in ,

NUWE RENAULT DUSTER: BETER, MOOIER EN TAWWER

duster

This post is also available in: English

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Vir die moderne motorwȇreld is sportsnutse omtrent so gewild soos sekere kitskos  by Suid Afrikaanse politici – hulle kry net nie genoeg daarvan nie. Dis dan ook die steeds groeiende segment wȇreldwyd onder motorverkopers. Verder word es-joe-wees deesdae al meer kompak soos wat die ekonomie strammer word en brandstofpryse die hoogte in skiet.

Dit blyk dat die jongste ideale motor onder motorkopers ‘n kleinerige ekonomiese gesinsmotor is wat naweke of vakansies ook op grondpaaie gery en waarmee verkenning in die veld gedoen kan word.  SUV’s in die onlangse verlede was meestal groot, swaar op brandstof en peperduur, wat gelei het dat meeste motorkopers een begeer het, maar nie kon koop nie.  Dit is net hier waar Renault met sy Duster ‘n bres geslaan het en is met luide toejuiging en ope arms deur kopers verwelkom.  Meer as 2 miljoen Dusters is wȇreldwyd verkoop sedert sy bekendstelling in 2011 en 15 000 eenhede het in Suid-Afrika eienaars gevind sedert die flukse Fransman in 2013 plaaslik bekend gestel is.

Die eerste modelle het ‘n vreemde half koddige voorkoms gehad en is met ‘n naam soos “Duster” aanvanklik skeef aangekyk. Soos wat verkope gegroei het, het die eenvoudige konsep van ‘n taai, bekostigbare middelslag sportsnuts, gestroop van tierlantyntjies en lig op brandstof al meer aanhangers gevind. Die 4×4 model het ook sedertdien ‘n reputasie ontwikkel as ‘n bekwame veldryer wat nie skrik vir rowwe terrein nie.

Met die onlangse bekendstelling van die tweede generasie Duster was dit duidelik dat Renault sy fokus geplaas het om die nuweling luukser af te werk en die robuuste dele te verfyn. Die nuweling is ook buitekant meer modern gestilleer, maar tog het Renault se witjasse daarin geslaag  om nie die Duster se kern aspekte en uitstekende veldryvermoёns in die proses te verloor nie.

Voorkoms

Die vorige model se eiesoortige ontwerp sal nooit as mooi beskryf kan word nie. Die nuwe model daarenteen se moderne, sportiewe voorkoms trek onmiddellik aandag met sterk bonkige rondings en vloeiende lyne wat vir ‘n treffende voorkoms sorg.  Volgens Renault is elke buitenste paneel nuut ontwerp en dra geen ooreenkoms met die uitgaande model nie.  Tog is die uitgaande Duster eiesoortige ontwerp steeds herkenbaar onder die nuwe vaartbelynde model se voorkoms.

Die nuweling se skouerlyn swiep hoër na agtertoe op, terwyl ‘n sterk voulyn onder van die deure af oor die agterste uitgeboude wielboë krom. Nuut ontwerpte agterligte sit steeds op die hoeke met die nuwe vierkantige vorm wat nou sterk ooreenkomste met die Jeep Renegade toon.

Voor pronk ‘n nuut ontwerpte sierrooster met chroom afwerking.  Die groot Renault kenteken is in die prominent in die middel geplaas en keep treffend tot in die enjinkap.  Die hoofligte skyn nou in ‘n C-vorm met LED liggies.

‘n Silwerkleurige plastiek bosbreker integreer onder met die voorste buffer, terwyl kolligte netjies in swart omboorsel op die hoeke gemonteer is.

Van die kant gesien neig die nuweling se neus grond toe terwyl nuutontwerpte 16  of 17” wiele die oog tref.  ‘n Swart plastiek insetsel agter in die voorste modderskerms wat soos luginlate vertoon, dra by tot die nuwe Duster se veldry voorkoms.

Die nuweling is effe langer en nouer as sy voorganger, maar is steeds op dieselfde platform gebou.  Ook die nuwe Duster se 210 mm grondvryhoogte is dieselfde as die uitgaande model.

duster

 

Kajuit en Binneruim

Die vorige Duster was maar ‘n plastiekerige affêre in die binnekant. Sitplekke was hard en afwerking spartaans.  Die algehele indruk was gevolglik effe goedkoop en gehalteloos.  Die nuwe Duster se kajuit voel aansienlik beter en luukser. Terwyl daar steeds ruimskoots van plastiek gebruik gemaak word, is die gehalte daarvan nou veel beter en vertoon die binneruim aansienlik meer luuks.  Die voorste paneel lyk ook meer modern met die raakskerm wat nou hoër geplaas is. Die res van die instrumentasie se uitleg is nou ook meer gebruikersvriendelik.  Daar is egter steeds ‘n ambiaans van eenvoud in die Duster se kajuit, tog is die algehele ervaring aangenaam.  Die nuweling bied gemaklik sitplek vir 5 volwassenes met die sitplekke wat aansienlik gemakliker sit en ook meer steun bied as in die uitgaande model. Agter  bied die laairuim 478 liter spasie vir bagasie.

Die nuwe Renault Duster kom standaard goed toegerus en selfs die intree Expression model bied basiese geriefies soos ondermeer elektroniese stabiliteitsbeheer, outomatiese LED- dagryliggies, misligte, lugversorging en ‘n stuurwiel wat teleskopies kan verstel. Die Expression model bied ook Renault se “Plug & Music” met radio, CD, MP3  asook USB, Aux en Bluetooth® telefoon koppeling. Die duurder Dynamique-modelle kry ondermeer klimaatbeheer en ‘n inligtingsraakskerm, wat navigasie insluit, by.  Sleutelose toegang, blindekol gonsers en ‘n tru-kamera is onder die luukses wat net vir die top model Prestige gereserveer word.

Modelle en Enjins

Renault SA het die nuwe Duster plaaslik bekend gestel in drie afwerkingsvlakke naamlik,  Expression,  Dynamique en Prestige, terwyl drie enjin keuses aangebied word.  Die intree Expression model is toegerus met ‘n normaal-geaspireerde 1.6 liter petrolenjin wat 84 kW en 156 Nm se piekkragte lewer. Dit is effe meer as die uitgaande model se 77 kW en 148 Nm. Aandrywing is slegs deur die voorwiele met behulp van ‘n 5-gang handratkas. Amptelike verbruik word aangegee as 7.0 liter/100 km in ‘n gekombineerde siklus. Die middelslag Dynamique is slegs beskikbaar met  Renault se beproefde en uiters gewilde 1.5 dCi, viersilinder turbodiesel enjins wat in twee kraglewerings vlakke beskikbaar is naamlik, 66 kW of 80 kW.

Die 66 kW model lewer 210 Nm wringkrag en is slegs beskikbaar in ‘n 5-gang  handratkas wat deur die voorwiele aandryf. Brandstof verbruik vir hierdie model word aangegee as 5.1 liter/100 km in ‘n gekombineerde siklus.  Die 80 kW enjin se wringkrag is 250 Nm en is beskikbaar met ‘n 6-gang outomatiese ratkas wat krag deur die voorwiele stuur.  Volgens Renault gebruik die model slegs 4.8 liter/100 km in ‘n gekombineerde siklus.  Die  4×4 weergawe wat vroeg volgende jaar plaaslik bekend gestel gaan word, is slegs in Dynamique afwerking beskikbaar en gebruik dieselfde 15 dCi kragbron wat  ook 80 kW uitskop. Wringkrag is egter met 10 Nm na 260 Nm verhoog.  Hierdie model word slegs toegerus met ‘n 6-gang handratkas en die amptelike verbruik word aangegee as 5.2 liter/100 km.

Tydens die nasionale bekenstelling het ons slegs met die top model 1.5 dCI Prestige gery wat slegs beskikbaar is met die 1.5 liter viersilinder turbodiesel enjin wat 80 kW/250 Nm lewer.  Aandrywing is deur die voorwiele met behulp van ‘n 6-gang outomatiese ratkas en brandstof verbruik word amptelik as 4.8 liter/100 km aangegee.

duster

Op die pad

Ons het die Duster in die pragtige Mpumalanga in die omgewing van Nelspruit, Sabie en Graskop gaan ry.  Met ‘n verskeidenheid paaie wat grond, teer en bergpasse ingesluit het, kon ons die nuweling se hantering ook op uitdagende grondpaaie behoorlik toets.

Die nuwe Duster het die kronkelgang, somtyds slaggat-besaaide en plek-plek sinkplaat grondpaaie tussen plantasiewoude indrukwekkend hanteer met die vering en onderstel wat gemaklik en stabiel enige ongelykheid absorbeer het. Die kajuit was verbasend stil, selfs teen hoë spoed op die snelweg, danksy meer en verbeterde klankdemping. Hantering en greep toe ons die nuweling deur die pragtige bergpasse van Sabie en Long Tom gelooi het was ook verbasend goed met relatief min bakrol deur die draaie. My enigste kritiek is dat die stuur effe lig gevoel het, maar dit gaan dalk vir meeste kopers ‘n plus wees. Ook het die 1,5 turbodiesel in die dun Mpumalanga lug soms na meer oemf gesoek. Veral by togsnelheid teen ‘n steil opdraend wanneer dit nodig was om verby te gaan was die krag effe min. Ek vermoed dat die nuweling by seevlak geensins daarmee gaan sukkel nie. Die 6-gang outokas pas heel skaflik by die nuwe Duster se gewig en enjin. As jy ‘n sportratkas verwag gaan jy teleurgesteld wees, tog is die oorskakelings glad, maar geskied nie teen dubbelkoppellaarspoed nie.

Die Prestige model se raakskermnavigasie en selfoonkommunikasie-skakeling werk gemaklik en is baie gebruikersvriendelik en word vertoon op ‘n hoë-definisie kleurskerm wat ook die radio en klankstelsel asook alle rit- en stelselinligting huisves. Die tru-kamera beelde asook  die kameras wat voor- en agter asook by die voor en agterwiele gemonteer is, word ook op die skerm vertoon.

Gevolgtrekking

Die uitgaande Renault Duster het ‘n reputasie gebou as ‘n taai, sonder-fieterjasie, bekostigbare sportsnuts wat baie bekwaam in die veld kan ry. Sonder om enige van daardie waardes prys te gee, voeg die nuweling daarby ‘n veel mooier en moderne voorkoms met ‘n goeie skeut verfyndheid en sofistikasie. Met veral die dieselenjins se indrukwekkende brandstofverbruik wat die pyn van ons hemelhoё brandstofpryse effe laaf, is die nuwe Renault Duster se somtotaal myns insiens, die ideale gesinsvoertuig. Sonder om die terrein te betree van sy luukser en deftiger Kadjar stalmaat, stel die 2018 Renault Duster ‘n nuwe standaard vir sy mededingers. Nie perfek nie, maar klasleidend beslis.

Modelle en pryse

Renault DUSTER 1.6 Expression 4X2                                         R249 900

Renault DUSTER 1.5 dCi Dynamique 4×2                                   R282 900

Renault DUSTER 1.5 dCi Dynamique  EDC 4×2                          R316 900

Renault DUSTER 1.5 dCi Dynamique  4×4                                  R321 900

Renault DUSTER 1.5 dCi Prestige EDC 4×2                                R334 900

Die prys van elke nuwe Renault Duster odel sluit ook in ‘n 5-jaar/150 000 km meganiese waarborg asook ‘n 6-jaar roeswerende waarborg. Dienste moet elke 15 000 km gedoen word en die nuwe Duster kry ook ‘n  3 jaar/45 000 km diensplan by die koopprys ingesluit.

What do you think?

3 points
Upvote Downvote

Total votes: 3

Upvotes: 3

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Oktober veilings

Trekkerverkope verhoog met 7% in 2018