in

Nuwe hulplyn help boere met veediefstal

This post is also available in: English

Om die enorme impak van veediefstal beter te bepaal, tendense raak te sien én inligting te versamel om dit te bekamp. Dis volgens dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), van die redes waarom ’n veediefstal-hulplyn in die Vrystaat begin is.

“Misdaadstatistieke wys dat tussen 67% tot 80% van veediefstal nie aangemeld word nie,” sê sy.

Die hulplyn, wat deur VL en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) – in samewerking met die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die provinsie – begin is, sal onder meer help met die aflê van verklarings en ondersoeke monitor. Dit is sedert 1 Februarie 2019 in werking en speel ’n ondersteuningsrol aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), binne die Landelike-beveiligingstrategie, om proaktief op te tree. Die SAPD in die Vrystaat het ook sy amptelike ondersteuning vir die inisiatief deurgegee.

Regte syfers belangrik

Volgens ’n VL impak- en omvangstudie van misdade op kommersiële landbou in 2017, was veeverliese in die Vrystaat tussen sowat R1 tot R3 biljoen per jaar.

Agri SA se Nasionale Landbousektor-misdaadopname wat deur die Buro vir Marknavorsing by Unisa gedoen is, het bepaal die Vrystaat en Noord-Kaap was in 2017 die provinsies wat die ergste onder veediefstal deurgeloop het. Daar was nagenoeg 26 175 voorvalle slegs in die Vrystaat. Veediefstal is die voorste landboumisdaad in die provinsie en ’n kommersiële boer beleef jaarliks sowat agt voorvalle.

Johann Stadler, voorsitter van die Veediefstal-voorkomingsforum van die Vrystaatse RPO, sê ’n jaarlikse VL oudit van die Landelike-beveiligingsplan, het probleme met veediefstal-aanmelding uitgewys. Hieronder tel taal en kommunikasie tydens die aflê van ’n A1-verklarings by party polisiestasies.

“Die hulplyn sal help om verklarings so te kry dat dit verstaanbaar en leesbaar vir almal betrokke is, sodat die ondersoek van die begin af binne die kriminele regstelsel goed kan verloop,” sê hy. “Dit sal boere ook bystaan oor byvoorbeeld hoe om die misdaadtoneel te bewaar.”

“’n Mens kan nie veediefstal doeltreffend aanspreek en bekamp as jy nie die regte aanmelding en omstandighede het nie,” sê Buys. Volgens haar is dít ook belangrik om voorkomingsoperasies te loods en die korrekte inligting aan die SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag deur te gee.

Verder meen sy die hulplyn sal boere se betrokkenheid by die bekamping verbeter en kan daar grotendeels op voorkoming gefokus word.

Hoe werk dit?

Die hulplyn word deur Mientjie Kok, ’n data-analis en voormalige polisielid, beman. Sy sal boere bystaan met die aflê van verklarings en hulle vrae oor die proses beantwoord.

Volgens Buys word die verklaring per e-pos na die klaer teruggestuur om die feite te bevestig en dit in die teenwoordigheid van SAPD geteken.

Daar word beoog om die hulplyn, wat tans ’n drie maande proeftydperk volg, tot ’n 24-uur sentrum uit te brei om boere veral oor naweke by te staan. “Ons doen ’n beroep op boere om die hulplyn te gebruik, sodat veediefstal doeltreffend bekamp kan word,” sê Buys.

Kontakbesonderhede

  • Die hulplyn-nommer wat gebel kan word is: 086-199-9300.
  • Indien die nommer beset is, kan ’n boer ’n WhatsApp-boodskap met sy of haar kontakbesonderhede (naam, van, plaasnaam, tel nr en foto van brandmerk-sertifikaat) na 079-524-5040 stuur. Dié nommer is slegs vir WhatsApp-boodskappe.
  • Andersins kan ’n stemboodskap of e-pos met kontakbesonderhede gelos word. Die e-pos adres is vee@vslandbou.co.za

Bron: Vrystaat Landbou

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

TLU SA versoek minister Pravin Gordhan om Eskom te privatiseer

Die jongste weervoorspelling