in ,

NUWE BMW 3-REEKS

BMW 3 series

This post is also available in: English

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Met meer as 15 miljoen eenhede wêreldwyd verkoop oor ‘n periode wat meer as 40 jaar strek en wat ses modelgenerasies opgelewer het, is die nuwe BMW 3-reeks voorwaar ‘n pioneer in sy segment en ‘n staatmaker.

BMW blyk steeds die wêreld se voorste vervaardiger van premium voertuie in 2019 te wees en spog met agt agtereenvolgende jare met rekordverkope. BMW SA het onlangs sy 7de generasie 3-reeks teen die hange van Tafelberg in die mooiste Kaap bekendgestel en ons was daar.

Suid-Afrikaners het gewoond geraak aan ‘n 3-reeks (die E30, E36, E46, E90 en F30 modelreekse) wat plaaslik gebou is in die vervaardiger se Rosslyn aanleg buite Pretoria. Die aanleg bou deesdae die groep se X3 sportsnuts daar. Die nuwe 3-reeks met model naam G20 word egter aanvanklik vir Suid-Afrika uit Munich ingevoer, maar sal later vanuit BMW se San Luis Potosi aanleg in Mexiko na SA kom. Die G20 model word ook in Sjina vervaardig.  

Na meer as 500 kilometer agter die stuur op van die Kaap se beste paaie en oor die mees uitdagende bergpasse van die Boland, was dit duidelik dat die nuwe 3-reeks weereens die standaard vir die middelvlak luukse motorsegment ‘n trappie hoër geplaas het. Met uitsonderlike paddinamika, uitstekende bougehalte, topgehalte afwerking in die kajuit asook die nuutste tegnologie en elektronika tans beskikbaar in die motorbedryf beskikbaar is,staan die G20-modelreeks tans bo aan die leer.

BMW 3-series

Langer en breër gee die G20 ‘n skerper en meer gefokusde voorkoms

Van buite is die nuweling meer dominerend en tog ook sagter op die oog, afhangend van uit watter hoek dit beskou word.  Agter is die rondings sagter met ‘n nuwe LED ligontwep wat effe trekke na die Lexus het. Weg is die sterk vou in die metaal van die uitgaande model wat oor die deure gestrek het, met die nuweling wat nou ‘n sagter en skoner sykantprofiel tentoonstel.

Die voorkant, veral in M-Sport afwerking, vertoon egter veel meer dominant. Die nuweling se groot niertjierooster en nuwe lighulsel met geïintegreerde flikkerligte bied nou laserlig LED hoofligte wat die pad vorentoe tot 530 m ver kan priem. Dit bring ‘n veel meer moderne voorkoms, terwyl die gapende luginlate met skerp hoekige ontwerp voor onder in die lugskort weer aggressief uitstaan, soortgelyk aan wat op die magtige M5-model gebruik word.

Die G20-modelreeks word gebou op BMW se CLAR platvorm en is 76 mm langer en 16 mm breër as die uitgaande F30 model, maar is omtrent identies in hoogte.  Die as-afstand is egter met 41 mm verleng terwyl die voor- en agteraste met onderskeidelik 43 en 21 mm verleng is ten einde paddinamika en hantering aansienlik te verbeter.  Ten spyte van die groter bak, het die ingeneurs dit reggekry om met behulp van ligter materiale en die CLAR platvorm die nuweling se bakrigiditeit te verstewig, gewig met 55 kg te verminder asook ‘n optimale 50/50 gewigsverdeling tussen voor en agter te bewerkstellig. Die resultaat is ‘n briljante bestuurdermotor met klasleidende dinamika en verfyndheid op die pad.  

Nuwe kajuitontwerp en stilering skep ‘n gevoel van ruimte

Danksy die langer as-afstand geniet passasiers meer skouer-, elmboog-, en beenruimte met ‘n bagasieruim wat 480 liter kan hou. Nuut ontwerpte inligtingskerm en digitale instrumentgroepering en ‘n meer moderne instrumentepaneel dra by tot ‘n sportiewer ambiaans in die kajuit. Ons is veral gaande oor die nuwe digitale instrumentepaneel, maar die naalde van die spoedmeter en toereteller wat klokgewys en anti-klokgewys na mekaar toe beweeg neem tyd om aan gewoond te raak.

Die beskikbare opsionele toerusting en bybehore in die Sportline en M-Sport afwerkingspakkette bied kopers ‘n wye keuse wat ondermeer Harman Kardon-klank stelsel, groter sondak en selfs leerafwerking insluit. Die G20 kom ook met heelwat bestuurdershulpstelsels toegerus waaronder blindekol waarskuwingsgonsers en ook ‘n hulpstelsel wat die voertuig terug in die baan “dwing” soos die voertuig buite die baan “dryf”.

BMW se “Hi BMW” stelsel wat met stemopdragte en handbewegings verskeie van die klank en ander nutsfunksies uitvoer, sorg vir indrukwekkende interaksie met ‘n blikbrein, maar die stelsel kan soms ongevraag indruis maak as sekere woorde in ‘n kajuit gesprek die blikbrein “aktiveer”. Die stelsel werk blykbaar progressief beter hoe meer dit die stem en uitspraak van die bestuurder “hoor’ en beter verstaan. 

Enjin en verrigting

Die nuwe Drie-reeks is bekendgestel met slegs twee viersilinder enjin opsies, naamlik ‘n 2.0 liter turbodiesel (320d), en ‘n 2.0 liter turbopetrol (330i). Meer enjinopsies waaronder die nuwe topmodel M340i X-drive (275kW, 500 Nm) wat krag deur al vier wiele na die pad stuur, volg later vanjaar asook ‘n 330 turbodiesel model wat 195 kW/580Nm se piekverrigting gaan lewer.

Die 320d lewer 140 kW en 400 NM danksy “sequential bi-turbo” aanjaging (die uitgaande model het ‘n enkelturbo gebruik) wat die maksimum wringkrag  vroeër in die toerestrek beskikbaar maak en tot by hoër toere vashou. Die gevolg is ‘n heerlike gladde en konstante kraglewering deur die toerestrek.  Die 330i petrolmodel gebruik egter steeds ‘n enkel turbo met twee vlakke wat in die nuwe G20 effe meer krag (190 kW) lewer asook sorg vir ‘n klein verbetering in wringkrag tot 400Nm. Beide modelle is toegerus met ‘n 8-spoed ZF outomatiese ratkas wat krag na die agterwiele stuur. Nou in sy derde generasie is die ratkas opgedateer en verfyn om vinniger oor te skakel asook korter oorskakelings vir die laer ratte te doen. Ek geniet egter om self die ratte te verwissel met die ratspane agter die stuurwiel.

Uiteraard het BMW se witjasse ook brandstofverbruik verbeter en die 330i se amptelike gemiddelde verbruik word aangegee as 6.4 liter per 100 km, terwyl die 320d ons verstom het met ‘n brandstofverbruik tydens ons toetsperiode van net 5,6 liter per 100 km. Die amptelike gemiddelde syfer volgens BMW word aangegee as slegs 4.6 liter per 100 km wat in ons mening haalbaar is aangesien ons verkies om entoesiasties in “Sport”-modus te ry eerder as om in die ECO-modus te kyk hoe laag ons die verbruik kan kry.

Ons 330i model het beskik oor die opsionele M-Sport veerstelsel wat die bak 1 cm laer oor die wiele laat hurk en ook die skokbrekers se demping elektroniese beheer vir ‘n heel aangename rit ten spyte van die 19” wiele en lae profiel rubber.

Slotsom

Die nuwe 3-reeks lewer ‘n kragtoer soos min op die pad met tipiese BMW paddinamika en verrigting vir ‘n genotvolle sportiewe ry-ervaring. Met die verbeterde kajuit is die Beemer nou, met ‘n moderne en weelderige kajuituitleg en boonop slim tegnologie, na ons mening die klasleier in die segment vir mediumgroote luukse besigheidsdans. Die nuweling behoort ook ‘n jonger generasie koper nader te hark.  

Terwyl die 330i se verstommende verrigting met ‘n 4-prop turbokragbron my hartsnare roer, is dit die 320d se heerlike balans, seepgladde kraglewering en uitstekende brandstofverbruik wat my regmerkie kry.

Beide modelle in standaard afwerking verkoop teen R649 000 en sluit in BMW se 100 000 km / 5 jaar motorplan.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Trekkerverkope daal met 17% in 2019

Jy ken jou veld aan sy gras