in

NAMPO skep ’n werklike omgewing vir Hino

Hino

This post is also available in: English

Hino praat net met groot lof van die landbousektor. “Dit verstom my hoe veerkragtig hierdie bedryf is,” sê Leslie Long, senior bestuurder – produk- en behoeftebeplanning van Hino Suid-Afrika. “Die boere is altyd positief ten spyte van bedreigings en uitdagings soos droogtes, grondhervorming en stygende insetkoste. Maak nie saak waar ’n boer vandaan kom nie, hy is altyd toegewyd.”

Hierdie gewilde trokvervaardiger het vanjaar ’n klomp motor-en trokjoernaliste na Nampo genooi en twaalf van hulle studente in hulle nuwe internskapprogram saamgebring om te sien hoe skou die boere en die landbousektor. “As ek ooit tussen Nampo en ’n ander skou moet kies, sal Nampo altyd wen,” sê Leslie. “Hierdie is die belangrikste plek vir Hino om te wees. Die vlak van interaksie met ons kliënte is baie hoër in vergelyking met ander skoue. Hier praat jy regstreeks met jou kliënt en vind jy baie minder bandskoppers en mense wat net gratis ‘freebees’ soek en nie regtig daarin belangstel om die produk te koop nie. Nampo skep ’n werklike omgewing.”

Hino het verlede jaar dieper in die boere se harte gekruip met hulle betrokkenheid by die Boere in Nood-program, “maar ons wil dit nie as ’n bemarkingstrategie gebruik nie; dit is slegs ons verbintenis aan die landbou om iets terug te gee,” sê Leslie. “Verskeie boere wat verlede jaar swaar gekry het en hierdie seisoen goeie reën gehad het, het ons genader en gevra of ons voer, wat hulle vir boere wat nou swaarkry wil skenk, kan stuur. Ons wil graag meer boere kry wat wil voer skenk,” sê hy.

So sag as wat Hino se hart is, so taai is hulle trokke. Daar ry baie Hino’s op die slegte plattelandse paaie en grondplaaspaaie rond. Hulle het ’n Dyna, ’n 300, twee 500’s en twee 700-reekse uitgestal wat die boere kon gaan bekyk.

’n Slim skuif van Hino was om hulle Dyna, wat pasgemaak is om daardie ‘lastige klein vragte’ te vervoer, so aan te pas dat dit nou as ’n ligte kommersiële voertuig in plaas van ’n medium kommersiële voertuig geklassifiseer kan word. Nou kan enige persoon met ’n rybewys ’n Dyna bestuur, wat verreikende gevolge vir boere inhou en die belangstelling het dit bewys. Daar is ook besluit om vier standaard variante van die Dyna beskikbaar te stel: ’n valkant, wipvalkant, kantseil en toewabak.

In die 300-reeks is die 614, 714 en 815 met outomatiese ratkaste toegerus. “Onafhanklike toetse het onlangs bewys dat ons outomatiese ratkas se brandstofverbruik 16,5% minder as mededingende alternatiewe ratkaste is,” sê Leslie.

In die toekoms gaan Hino ook meer outomatiese ratkaste aanbied. “Ons vind dat ’n outomatiese ratkas meer gewild is omdat dit die bestuurder se werk makliker en minder veeleisend maak.”

Dit is ook die eerste keer dat Hino ’n 4X4 500-reeks, die Hino 1322, met ’n enkelwieltoepassing uitgestal het. Met dubbelwieltoepassing moet al die wiele die sand breek, wat swaar op brandstofverbruik is. Met enkelwieltoepassing voor, breek slegs die voorste wiele die sand en die agterstes volg net agterna. “Ons het ’n vennootskap met Palfinger gesluit en ’n hyskraan op die 4X4 500-reeks gesit om te wys hoe ’n boer swaar items met gemak kan optel en vervoer.

Die 1626 bly steeds die brood-en-botter-voertuig vir die boer. Hino het die kenmerkende beestralies opgesit, maar baie ander konfigurasies is moontlik.

Die 700-reeks bly die ouboet wat boere steeds gebruik om hulle produkte na die silo of mark te neem. Die 2845 met die voerbale en ’n indrukwekkende Hino 3541, 16-m3, 8X4 kantelbak wat meer in die boubedryf gebruik word het ook ’n groot indruk gemaak.

Dit is baie belangrik vir Hino om nuwe bloed in die maatskappy te kry. Hulle het onlangs ’n indiensopleidingsprogram bekendgestel en die eerste 12 aanstellings in hulle nuwe indiensopleidingprogram gaan van verkope en administrasie tot bakbou leer en selfs ’n swaarvoertuiglisensie moet verwerf word om die program te slaag. Dit sal gelykstaande aan ’n NQF4-kwalifikasie wees.

Hino se voetspoor is baie sterk in die platteland. Hulle het 65 agentskappe regoor die land, waarvan 43 Toyota en Hino kombineer. Dit is een van hulle mededingende voordele en 25% van Hino se mark is in die landbou- en voedselsektor.

Kontak jou naaste Hino-handelaar of besoek www.hino.co.za om meer oor die staatmakertrok uit te vind.

Hino
Die Dyna-valkantwipbak het baie aandag by Nampo getrek.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Besproeiing: Lindsay loop voor met Zimmatic

Strautmann-misstrooiers vir vinnige sondersukkelwerk