in

Noodrit om diere te red eindig in tragedie vir boer

Foto: www.wilddog.za.net

This post is also available in: English

15 Januarie 2019 het met goeie nuus in die droogte vir Eduard Le Roux, ‘n Karooboer begin. Hy het ‘n voerskenking vir sy skape ontvang en moes net ry om dit te gaan aflaai. Op pad plaas toe het sy 1997 2.5 Isuzu-bakkie egter saam met die sleepwa vol voer uitgebrand. Eduard het 45% brandwonde opgedoen. Hy is in intensiewe sorg in die hospitaal.

Eduard en sy broer, Hernus, boer saam tussen Williston en Fraserburg in die Noord-Kaap op die plaas, Zuurland. Eduard werk ook by die Abattoir in Williston en Hernus by Williston Vleiskoöperasie. Eduard is getroud met Marileen en hulle het drie kinders, Lizette(15), Anmari (12) en Duard (7).

Hernus vertel wat met sy broer gebeur het: “Hy het daardie dag my sleepwa gebruik om voer daarop uit te vat plaas toe met sy bakkie. My broer het rook onder die bakkie sien uitkom, dit het tussen die kajuit en bakkie se bak gebrand. Hy het nog probeer om die wa af te haak, maar kon nie want die voer agterop was reeds aan die brand. Hy het weer in die bakkie geklim en omgedraai om êrens heen te probeer ry, ek is nie seker hoekom nie. Toe hy sien die brand is te erg wil hy stop om uit te klim, maar die bakkie wil nie stop nie, die remme het nie gewerk nie. Hy het besef hy moet uitkom, want hy was reeds self aan die brand, hy het die deur oopgemaak en uitgerol. Eduard het op sy regtersy geval.

“Ek het eerste op my broer afgekom waar hy regop staan in die veld. Tipies my broer sȇ hy vir my hy wil nie voor in my bakkie inklim nie, want hy gaan my bakkie vuilmaak.” Hernus moes mooi verduidelik dat dit nie saakmaak nie.

Hernus het sy broer hospitaal toe geneem in Williston waar hy gestabiliseer is. Daarna het hy hom na Durbanville Mediclinic toe geneem. Hy lȇ steeds in die intensiewe sorgeenheid en het al ‘n paar veloorplantings gehad.

Die presiese oorsaak van die brand is nie bevestig nie.

Hernus praat ook oor die droogte en sȇ hulle voer al baie lank hulle skape. “Ons het nog geen reёn ontvang nie, dit is baie droog. Ons het in 2012 laas goeie reёn gehad. Ek praat nou die dag met ‘n oom in ons gebied wat 80 jaar oud is. Hy sȇ so lank as wat hy in die Karoo boer het dit nog nooit so sleg soos nou gelyk nie.”

Hulle maak maar staat op voerskenkings maar volgens Hernus is daar steeds baie kostes aan verbonde soos die vervoerkostes om die voer op jou plaas te kry.

Skenkings vir voer vir Eduard kan gemaak word by Williston Vleiskoöperasie, hulle plaas dit dan op sy koöperasierekening sodat hy voer gratis kan kry vir sy skape.

Bankbesonderhede:

Standard Bank

Rekeningnommer: 083212507

Takkode: 051008

Verwysing: Boer Eduard Le Roux

Stuur asb bewys van betaling of net ‘n boodskap aan Liezel@wvk.co.za dat hulle dit op sy rekening kan plaas.

‘n Webtuiste www.wilddog.za.net vir motorfietsryers het ook van Eduard se situasie te hore gekom en samel ook geld vir voer vir hom in.

Bankbesonderhede:

Naam: Wilddogs

FNB spaarrekening

Rekeningnommer: 62308268037

Takkode: 251655

Verwysing: Boer Eduard Le Roux

What do you think?

-4 points
Upvote Downvote

Total votes: 6

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 16.666667%

Downvotes: 5

Downvotes percentage: 83.333333%

One Comment

  1. Mense, dit gaan beroerd in die Hardemanskaroo; ek kan nie die detail hier uiteensit nie.

    Maar ons moet iets doen om ons mense te help.

    Ek het verlede nag gedroom dat ons genoeg geld insamel om Eduard se bakkie te vervang.

    Wat moet ons doen om dit ‘n werklikheid te maak. Hierdie mense kry swaar!

Balfour-hooidag wys al die opsies

Wolmark daal met 2,7%