in

NAMPO-visier ingestel op doeltreffendheid met tegnologie

This post is also available in: English

Die NAMPO Oesdag 2018-enjin staan in die wegspringblokke en dreun in gereedheid op dié toonaangewende landbouskou wat op 15 tot 18 Mei buite Bothaville aangebied word.

Met nagenoeg 740 uitstallers en ʼn verwagte bywoningsyfer wat verlede jaar se 78 648 besoekers kan oortref, word Graan SA se NAMPO Oesdag gereken as die hartklop van landbou in Suid-Afrika. Dit bied aan boere ‘n unieke platform om met die landboubedryf se top rolspelers te netwerk, vriendskapsbande en betrekkinge te versterk en om dit wat NAMPO bied, te kom geniet in ‘n rustige plaasatmosfeer.

“Suid-Afrikaanse landbouboere se ontvanklikheid vir nuwe tegnologie is een van die hoofredes waarom die land kan roem op volhoubare voedselproduksie. ‘Effektiwiteit met tegnologie’ is vanjaar se tema en dit vind groot byval by boere,” sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA.

NAMPO 2018 bied ‘n gediversifiseerde tentoonstelling met ‘n verskeidenheid van nuwe tegnologie, produkte en dienste op een terrein. Boere kan vergelykings tref en ingeligte besluite neem met die oog op volhoubare produktiwiteit en winsgewendheid. “Graan SA se fokus op ‘n beter, eerder as ‘n groter NAMPO Oesdag, sal ook deurgaans nagestreef word om ‘n landboufamilie-gevoel te behou en uit te bou,” het De Villiers gesê.

Landboumaatskappye en handels- en beleggingsagentskappe van onder meer Israel, Pole, Engeland, Amerika, Argentinië, Indië, Frankryk, Italië, Denemarke, China, Turkye en Rusland sal aan die Oesdag deelneem. Uitstallers van Rusland is deel van die splinternuwe Russiese paviljoen en die Italiaanse afvaardiging spog met meer uitstallers as vorige jare. Die Britse Departement van Internasionale Handel is hierdie jaar terug met ʼn groter afvaardiging uitstallers.

Graan SA se ontvangslokaal vir belangrike gaste is vergroot weens ‘n toenemende behoefte vir spasie met die oog op amptelike ontmoetings en gesprekvoering. NAMPO is die één geleentheid waar rolspelers soos kommersiële en opkomende boere, produk- en diensverskaffers, politici en ander beleidvormers, staatsamptenare, buitelanders, media en die algemene publiek skouer kan skuur binne ‘n unieke atmosfeer van welwillendheid. ‘n Groot getal Afrikabesoekers en -afvaardigings word ook by die Oesdag ontvang.

Bron: Graan SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Wolmark styg met 4,1%