in , ,

Nuwe Global-reeks – Massey op sy beste

This post is also available in: English

Die opwindende nuwe MF6700-reeks van 83 tot 98 kW uit Massey Ferguson se Global-stal bied alles wat ’n boer in dié kilowatt-segment soek, en meer.

Die MF 6700-reeks is die grootste trekkers in die Global-familie, wat ook bestaan uit die MF 4708 (61 kW) wat reeds plaaslik bekend gestel is, en twee MF 5600-modelle van 69 kW en 76 kW wat later vanjaar hulle buiging in Suid-Afrika maak.

Global-trekkers vervang nie vorige reekse nie – hulle is van grondvlak af ontwerp met een doel voor oë: om trekkers te skep wat aan vandag en môre se dinamiese boere se verwagtinge sal voldoen, maar steeds bekostigbaar is, sê Piet Vorster, produkbestuurder vir Massey Ferguson by Barloworld Agriculture.

“Minstens 70% van die komponente in die reeks is nuut ontwerp en ingenieurs uit verskillende lande het saamgewerk om hierdie kampioene die lig te laat sien,” sê hy.

Die drie modelle in die MF 6700-reeks is die MF 6713 (98 kW) en twee kleiner weergawes met dieselfde boustyl – die MF 6712 (91 kW) en MF 6711 (83 kW).  Kajuitweergawes word later in 2016 verwag.

Al drie trekkers word aangedryf deur nuwe turboaangedrewe 4,4 liter AGCO Power-viersilinderenjins. Die enjins kom uit ’n Finse fabriek wat naam gemaak het vir enjins wat sorg vir uitstekende kraglewering, wringkrag en brandstofekonomie.

Die enjins bereik hulle aangeslane krag teen lae omwentelinge, wat bydra tot ’n lae brandstofverbruik en ook help om lang, kommervrye werking met ’n lae onderhoudskoste te verseker.

Nat of droë koppelaar

Die ten volle gesinchroniseerde 12X12-transmissie is in Frankryk ontwerp en gebou. Die trekkers is beskikbaar met gesinchroniseerde meganiese vorentoe- en truskakeling (shuttle) met ’n droë koppelaar of, vir boere wat baie vorentoe- en truwerk doen, ’n Power Shuttle met ’n nat, olieverkoelde koppelaar vir elektrohidrouliese vorentoe- en-tru-skakeling.

“Die Power Shuttle lyk en werk basies soos die hefboom aan die Franse Massey Ferguson-trekkers met ’n Dyna-transmissie,” sê Piet. “Dit ontkoppel ook sodra jy die hefboom optel en aggressiwiteit kan verstel word met ’n knoppie soortgelyk aan dié aan die MF 5400-reeks. En daar is nog ’n bonus: Die modelle met ’n nat koppelaar het ook ’n knoppie aan die rathefboom waarmee jy die koppelaarfunksie kan beheer tydens normale ratverwisseling.”

Groenteboere kry die opsie van ’n fabriekgemonteerde kruipspoedrat wat die trekker se spoed afbring na 200 meter per uur – presies wat die manne met kompos-omkeerders wil hê.

Die agterstel is ook heeltemal nuut en die ekstraswaar gietstukke gee voldoende ondersteuning vir swaar beladings en verhoogde kapasiteit.

Nat veelplaatremme bring die trekker met groot gemak in sy spore tot stilstand en fabriekgemonteerde hidrouliese sleepwaremme is opsioneel beskikbaar.

Elektro-hidrouliese inskakeling van vierwielaandrywing geskied met die druk van ’n knoppie en in- en uitskakeling kan in die ry gedoen word.

Voorwielaandrywing vind plaas deur middel van ’n sentrale as, wat bydra tot ’n kleiner draaisirkel.

Hidroulika

Die  Massey Ferguson 6700-reeks het ’n oop hidrouliese stelsel, met ’n vloei van tot 57 liter per minuut vir die hyser en eksterne aftapkleppe.

“Massey Ferguson se elektroniese hyserbeheer bly die beste in die bedryf,” sê Piet. “Omdat dit vinnig reageer en regstel, verbeter dit sowel werkverrigting as brandstofverbruik.” Met ’n stewige optelvermoë van tot 5,5 ton bied die MF 6700-reeks goeie reserwekapasiteit vir die gemaklike hantering van werktuie.

Die trekkers is ontwerp vir produktiwiteit, ook wat die operateurs-omgewing betref. Die platform is heeltemal herontwerp met die klem op veiligheid, gerief en die gemaklike beheer van alle trekkerfunksies. Die sitplekvering kan verstel word volgens jou gewig, daar is ’n mat wat ontwerp is om klank en vibrasies te absorbeer en die platform is op rubberblokke gemonteer.

Die MF 6700-reeks, soos trouens die hele Global-familie, is ’n nuwe hoogtepunt in die Massey-stamboek as dit kom by veeldoelige, winsgewende uithaler-werkverrigting.

Kontak jou naaste Massey Ferguson-handelaar vir meer inligting of skakel Barloworld Agriculture by 011-898-0074 om jou naaste handelaar te vind.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Skitterende deurbraak: Shredlage® maak kuilvoer nóg meer werd

Kubota maak ’n plan