in ,

Moeg geploeg? Boer vorentoe met geenbewerking soos die Argentyne!

geenbewerking
Die dekgewasse word gebruik vir groenvoer tussen die graanseisoene.

This post is also available in: English

deur Jaco Cilliers

Waardevolle kennis oor geenbewerking is onlangs deur twee Argentynse landboukundiges, Carlos Galarza en Manuel Ferarri, by die Argentynse boeredag op die plaas, Klippoort naby Standerton gedeel. Die doel van die boeredag was om vir boere te wys hoe om so doeltreffend as moontlik met die geenbewerkingmetode te boer.

Die boeredag is op 9 September op die Odendaals se plaas aangebied in samewerking met die Federale Beleggingsraad (FDI) en die Argentynse Instituut van Landbou (INTA).

 Hendrik Odendaal is die derde geslag wat op die plaas boer en hy het in 2007 begin oorskakel van gewone boerderymetodes na geenbewerking. Teen 2010 is al die lande volgens die geenbewerkingmetode geplant.

 Die doel met geenbewerking is om nie die natuurlike groei van plantwortels te ontwrig met onnodige grondbewerking nie. Dit plantwortels bied ’n reeks voordele aan die boer: Dit help om erosie te bekamp, in die geval van peulplante help die nodules wat op die plantwortels groei om stikstof natuurlik te vervaardig, en van die ander voordele van geenbewerking is:

 • Grond-fauna keer terug en dien hulle natuurlike doel in die ekologie

 • Wateropname en grondstruktuur verbeter algaande

 • Vogbewaring

• Beperk wind- en watererosie

• Dit kan met kleiner trekkers gedoen word en verlaag onderhoudskostes

• Minder stof tydens planttyd

 • Dekgewasse word op die lande geplant wat as beter weiding vir vee dien wanneer wisselbou toegepas word

 Hendrik vertel dat hulle die afgelope 12 jaar groot sukses behaal het, maar dat daar ook uitdagings is om dié manier van plant suksesvol te maak. “Die grootste uitdaging is om die praktyk goed genoeg te verstaan en hard genoeg daaraan te werk om suksesvol te wees,” vertel Hendrik.

Nodules wat op die wortels van peulplante vorm en natuurlik stikstof in die grond vervaardig.

 Die doeltreffendheid hang af van vier kernfaktore, sê Hendrik:

1. Grondtemperatuur. Lande moet nie te koud wees wanneer daar geplant word nie. “Indien dit ’n nat voorjaar is en daar oormatige materiaal op die grond is, kan dit mens duur te staan kom. Dit sal beter wees om sulke lande later te plant wanneer dit warmer is.”

2. Die eweredige uitstrooi van oesreste

tydens strooptyd. Hendrik sê as oesreste nie eweredig gestrooi word nie, sal dit grondtemperatuur en plantdiepte beïnvloed, wat tot oesverliese kan lei.

3. Onkruidbeheer. Onkruid moenie ’n kans kry om groot te word of saad te maak nie. Dit kan nie net ’n beduidende oesverlies veroorsaak nie, maar verswak ook die voedingswaarde van dekgewasse wat tussen seisoene vir weiding geplant word. Dit verminder ook die hoeveelheid biomassa van die weiding.

4. Vogtigheid. ’n Goue reёl is om nie te plant as die lande te nat is nie. Die gewig van die trekkers en ander werktuie trap die grond vas en veroorsaak dan ’n swakker stand wanneer die plante ontkiem.

Hendrik Odendaal, Hendrik Odendaal jr, Carlos Galarza, Manuel Ferrari, ambassadeur Alberto Pedro D’ Alotto, Lulu Odendaal, Hendrik Odendaal sr. Die geenbewerkingboeredag is op die Odendaals se plaas aangebied.  

Die volgende wesenlike verskil tussen geenbewerking en gewone bewerking is dat die grond nooit dor gelaat word nie. Hendrik beveel aan dat daar tussen die verskillende graanseisoene dekgewasse geplant word. Hendrik boer met sojabone, mielies en koring. Die dekgewasse, wat ’n verskeidenheid plantspesies insluit, word dan tussen hierdie seisoene op die lande geplant en dien as weiding vir die beeste.

Peulgewasse en ander plante soos rape word met grassoorte gekombineer. Die nodules wat op die peulgewasse se wortels ontwikkel verskaf op ’n natuurlike manier stikstof aan die grond. Die dekgewasse help ook om die grond se pH te beheer, sodat minder kalk gestrooi hoef te word.

Indien ’n boer dit oorweeg om oor te skakel na geenbewerking, moet hy bewus wees daarvan dat dit ’n langtermynbelegging is wat opbrengste kan verhoog. Dit is nie ’n manier om kostes oor die korttermyn te besnoei nie.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Bedryf én publiek baat by Agri-Expo Livestock en die Groot Plaasproe

agrico

Agrico se HSD betaal homself in een seisoen