in

Nog ‘n plaasaanval in die Vrystaat

This post is also available in: English

Klaus Meier (81) se vrou het Sondagoggend sy dooie liggaam in hulle plaashuis aangetref. Klaus het verskeie steekwonde aan sy liggaam gehad.

Vrystaat Landbou (VL) spreek sy innige meegevoel uit teenoor die familie van Klaus, van die plaas Asgard naby Ladybrand, wat vermoor is.

VL veroordeel enige vorm van plaasaanvalle en misdade en spreek hom ten sterkste uit teen wat met Meier gebeur het.

Gerhard Kriel, hoof uitvoerende beampte van VL, het sy organisasie se lede en boere in die Vrystaat gemaan om betrokke te wees by georganiseerde landbou.

“Vrystaat Landbou veroordeel die sinnelose geweld wat teen boere gepleeg word en wil tog die landbougemeenskap vra om aktief betrokke te wees by die strukture van georganiseerde landbou,” sê hy. “Dit sluit onder andere die aktiewe toepassing van die Landelike Beveiligingsplan en ook ondersteuningsnetwerke van onmiddellikke boere in die omgewing, soos byvoorbeeld die van jou buurman, in.”

Kriel sê veral in die lig van ’n vorige aanval in Ladybrand, waarin ’n plaasbestuurder op 19 Maart 2018 vermoor en sy vrou aangerand is, is dit belangrik dat boere in dié omgewing se ondersteuningsnetwerke in plek moet wees. Hy meen dit stel boere in staat om hulle veiligheid op te skerp.

VL doen ’n beroep op sy lede om die organisasie se veiligheidstrukture, in samewerking met die polisie, te ondersteun en deurlopend hulle veiligheid te verbeter.

Meier is vermoedelik op 15 Junie 2018 naby Marseilles, tussen Ladybrand en Tweespruit, vermoor. Sy lyk is op 17 Junie 2018 gevind. Volgens VL se inligting is die motief vir die moord nie duidelik nie en was daar geen geforseerde toegang tot die huis nie.

Volgens Bernard Maree, VL se Veiligheidsverteenwoordiger in die Mantsopa-streek, word die nadoodse ondersoek op 19 Junie 2018 gedoen.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, sê Ladybrand is ’n gevaargebied, aangesien twee (Meier en die plaasbestuurder) van die drie moorde in die Vrystaat daar plaasgevind het. Daar was altesaam drie aanvalle hier in 2018.

VL is in kontak en werk nou saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) om veiligheid by die grens te verbeter. Alles moontlik word gedoen om voorvalle soos Meier s’n te voorkom.

  • Volgens Buys was daar onlangs goeie terugvoer by ’n Provinsiale Prioritetiskomitee- vergadering, wat die polisie, weermag en ander belanghebbendes insluit, oor operasies wat by die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho uitgevoer word. Verskeie suksesse is aangemeld en Buys is positief daaroor.
  • Dié gesamentlike operasies tussen die SAPD, SANW en Lesotho-eweknieë word in oorgrens-areas uitgevoer. “Tydens die operasies word padblokkades gehou, veediefstal aangespreek en gesteelde voertuie word teruggevind,” sê Buys. “Arrestasies word ook gemaak oor die vervoer van vee sonder permitte. Ons wil graag hierdie operasies meer gereeld, byvoorbeeld maandeliks, langs die grens sien.”

Volgens die VL VKB Veiligheidslessenaar se inligting het daar vanaf 1 Januarie tot 18 Junie 2018 altesaam 17 plaasaanvalle, waarvan drie moorde was, in die Vrystaat plaasgevind. In dieselfde tydperk verlede jaar was daar 28 aanvalle, waarvan twee moordvoorvalle met drie moordslagoffers. Dus was daar ’n afname in die getal plaasaanvalle in die provinsie, alhoewel dieselfde hoeveelheid moorde gepleeg is.

Bron: Vrystaat Landbou

 

 

 

 

 

 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

agri sa

“Produktiewe landbougrond sal nie gevat word nie”

NWK en sy boere wil droë Suid-Kaap weer help