in

Nog reën in Meimaand vir somerreënvalgebiede verwag

Deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS)

La Nina-toestande duur voort en dit is uitsonderlik dat dit so sterk is vir hierdie tyd van die jaar.

Alhoewel baie vroeg om betroubare voorspellings te maak, is die voorspellings positief dat gunstige reënvaltoestande in die somer van 2022/23 kan ontwikkel as gevolg van ‘n gunstige opstelling van die Indiese Oseaan se oppervlaktemperature tesame met La Nina.

Reënvaltoestande is egter meer onseker vir die Winterreënvalgebied maar dit waarskynlik ondergemiddeld aan die begin van die seisoen wees en verbeter vanaf Junie.

1. Huidige toestande

Die maand van April 2022 sal onthou word as een van die natste Aprilmaande op rekord. KZN het die swaarste reën gehad waar Margate byvoorbeeld meer as 600mm in April gehad het met meer as 300mm op 12 April 2022 alleen. Dit is ongeveer ses tot sewe keer die normale reënval vir April. Swaar reën het ook gedurende April oor die sentrale tot oostelike Somerreënvalgebied voorgekom met meer as 150mm in distrikte soos Koppies, Middelburg (Mpumalanga), Witbank, Coligny, Bloemfontein en Leeudoringstad. Tussen 100m en 150mm het ook voorgekom is distrikte soos Frankfort, Vrede, Hoopstad, Warden, Marble Hall en Schweizer Reneke. Hierdie reënvaltotale is tussen vier en vyf keer die normale reënval vir April.

Die baie nat toestande begin ‘n al groter probleem word om sojabone, sonneblom en vroeë aanplantings van mielies wat nou begin ryp word, te kan stroop. Landerye is steeds waterversadig en op baie plekke is daar nog oppervlakwater wat die beweging van stropers en ander implemente bemoeilik of onmoontlik maak. Die koel en vogtige toestande beperk ook die afdroog van gronde.

Belangrik is dat die baie droë dele van die Oos-Kaap reën gekry het en is die droogte gebreek in gebiede soos Cradock en Jansenville wat baie droog was.

Die swaar reën in April in die opvanggebiede van die groter damme het veroorsaak dat veral die stroomafgebiede van die Vaal- en Gariepdamme ‘n matige vloedrisiko begin ervaar het maar dit lyk nie asof dit kritieke vlakke gaan bereik nie.

Byna al die opgaardamme in die Somerreënvalgebied het baie hoë watervlakke as gevolg van die baie reën in April en loop sterk oor teen die laaste week van April. Die gemiddelde vlakke van damme in die Vrystaat was op 107% in die derde week van April. Alhoewel die gemiddelde damvlak van Oos-Kaapdamme op ongeveer 66% gestabiliseer het, het die belangrike Kougadam se vlak tot ongeveer 13% gedaal. Damvlakke in die Weskaap is gemiddeld 57% vol teenoor 50% verlede seisoen die ooreenstemmende tyd. Verdamping en verbruik laat vlakke weekliks met tussen 1% en 1.5% daal.

Die watervlak van die Karibadam is op 26% teenoor 22% a paar weke gelede maar is steeds ver onder die 48% van verlede seisoen dieselfde tyd terwyl die Katzedam in Lesotho op 98.4% is en die Mohale dam op 91.4%. Die Hardapdam in die suide van Namibië is op 71.0% van vol volume op 19 April 2022 terwyl die grootste dam in Namibië, die Neckartaldam op 99% is.

2. ENSO en Indiese Oseaan

2.1 ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

Die huidige La Nina-verskynsel duur voort op redelike sterk vlakke, veral vir hierdie tyd van die jaar. El Nino/La Nina verswak gewoonlik in die herfs en wintermaande maar huidig bly dit sterk. Belangrik is die hoë waardes van die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat ‘n maatstaf is van die koppeling van weer- en oppervlaktoestande. Die 30-dae lopende gemiddelde SOI was op 25 April op ‘n skaal van +30 (La Nina) tot -30 (El Nino), op ongeveer +18. Dit is die hoogste waarde sedert die begin van die huidige La Nina in Julie 2021.

Die waarskynlikheid dat ‘n volskaalse La Nina gaan voortduur het verhoog tot meer as 50% wat heelwat hoër is as die normale waarskynlikheid van tussen 20% en 30%. Die kans vir neutrale toestande om voor te kom vir die volgende maande tot die midsomer van 2022/23 is ongeveer 35% en vir El Nino minder as 10%.

Daar behoort meer sekerheid te wees vanaf ongeveer Augustus of La Nina gaan voortduur en of dit gaan verswak om oor te gaan in neutrale toestande maar tans leun dit baie oor na La Nina. Die poel van koeler water onder die Nino-gebiede wat besig is om te vergroot, gee groter sekerheid dat die huidige La Nina kan voortduur.

2.2 Indiese Oseaan

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) Indeks is tans in ‘n neutrale fase maar die nuutste voorspellings dui ‘n skerp daling in die waardes van die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks om oor te gaan in ‘n negatiewe fase vanaf Mei tot ten minste September. (‘n Negatiewe IOD is positief vir somerreënval en dit beteken dat daar koeler water in die westelike Indiese Oseaan nader aan die Afrika kuslyn is en warmer water nader aan Australië, soortgelyk soos in 2021)

3. Reënval- en klimaatsvooruitsigte

3.1 Somerreënvalgebied

Reënval

Die huidige sterk vlakke van La Nina en die ENSO-indikators soos die SOI, is nog baie positief vir verdere reën voor die winter. Die verwagte verandering in die Indiese Oseaan om oor te gaan in ‘n negatiewe fase van die Indiese Oseaan DipooI (IOD) indeks, kan ‘n baie groot impak op klimaatstoestande uitoefen. Tesame met die die verwagte La Nina wat voortduur, kan dit weer verantwoordelik wees vir bogemiddelde reënval in die somer van 2022/23.

Langtermynvoorspellings toon dat reën kan nog voortduur tot die einde van Mei alhoewel korttermynvoorspellings minder gunstig is.

‘n Droë tydperk kan voorkom vanaf Junie tot November wat in lyn is met die verwagting tydens La Nina seisoene, veral oor die sentrale tot westelike dele.

Gemiddelde tot bogemiddelde reënval is weer moontlik vanaf ongeveer November 2022 oor die oostelike dele en wat later in die somer verskuif na die sentrale tot westelike dele.

Temperatuur

Die eerste matige ryp in die sentrale tot suidelike dele van die land is moontlik voor die einde van April.

Die waarskynlikheid vir ernstige ryp is laag voor die middel van Mei. Baie koue toestande is moontlik vanaf die tweede deel van Junie tot laaste deel van Augustus met laat ryp in September en Oktober weer moontlik.

Dagtemperature gaan koel tot matig wees oor die sentrale tot suidelike dele maar warmer noordwaarts tot einde Mei

3.2 Winterreënvalgebied

Reën

Swakkerige koue fronte begin meer gereeld oor die suidelike dele van die land inbeweeg wat kouer toestande veroorsaak met slegs ligte reënneerslae. Hierdie gaan voortduur vir die grootste deel van Mei voordat koue fronte meer intens gaan word met meer reën.

Langtermynvoorspellings is baie onseker met baie min sterk seine. Die mees waarskynlikste scenario is dat die reënvalseisoen laat gaan begin (Junie) maar verbeter om ‘n piek te bereik in Julie en Augustus. Dit lyk egter nie asof daar ‘n baie droë (ramp) seisoen verwag word nie.

Temperatuur

Temperature gaan heelwat koeler wees van nou af en dit lyk asof die baie warm toestande nie gaan terugkeer voor die winter nie.

3.3 Namibië

Min reën word verwag vir die res van April maar ligte reen is moontlik in die suidelike dele in die tweede week van Mei as gevolg van ‘n frontale stelsel wat koeler en bewolkte toestande kan veroorsaak. Min reën vir die winter tot ongeveer November.

4. Opsomming en samevatting

La Nina toestande duur voort wat uitsonderlik is vir hierdie tyd van die jaar.

Korttermynvoorspellings is nie positief vir verdere reën voor die winter nie maar langtermynvoorspellings is nog positief vir verdere reën in Mei in die Somerreënvalgebied.

Ligte reënneerslae kan voorkom tot in Meimaand oor die Winterreënvalgebied maar die begin van die werklike winterreënvalseisoen kan eers later wees teen Junie. Dit kan geassosieer wees met stormagtige toestande en redelike swaar sneeu in hoërliggende gedeeltes.

5. Vrywaring:

Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Besoek LEMKEN by NAMPO 2022

Angus Pioniers jaarlikse veiling