in ,

’n Boer kan enigiets met ‘n Isuzu-trok uitrig

This post is also available in: English

Die dapper skoene wat Isuzu Trokke Suid-Afrika (ITSA) aangetrek het deur hulle eie bakboumaatskappy te koop, het in Augustus in ProAgri onder die loep gekom. Sodoende het ITSA daarin geslaag om die waardeketting te verkort en die wagtydperk vir trokke drasties te verminder.

ITSA het intussen die sluier oor hulle bakbouoperasie in Port Elizabeth gelig en ProAgri genooi om te gaan kyk hoe lyk ’n volwaardige bakbouaanleg wat bakke vir beeste, skape, volstruise en wild kan bou, asook platbakke vir sitruskratte tot valkante vir massagraan. Kanu kommersiële bakbouers skrik ook nie vir personeeldraers, of selfs kombinasietipes nie, en dit terwyl landbou maar 15% van die mark is wat hulle bedien!

Isuzu1
’n Beestrok wat deeglik ontwerp is om grondpad te trotseer.

“Ons bou elke jaar ongeveer 450 trokbakke, waarvan 15% vir die landbousektor bestem is. Die tipiese trok wat op ’n plaas gebruik word, het 450mm hoë valkante en kan vir gewone plaaswerk aangewend word. Vir die boere wat ernstig is oor die aanry van kratte en palette, kan die valkante verwyder word om eerder daardie ekstra gewig vir nuttige vrag tegebruik.

Vir die vervoer van graan en ander massavrag kan valkante tot so hoog as een meter opgesit word. Dit is ook gebruiklik om ’n klein klappie binne-in die groot valkant te sit sodat die uitvloeiende graan beter beheer kan word,” sê Terry Scholtz, verkoopsbestuurder van Kanu Commercial Body Construction.

Vir die aanry van skape bou Kanu ’’n beesraam wat in die helfte gedeel kan word vir ’n ekstra vloer. Volstruise en wild het baie meer fiemies – daar moet gesorg word dat die binneruimte deeglik geseël word sodat ’n volstruis nie sy nek of bene in ’n gaping kan indruk nie. Wild wil natuurlik in donkerte reis en daarvoor word hout of hardebord gebruik sodat die houruimte ligdig is. Om te verhoed dat die diere gly, word die vloer met ’n anti-gly staalrooster uitgelê.

Isuzu2
Kanu se trokke se kleiner onderdele word met die fynste presisie deur ’n rekenaarbeheerde masjien uitgesny.

“Ons gebruik gewoonlik sagtestaal vir die bakke en relings, maar sommige ou, gevestigde boere weet wat hulle wil hê en gee nie om om goeie geld daarvoor uit te haal nie. Daar was al boere wat 3CR-12-vlekvry staalvloere met versinkte kante bestel het sodat hulle bakke langer aan die kus moet hou. In die noorde is die roes nie so ’n groot probleem nie, maar hier by ons is dit sinvol,” sê hy.

Frikkie Viljoen is verkoopsbestuur-der by Isuzu Trucks Commercial (ITC) in Port Elizabeth. Hy werk regstreeks met die boere en sê dat dit veral die sitrusmark rondom Port Elizabeth is wat hom besig hou. “Die belangstelling in trokke wat in die oggend met ’n afhaalbare dak en bankies toegerus kan word om werkers te gaan haal, groei nou sterk. Die trok moet dan natuurlik deur die dag sitrus kan ry en in die namiddag weer gereed wees om die werkers huis toe te neem.”

Die grootste gemene deler op die meeste plase is maar veeldoeligheid en Terry het onlangs ’n versoek gekry vir ’n beestrok, wat ook ’n sywaartse wipbak moet wees sodat dit ander produkte kan vervoer.

Uit die Wes-Kaap het daar ’n ander interessante versoek gekom: ’n Gemeenskap wat in ’n kibboetsopset georganiseer is wat opleiding vir plaaswerkers gee, het gevra vir ’n veeldoelige voertuig met ’n laaiblad wat ’n laaigraaf-trugrawer op en af kan tel. Daarbenewens moet die bak ook ’n behoueringskrat met ’n ingeboude slaap- en kombuisgerief tussen die plase kan vervoer. Terry het gelukkig geen probleme met die kopkrappers nie en sien uit na elke nuwe uitdaging.

Vir meer inligting kan 08600 ISUZU (47898) geskakel word, of besoek www.isuzutrucks.co.za.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Land Cruiser 200: Nou ‘n waardige weeldewa

Met Kubota bespaar jy tyd en geld