werk vanaf Kaapstad tot in Malawi. By hom is Wimmie van Schalkwyk.

Elmarie Briedehann vertel dat StratTech sekuriteitstegnologie ontwikkel om oere te help om voorkomend op te tree. Een van die noodmiddels is ՚n paniekknoppie, LifeAlert, wat jy by jou dra en op enige plek jou posisie kan aandui en jou verbind met nooddienste. ՚n Unieke eienskap is dat die nooddiens ook deur die toestel met jou kan praat.

Metson World spesialiseer in plantvoeding, vanaf entstowwe vir saad tot oplossings vir grondtoediening en blaarbespuiting. Adri Truter is die besturende direkteur en DJ Vermaak is die tegniese man.

Tax Recoveries is ՚n maatskappy wat seker maak boere word nie deur SARS ingeloop nie. Eugene Roux sê hulle gaan kyk tot tien jaar terug om seker te maak daar is nie enige BTW-uitbetalings wat kort nie, en tot twee jaar vir dieselrabatte. Hulle help ook werkgewers om belastingvoordele te benut, soos met betrekking tot die aanstelling van jongmense.

Jaco du Preez en Nico Dreyer van New Holland sê hulle lees graag ProAgri. Hulle het seker gemaak die boere op die skip weet wat New Holland alles kan bied, ook met betrekking tot presisieboerdery. Seil Safarigangers kon ՚n trekker- en balerkombinasie teen ՚n spesiale prys bekom.

Bekostigbare kabels wat boere kan gebruik vir nethuise, heinings, krale en vele meer, is wat Mertech Cable & Wire op Seil Safari bekend gestel het. Jacques le Roux sê hulle kabels kom diep onder die see uit en sal beslis nie roes nie.

Noelene Mostert van Villa sê Seil Safari bied ՚n gulde geleentheid aan die maatskappy om met die boere in aanraking te kom en terugvoering te kry, aangesien hulle oesbeskermingsmiddels meesal deur verspreiders soos Laeveld Agrochem by die boere uitkom.

Die naam, Corteva, vir plaagbestuur, raak al hoe meer bekend onder Suid-Afrikaanse boere. Fanie van der Merwe, verkoopsbestuurder (regs) en Schalk Geldenhuys sê die regstreekse skakeling met die boere is van onskatbare waarde.

Almal weet daar is ՚n moontlikheid om geld terug te kry van die belasting vir dieselgebruik op die plaas, maar hoeveel boere kry dit regtig reg? FM (Fuel Management) Solutions bied die oplossing met ՚n stelsel wat jou verbruik meet en ՚n verslag gee wat deur SARS aanvaar word, sê JP le Riche. Lelanie Oosthuizen (links) het hom gehelp om met die boere te praat.

Die twee vriendelike dames van Agribonus, Adele Kleynhans en Hermien Bezuidenhout, het aan boere verduidelik wat is al die voordele wat hulle kan geniet as hulle deel word van die reuse lojaliteitskema. Boere verdien punte vir produkte wat hulle aankoop, wat hulle kan inruil vir afslag by Agribonusvennote.

Carl van Heerden en Marnus Ferreira het aan boere verduidelik hoe om presisieboerdery na die volgende vlak te neem, van die eerste grondmonster af tot volledige opbrengsinligting. ՚n Spesiale nuwe produk vir sitrusboere is snoeiskêrtjies wat elektronies rekord van elke vrug wat van elke boom geoes word kan deurstuur. Proewe word vanjaar vir die eerste keer in boorde gedoen.

Gerhard de Villiers en Tia Ferreira van Syngenta sê dit was vir hulle ՚n groot voorreg om die tyd op Seil Safari saam met hulle kliënte deur te bring. Syngenta is onder boere bekend vir hulle uitgebreide oesbeskermingsprogramme.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Laat Agri Frequencies jou plaas regdokter

՚n Kaapse wewervoël is ons fotokompetisiewenner