in ,

Namibiё se sewe maer jare

drought

This post is also available in: English

Deur Jaco Cilliers

Sommige dele van Namibiё het sewe jaar laas behoorlik reёn gehad. Dit is al ’n nasionale probleem en president Hage Geingob het in Mei vanjaar reeds die land tot rampgebied verklaar. Die hele land, van Ovamboland in die noorde tot aan die Suid-Afrikaanse grens in die suide, gaan gebuk onder die droogte.

Hansie Esterhuyze, voorsitter van die Karasberge Boerevereniging, sê dat hy die afgelope jaar reeds 200 ooie verloor het en van die 210 springbokke wat in sy wildkamp geloop het is daar nou net agt oor.

Die droogte beïnvloed die hele gemeenskap op verskeie maniere. Dit veroorsaak voertekorte wat op hulle beurt voerpryse die hoogte injaag. Lusern was altyd beskikbaar teen R80 per baal; nou kos dit R165 per baal. Dieselfde sak mielies wat eers R180 gekos het, kos nou R240. “Die ander probleem is dat as ek vandag voer van Suid-Afrika af bestel, vat dit 5 tot 8 weke voordat dit by my afgelewer word,” sê Hansie. Hy meld ook dat die Namibiese regering die boere help deur geen belastings te hef op die invoer van veevoer nie.

Verskeie maatskappye en organisasies verleen hulp aan die boere in die droogtegeteisterde gebiede. Die brandstofreus, Engen, het onlangs R3 miljoen geskenk om die boere te help. Die Namibiese Landbou-unie (NLU) en die streeksboereverenigings doen ook wat hulle kan om die boere by te staan. Boere ontvang ’n subsidie van R50 per sak om voer aan te koop.

Met die huidige voertekort en verhoogde voerpryse kan boere nie bekostig om groot kuddes aan te hou nie. Volgens Hansie is na raming reeds 50 tot 60% van alle vroulike diere geslag of na Suid-Afrika uitgevoer om van die uitwerking van die droogte te ontsnap.

Namibiё gaan gebuk onder die ergste droogte die afgelope eeu.
(Bron: FTW Online)

Die boere wat nie geld skuld op hulle plase nie, het al hulle diere verkoop en probeer hulleself op ander maniere aan die lewe hou totdat die droogte gebreek word. Baie van die boere wat nog geld skuld op hulle plase, loop nou die risiko om alles te verloor aangesien hulle nie die paaiemente kan byhou nie. Volgens Hansie ly die hele gemeenskap, nie net die boere nie: ”Die boere ondersteun die plaaslike ondernemings en winkels op die dorp. As die boere nie geld het nie, kry almal swaar.”

Die melkboere is van die wat die swaarste getref word. Die bedryf het bykans tot stilstand gekom as gevolg van die droogte. As die koeie nie die regte voeding kry nie, lewer hulle minder melk. Tussen die hoёr voerkoste en laer melkproduksie is winsgewendheid vir die suiwelboere bykans onmoontlik.

Beskikbare drinkwater vir mens en dier word ook al hoe minder. Die Hardapdam naby Mariental se watervlak is op ’n rekord-laagtepunt van 18%.

Die positiewe is dat daar wel in dele van die land reёn geval het. Aus het onlangs 24 mm gehad. “Die woestyn is dankbaar. Met 24 mm staan die gras darem weer, al is dit nie baie water nie,” sê Hansie. Die reёnseisoen strek gewoonlik vanaf Januarie tot Mei, maar die boere hoop vir ’n paar buie in September en Oktober.

Misoeste as gevolg van die droogte veroorsaak voedseltekorte vir mens en dier. (Bron: The Namibian)

Baie boere ry water aan om hulleself en hulle diere van drinkwater te voorsien nadat die boorgate op hulle plase begin opdroog het. Al die vervoerkoste verbonde aan die water- en voervoorsiening maak die boer se insetkoste baie hoog. Dit gaan ’n invloed op die vleispryse in Namibiё hê, wat Jan Alleman se sak gaan raak. Droogte is almal se probleem, nie net die boere s’n nie.

Die boere is raadop met die voortslepende droogte, maar die feit dat dele van die Kaap in Suid-Afrika en die suidelike dele van Angola onlangs goeie reёn gehad het, maak hulle tog optimisties vir volgende jaar se reёnseisoen.

Net soos in Suid-Afrika dra die gemeenskap by tot droogtehulp aan boere. Die Dare to Care-fonds het onlangs ’n inspuiting van R75 000 ontvang wat die fonds oor die R8 miljoen-kerf gestoot het, aansienlik nader aan sy mikpunt van R10 miljoen. Die geld is by ’n biomassategnologie-ekspo in Otjiwarango ingesamel.

50 tot 60% van alle vroulike diere is al geslag of na Suid-Afrika uitgevoer om van die knellende droogte in Namibië te ontsnap. (Bron: informante.web.na)
Damvlakke het tot n rekord-laagtepunt gedaal. Party dele van Namibië het sewe jaar gelede reёn gehad. (Bron: The Citizen)

What do you think?

-1 points
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 100.000000%

wol

Wolmark styg op 2de veiling

afgri

AFGRI Equipment: Soek en koop plaastoerusting in AFGRI se nuwe digitale superwinkel