in ,

Nuus: Droogte: Hoe pas boere aan?

deur Tisha Steyn

Die droogte en aanpassings wat sowat veertig boere in die Karoo gemaak het om dit te oorleef het op die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWGA) se algemene jaarvergadering in Gqeberha (Port Elizabeth) onder die loep gekom.

Dr Beatrice Conradie van die Universiteit van Kaapstad was die gasspreker en sy het sowat 150 wolboere wat die vergadering bygewoon het behoorlik laat regop sit met die bevindings van haar studie op plase tussen 2012 en 2019.

Perspektief op droogte

Beatrice het gekyk hoe die droogte omstandighede verander het en veral wat die boere gedoen het om die uitwerking daarvan teen te werk.

Droogte is nie so eenvoudig nie. “Wees rustig, die Karoo het nog altyd droogtes gehad, dit sal weer verbygaan,” sê van die ouer boere, maar vandag se geslag word uitgedaag deur ongekende klimaatsverandering. Die droogte in die Sentraal-Karoo, waar sy navorsing doen, is baie moontlik die gevolg van dié verandering.

Volgens die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram se voorspelling vir weidingsgebiede in ariede streke, sal die temperature skerp styg en die algemene weer sal groter wisselvalligheid toon, wat meer dikwels droogte tot gevolg sal hê. Die wisselvalligheid is nie meer net ‘n voorspelling nie – die aangetekende gemiddelde daaglikse maksimum-temperatuur by Beaufort-Wes sedert 1992 wys dat dit klaar warmer is as oor die afgelope dertig jaar. Somer- en wintertemperature styg ewe vinnig, maar daar is meer wisselvalligheid in die winter as in die somer.

“Dit gaan tot gevolg hê dat die veld in ekstensiewe ariede weidingsgebiede skade gaan ly,” sê Beatrice. “Wisselweiding as teenvoeter vir die agteruitgang van die veld is ‘n opsie, maar nie ‘n besonder haalbare een nie. Boere moet kyk na hul vee.”

Aanpassings

Beatrice se navorsing op veertig plase oor ‘n tydperk van agt jaar het interessante inligting opgelewer.

Daar is drie goed wat ‘n mens moet doen: Diversifiseer, rek die veld deur te voer en die skape minder te maak, en sien om na jou diere se welsyn. Laasgenoemde verwys na suipings en skuiling teen die elemente en roofdiere.

Diversifisering kan ‘n dorpsinkomste insluit – die vrou wat in die dorp werk se salaris word deel van die huishouding se spandeervermoë.

Beatrice sê die boere se terugvoering stem ooreen: “Hoe maak jy op ‘n plaas waar die veld besig is om in te gee? Jy maak die vee minder, koop meer voer in, of kry ‘n ander stuk grond met beter weiding waarheen jy met jou skape kan trek. Daar’s baie boere wat kan trek, maar hulle is te lui om dit te doen…”

Wie het nuwe goed aangepak toe dit droog raak?

“Soos die veeboerdery gekrimp het, het mevrou se salaris ‘n belangriker rol begin speel. Al het van die boere begin saad plant en laat jag, het die aandeel van die dorpsinkomste konstant gebly.”

Wat het diegene wat opgetree het om die droogte se invloed te probeer versag voor en tydens die droogte gedoen?

Boere het nooit gehou by die aanbevole weidingskapasiteit van hulle veld nie, maar diegene wat ‘n onderskot van ‘n derde gehad het, het dit darem tot die helfte verminder – hulle het dus minder skaap aangehou en voer gekoop.

Sommige boere se voeraankope het van R450 tot R2 000 per skaap per jaar gestyg. Die gemiddelde waarde van ‘n skaap is R782, terwyl die mediaan R618 per skaap per jaar is. “In Williston het voerders slaglammers geproduseer en grootgemaak teen R755 per skaap per jaar. Om te oorleef moet gevoer word,” sê sy.

Argumente vir die aankoop van voer sluit in:

  • Groter kuddes herstel makliker
  • Goeie voeding vir jong ooie verseker dat hulle dwarsdeur hul vrugbare leeftyd goed presteer
  • Voer verkort die tydperk wat dit neem om die lammers markgereed te kry
  • Groter kuddes en ‘n korter tydperk help om kontantvloei aan die gang te hou, wat die bankbestuurder gelukkig hou want daar’s darem iets in die rekening!

“Tóé raak dit droog,” sê Beatrice. “Party verkoop vee en ander koop voer en die res weet nie wat hulle doen nie.”

Die diagram wys die voerkoste voor en tydens die droogte. Boere het verskillende planne gemaak. Sommige het hulle vee verminder; ander het hulle veegetalle dieselfde gehou, maar meer voer gekoop. Een boer het tot R1 800 per grootskaap bestee. “Die voerdery het hulle gemiddeld R450 per grootskaap gekos, terwyl hulle inkomste per skaap R782 was.”

Die bestuur van die NWGA in die Vrystaat.

Die finansiële implikasies van voer

“Voor dit droog was, het die boere al gevoer, en dis duur: Voer het mos ‘n manier om nie self plaas toe te stap en uit die sak te spring nie. As jou koöperasie rente vra, of as hulle grond moes huur, het dit nog koste teweeggebring.”

Sy meen die voerders het beter gedoen, al het hulle drie keer soveel op voer spandeer as voor die droogte, nie net vir voer nie, maar ook om kampies te span. Hulle het geld geleen om met die voerdery vol te hou. Dit het R1 300 gekos, terwyl hulle net R1 100 ingekry het – dit het nie betaal nie.”

So hoekom voer hulle dan?

“Jy voer om die skape gereed te kry om te verkoop, sodat jy die geld aan voer kan bestee. Jy voer, want jy glo die Karoo gaan weer draai. Jy voer om die beste ooie op die plaas te hê sodat hulle beset kan word. As jy ordentlik voer, word die lammers vinniger groot en jy kry darem ‘n inkomste sodat die bank sal aanhou uithelp.”

Beatrice meen dit is interessant hoe produktiwiteit werk – hoe jy die insette moet draai om dit om te skakel in uitsette: “Ek verstaan dit nog nie. Die topboere het gehou, die middelste groep het begin uitsak, en die onderpunte het al meer geraak. En so het daar ‘n gat begin val in die gemeenskap, want naweekboere en wildsplase het al hoe meer begin voorkom.”

Die ariede weste van die Wes-Kaap is die kwesbaarste, sê sy. “’n Boer staan voor moeilike vrae en hy moet besluite neem. Of jy suksesvol voer of nie, jou sukses hang af daarvan of die koöperasie aan jou kant is.”

Sy meen die Wes-Kaapse regering het hierdie boere baie gehelp, maar ook hulle het nie ‘n idee wanneer droogtehulp moet begin en wanneer om daarmee op te hou nie. Murraysburg, wat tans die ergste onder die droogte deurloop, kort hulp, terwyl ander gebiede vir nou oorleefbaar is. “Dit kort hoëvlakbeplanning en -koördinasie. Van die minister af tot op die plaas moet een gesang gesing word.”

Moeilike vrae

Nog ‘n moeilike vraag is of die pad na jou plaas begaanbaar is sodat ‘n vragmotor jou voer kan kom aflaai; min of geen onderhoud is gedoen nie.

Ter samevatting sê Beatrice boere moet meer aandag gee aan temperatuur en die primêre en sekondêre uitwerking daarvan. Elke boer moet eksperimenteer met hoe en wanneer voeding gegee moet word. Sy vra die vraag: “Voer jy steeds passasiers?”

Dr Beatrice Conradie van die Universiteit van Kaapstad het die resultate van haar navorsing gedeel by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWGA) se algemene jaarvergadering.

Sy beveel ook aan dat boere die hulp van wetenskaplikes inroep met betrekking tot die herstel en drakrag van die veld. Is jou plaaslike koöperasie bereid om te help met logistieke en aankope? Regverdig jou waardeketting die bykomende belegging? Is jou padnetwerk sodanig dat voer afgelewer kan word?

En natuurlik die groot vraag: Is jy gereed vir die volgende droogte?

Kontak dr Beatrice Conradie by beatrice.conradie@uct.ac.za of 021-650-4774.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Firestone launches Maxi Traction Harvest tyre

Technews July