in

Ontdek Cape Made-nisprodukte as ideale kaas-pasmaats

Kaasfees
Agter: Johan Ehlers (Agri-Expo HUB), Dr Chris van Dijk (MPO HUB) en Anton Rabe (Hortgro Uitvoerende Direkteur). Voor: Isaacs (Wes-Kaap se Departement Landbou Departementshoof) en Letitia Prinsloo (Institute of Culinary Arts (ICA) prinsipaal).

This post is also available in: English

Die SA Kaasfees, wat van Vrydag 27 tot Sondag 29 April 2018 sy 17de bestaansjaar vier, plaas vanjaar ook ‘n kollig op nisprodukte wat saam met kaas vir uitsonderlike eet-ervaringe sorg.

Die Cape Made: Taste the Alternatives-uitstalling is waar die publiek nisprodukte soos bloubessies, granate, vye, heuning, neute en heuningbostee kan geniet. Meer as 40 uitstallers bekom hier, danksy ‘n vennootskap tussen die Wes-Kaap se Departement van Landbou (WKDL) en Agri-Expo, ‘n platform om hulle unieke produkte direk met die publiek te deel. Kos-entoesiaste kan hier proe-proe kom leer hoe waterwys produkte sampioene, hidroponiese kruie en rooibostee, hoe hoog in oksidante en veeldoelig granate is, asook hoe groenteboere op die Kaapse Vlakte grond maksimaal benut.

“In die landbousektor word daar deesdae al hoe meer verwys na alternatiewe gewasse as ‘n moontlike uitkoms vir veral kleinboere weens veranderde klimaatspatrone. Dit is belangrik dat landbourolspelers verenig in hierdie uitdagende tye en daarom is ons opgewonde oor die samekoms van twee vennote wat hier sy-aan-sy werk aan die bevordering van landbou,” sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo.

“Hierdie is ‘n wonderlike geleentheid om onder die kaas-vaandel te verenig,” meen Joyene Isaacs, Departementshoof van die Wes-Kaap se Departement van Landbou. “Die inisiatief bied aan die Wes-Kaap se Regering ‘n waardevolle platform om sy verantwoordelikheid om blootstelling te bied aan produsente van primêre sowel as verwerkte landbouprodukte, na te kom.”

Kookboek sal inspireer

‘n Opwindende toevoeging tot hierdie uitstalling is die Cape Made Kombuis waar sjef Selwyn October van die Institute of Culinary Arts (ICA) spesiaalontwikkelde waterwysresepte demonstreer – met kaas wat vernuftig saam met nisprodukte soos heuning, granate, persimmons, rooibos en grenadella ingespan word. Hierdie resepte, geïnspireer deur ICA-oudstudente Herman Lensing, Zola Nene en Johnny Hamman, is saamgevat in ‘n resepteboek wat gratis by die fees beskikbaar sal wees danksy ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die Melkprodusente Organisasie (MPO), Hortgro, WKDL, ICA en Agri-Expo.

“Die MPO, as verteenwoordiger van SA se melkprodusente, glo dat kaas melk se sprong tot immortaliteit is,” sê Dr Chris van Dijk, MPO se HUB. “Laat ons, ons kulinêre grense verbreed deur ʼn wyer verskeidenheid kaas op meer wyses te geniet. Hierdie resepteboekie sal verbruikers help om juis dit te doen!”

Datum, tyd en kaartjies

Die SA Kaasfees vind plaas oor die Vryheidsdag-langnaweek van Vrydag, 27 April tot Sondag, 29 April 2018 op die plaas Sandringham buite Stellenbosch. Kaartjies is beskikbaar by enige Computicket, Shoprite of Checkers winkel teen R180 per persoon per dag.  Senior burgers betaal R120 en kinders van die ouderdom 2 tot 13 jaar betaal R20 per persoon per dag.  Geen kaartjies sal by die hekke te koop wees nie. Die feestye is daagliks van 10:00 tot 18:00.  Sandringham is gerieflik langs die N1, Stellenbosch afrit 39, tussen Kaapstad en Paarl geleë.

Besoek www.cheesefestival.co.za, kontak Agri-Expo by tel 021-975-4440 of e-pos: admin@agriexpo.co.za vir meer inligting. Vir kompetisiebesonderhede en programhoogtepunte, volg die SA Kaasfees op Facebook (Cheese Festival), Twitter (SACheeseFest) of Instagram (sacheesefest).

SA Kaasfees
Werlise Rautenbach (links) en Lindy van Schalkwyk (regs), derdejaarstudente aan die Institute of Culinary Arts (ICA) met amandelroom-profiteroles waarvoor ‘n resep in die Cape Made Kitchen Taste the Alternatives-resepteboek ingesluit is.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Kaasfees

SA Kaasfees ‘n uitsonderlike geleentheid vir klein kaasmakers

Sagtevrugte-verenigings verander naam