in ,

NUWE VW POLO GTI 2.0 TSI: Terug na die dae van my jeug

VW Polo

This post is also available in: English

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Die 2018 Polo GTI laat my onwillekeurig terugdink aan die Merk 1 Golf GTI van desjare. In terme van grootte, maar ook omdat dit minder gesofistikeerd en in sekere aspekte gestroop is van enige pretensie. Terloops, GTI is die akroniem vir “Grand Turismo Injection”. Tog vertoon die nuweling van buite meer Golf as Polo en die leke-oog sal die Polo GTI maklik verwar vir sy groter ouboet.

Anders as wat tans die geval is waar kleiner enjins met groter aanjaging gebruik word, het VW besluit om die nuwe Polo GTI met ‘n groter enjin toe te rus as wat in die vorige modelle was. Op ‘n stadium het die Polo GTI ‘n 1.4 liter turbo enjin gehad.  Die uitgaande model was weer met ‘n 1.8 liter turbo enjin toegerus.  Nou, met die 2018 model het VWSA besluit om die Golf-reeks se 2.0L kragbron, ook met turbo aanjaging te gebruik.  Waar die 1.8 L turbo enjin 141kW en 250Nm se piekverrigting gelewer het, skop die 2.0 L turbo oond 147kW en 320Nm uit.  Terwyl die ekstra  6kW nou nie juis in vandag se terme vir aardskuddende verrigting gaan sorg nie, is dit die 70Nm ekstra wringkrag wat die nuwe model se troefkaart is.

Die nuwe GTI vertoon besonder goed in die nuwe generasie se Polo bakvorm. Verder het VWSA na my mening die perfekte stileringspakket by die 2018 Polo GTI gebruik om die blitsbuksie in sy segment te laat aandag trek. Die groter 17” nuut ontwerpte ‘Milton Keynes’ allooiwiele met lae profiel rubber, asook die feit dat die nuweling nou 2 cm laer op die grond hurk, onderstreep onteenseglik die 2018 Polo GTI se sportiewe eienskappe. VW het verder gegaan en opsigtelike rooi remknypers toegevoeg.  Dit aksentueer treffend met die rooi streep wat deur die swart sierrooster tot binne in die LED hoofligte strek.  Die rooi GTI kentekens in die swart sierrooster asook weerskante agter hoog op die voorste modderskerms net onder voor die kantspieёls, vang ook onmiddellik die oog.  So ook die swart lugsnoer voor en drukvlerk agter bo-op die agterklap.

Polo VW

Binnekant is egter die plek waar ek dink die Polo GTI die meeste punte verdien.  Ons toetsmodel is toegerus met ‘n treffende  oranje rooi aluminiumplaat wat die voorste paneel van links na regs domineer.  Die swart  “Art Velour” bekleedsel is met rooi stikwerk afgewerk wat ook op die vet stuurwiel met die GTI kenteken treffend vertoon.  Blink aluminium pedale en skakelaars het pragtig ingepas by die kleurskema. Ook die deurdrumpels en ratkierie is met GTI insignia spesiaal gemaak.

Ons toetsmodel was met die opsionele “Aktive Info Display”  toegerus wat die instrumente in verskeie digitale formate vertoon het na gelang van die bestuurder se voorkeure.

Ook opsioneel ekstra was Volkswagen se “Discover Media Navigation with Mapcare” wat geїntegreer was met die  “Active Info Display”  sodat die navigasiebeelde as deel van die instrumentasie vertoon.  Soos met die ander nuwe generasie Polo modelle, word die nuwe GTI ook toegerus met ‘n groot inligtingskerm middel bo in die voorste paneel gemonteer en met die vingerpunte beheer word. Die 2018 Polo GTI is groter as die vorige model en kan gemaklik ‘n gesin met 2 of 3 kinders akkommodeer. Die bagasieruim wat so 30 liter ruimte bied mag dalk net te klein wees om al vyf se naweekwegbreek bagasie te neem.

Op die pad was ons veral beїndruk met die hantering, paddinamika en ritgehalte van die nuwe Polo GTI. Ons toetsmodel was toegerus met VW se uitstekende 6-spoed DSG dubbelkoppelaar outomatiese ratkas wat ook met pedale agter die stuur verwissel kan word om die 1988cc turbo petrolenjin se 147 kW/320 Nm piekkragte deur die voorwiele na die pad te stuur.  Ten einde kraglewering optimaal te benut en wringstuur te minimaliseer, het die witjasse by VW besluit om ‘n XDS sluitewenaar op die vooras te monteer.  Die gevolg is dat die stuur omtrent nooit in jou hande bokspring (torque steer) as jy deur die knap draaie vet gee nie.

VW Polo

Volgens Volkswagen is die vering nou fermer en met drie ritmodusse te kies, kan jy tussen die  “Eco”, “Comfort” of “Sport” modusse kies na gelang van jou voorkeure.  Met die “Sport” verstelling lig die toere onmiddellik hoër, is die DSG se oorskakelings vinniger en raak die vere fermer.  Hantering is rats, padvas en met uitstekende stuurgevoel en terugvoer.

Tydens die mediabekenstelling ‘n maand of drie gelede het ons die 2018 Polo GTI deur Franschhoek Pas gelooi en was die greep en padgedrag werklik indrukwekkend. Ja, die nuwe model se lyf is nou groter en ja die 2.0 liter enjin in die neus weeg nou meer, maar die pakket is steeds kompak en die totale gewig van 1355 kg is steeds relatief laag.  Gevolglik voel die nuwe Polo GTI uiters rats en lewendig  soos wat die ervaring in ‘n regte bliksbuks behoort te wees.

Die kompressie verhouding van 11.65:1 in die derde generasie van die Golf EA888 enjin sorg vir hoër wringkrag wat reeds by 1,500 rpm beskikbaar is, sodat versnelling uit draaie veel vinniger kan geskied.  Die 0-100 kpu lopie neem 6,7 sekondes, terwyl die topspoed as 237 kpu aangegee word.

Volkswagen sê brandstofverbruik in ‘n gekombineerde siklus van stedelike en ooppad ry is 5,9 liter per 100 km en met die brandstoftenk wat 40 liter sluk as dit leeg is, kan die GTI byna 700 kilometer aflê.

Die 2018 Volkswagen Polo GTI 2.0 TSI is die ideale kompromie kopie wanneer jy graag ‘n klein sportmotor of blitsbuks wil hê, maar terseldertyd ook die gesin wil akkommodeer sonder om die premie te betaal van ‘n  rasegte sportmotor.

Die 2.0 L turboaangejaagde petrolenjin het ‘n beproefde rekord van betroubaarheid, goeie brandstofekonomie terwyl die GTI weergawes ook tradisioneel uitstekende inruilwaarde bied.  As die Polo GTI jou aandag trek beveel ek aan jy gaan toetsbestuur die nuwe 2018 model. Ek is seker jy, soos ek, sal ook graag een wil besit.

Die 2018 VW Polo GTI 2.0 TSI is my voorkeur kandidaat in sy segment en verhandel vir R375 900.  Ingesluit by die prys is ‘n 3 jaar/120 000 km waarborg, ‘n 3 jaar/45 000 km diensplan en ‘n 12 jaar anti-roes waarborg. Dienste word elke 15 000 km gedoen.

polo gti

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 50.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 50.000000%

Trekkerverkope verhoog met 7% in 2018

Beste Handel- en Verbruikersuitstalling in Afrika ‘n móét vir boere én publiek