in ,

Só oes ons boere woorde op die land van ons taal

Die oumense het die eerste stropers “oesdorsmasjiene” genoem omdat dit die koring afgesny én die korrels uit die are verwyder het. Hierdie eerste modelle het die skoon koring in sakke getap wat met die hand toegewerk is. Agterna moes ’n wa die vol sakke op die land kom oplaai om aan te ry skuur toe.

This post is also available in: English

’n Interessante vraag is onlangs op ’n bakkiesbladlandbougroep gevra: Wat is die verskil tussen oes, dors en stroop?

Tipies van ons boere het die vraag vele pittige en grappige reaksies ontlok, maar ook net soveel sinvolle en korrekte antwoorde. Hierdie saak kan van vanuit twee kante beredeneer word: Taalkundig en landboukundig.

Oes

Oes beteken om enigiets in te samel. In die letterlike sin word ryp gewasse soos graan, vrugte en druiwe geoes, maak nie saak op watter manier en met watter soort toerusting dit ingesamel word nie – pluk (mieliekoppe, vrugte, waatlemoene, pampoene, druiwe), sny (koring, druiwe, hooi, blomme, spinasie), afkap of –saag (bome vir hout), raap (sout), stroop (graan), uittrek (uie, wortels)… Figuurlik kan ’n mens ook dinge soos roem, eer, oorwinnings, toekennings of sertifikate inoes.

’n Volwaardige moderne stroper oes en dors nie net die graan nie, hy vertel jou ook wat die voggehalte van die graan is, hoeveel hektaar jy gestroop het, hoeveel ton per hektaar jy behaal het en watter bemesting jy die volgende seisoen moet toedien… en hy hou jou koeldrank koud.

Dors

In ’n landboukundige sin is dors die proses om die korrels uit die are, die mielies van die stronke of die pitte uit die peule te vryf, slaan of trap. Hieroor behoort meer gepraat te word, want in die goeie ou tyd was sweet, seer rûe en rou hande kernkenmerke van oestyd op die plaas.

Die taai oumense het koring met sekels afgesny, dit in gerwe gebind en met waens uit die lande na die trapvloer of dorsvloer aangery. Op die trapvloer is die gerwe oopgesprei en donkies of muile is al in die rondte daaroor gejaag om die korrels uit die are te trap. As jy minder graan gehad het om te dors of as daar nie perde, donkies of muile byderhand was om die trapwerk te doen nie, is die graan met stokke, genaamd vleëls, uit die are geslaan. (Die lusernboere sal weet dat die rubbervingers van ’n vingerkneuser vandag ook vleëls genoem word. Dit slaan die lusern stukkend sodat dit vinniger kan droog. Die groot masjiene waarmee wyndruiwe geoes word se slaners word ook vleëls genoem.)

Sodra die boer uit ervaring reken al die korrels is uitgetrap, het almal nadergestaan en die getrapte spulletjie met gaffels in die lug opgegooi. As die wind reg gewaai het, het dit al die ligter kaf weggewaai sodat die swaarder korrels op die dorsvloer kon terugval waar dit later opgetel kon word. Hierdie proses is “wan” genoem en as die wind nie sterk genoeg gewaai het om die graan ordentlik te wan nie, het die oumense geglo dat hulle moes fluit om die wind te roep. Partykeer het dit gewerk. Wan is presies ook wat die waaiers van vandag se moderne stropers doen – blaas die ligte materiaal weg sodat die korrels of pitte na onder op die stroper se siwwe beland waar dit verder skoongemaak word. Na die dorsvloer se tyd het die dorsmasjien gekom en dit was ’n groot aardigheid en algemene opgewondenheid as die dorsmasjien op ’n plaas aangekom het.

Die dorsmasjien het op een plek gestaan en die koringgerwe is na hom aangery. Na aanleiding van die ou trapvloer het boere dikwels die dorsmasjien ’n “trapmasjien” genoem omdat dit presies dieselfde werk doen as die donkies, muile en wangaffels van die trapvloer. Mieliekoppe is met die hand gepluk en in sakke na die dorsmasjien vervoer.

Die eerste dorsmasjiene is deur massiewe stoomenjins aangedryf en die stoomenjins is met die mieliestronke wat klaar gedors is gestook. Uit die dorsmasjien is die mieliepitte of koringkorrels in sakke getap, netjies toegewerk en op waens gelaai om skuur toe aan te ry. Daar was nog nie graansuiers nie en alle graan is in sakke in skure geberg.

Vir die kinders was dorstyd ’n wonderlike tyd. Hulle het hulle aan die stoomenjin en dorsmasjien vergaap, op die kafhoop baljaar en hoog bo-op die gestapelde sakke op die wa saamgery. As jy saans in die bad klim, het dit vir ’n paar oomblikke soos vuur gebrand oral waar die kaf jou vel ’n bietjie gekarnuffel het, maar moenie dink dit gaan jou verhoed om môre weer tonneltjies deur die kaf te grawe en daarin weg te kruip nie. Na die gerwesnyery en handplukkery het oeswerk ’n lang en interessante pad van tegnologie-ontwikkeling geloop met osgesleepte sekellemsnyers, selfbinders en uiteindelik die stoomenjins en trapmasjiene tot by die moderne stroper.

Stroop

Vandag se woordeboekskrywers is meestal ou sawwehandjiemannetjies wat min weet van mansgoed soos masjiene, tegnologie en boerdery. Daarom is stroop as werkwoord vir die nuwe HAT se opstellers net wild steel, plunder of die blare van ’n boom of groenmielie aftrek. (Laat ons maar net dankbaar wees hulle weet darem wat ’n boom en ’n mielie is.)

Pharos se opstellers besef darem dat “stroop” ook kan beteken: “Graan/koring/hawer/mielies met ’n stroper oes”. Die hedendaagse indrukwekkende stropers doen maar presies wat die oumense gedoen het – net makliker, vinniger en meer gemeganiseerd.

Die Ingelse noem immers ’n stroper ’n “combine harvester”, wat bloot beteken dat dit al die oeswerk in een beweging doen: die graan afsny of die mieliekoppe pluk, dors (die korrels uit die are of die pitte van die stronk of sonneblom af of die bone uit die peul haal) en wan (die kaf van die korrels skei). Daarna maak ’n stel siwwe die graan verder skoon.

Talle boere het natuurlik presies die regte antwoord gegee, maar soos ons boere is, het die humor nie uitgebly nie. Van die pittige antwoorde wat ontvang is, is:

  • As ons dors is stroop ons al die drank uit die kelder uit en drink totdat ons oes voel.
  • As die stroop mooi loop en die oes is groot gaan die dors aan jou vat en te veel stroop gaan jou oes laat voel.
  • Wanneer jy DORS is en jy gooi ’n lekker dop en hy loop soos STROOP en jy moet dan later by die huis kOES vir die koekroller.
  • As ’n boer stroop en oes word hy dors!
  • As ek “dors” is drink ek, daar na “stroop” ek my van al my probleme en môreoggend oes ek die vrugte van al my dade! Nie altyd in dieselfde volgorde nie…
  • So het ons voorouers koring wat hulle met die hand met sekels gesny en in gerwe gebind het, op die wa gelaai om aangery te word dorsvloer of trap-vloer toe.

Sluit gerus aan by die bakkiesbladgroep, Landbou Sosiaal, en gesels, skerts en leer saam met ander boere. As jy wil kyk en luister hoe gesellig die oumense in 1953 koring gestroop het, volg hierdie skakel: https://www.youtube.com/watch?v=C-5PnlBwo1k

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

malva-poeding

Maklike, staatmaker malva-poeding

agrico

Agrico trekkers: Agrico bou trekkers vir Afrika in Afrika