in

MITSUBISHI ECLIPSE CROSS

This post is also available in: English

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Mitsubishi Motors Suid-Afrika het onlangs sy nuwe kompakte leefstyler, die Eclipse Cross in die Wes-Kaap bekendgestel en daarmee sy modelreeks in Suid-Afrika na ses modelle vergroot. Saam met die Triton bakkie, die Pajero en Pajero Sport sportnutse asook die ASX en Outlander voertuie bied Mitsubishi Motors aan sy kliënte ‘n wye keuse van leefstylvoertuie.

Plaaslik sal die nuweling beskikbaar wees in twee modelle wat albei toegerus is met Mitsubishi se bekende 2.0 liter MIVEC 16 klep viersilinder petrol enjin.  Die enjin lewer 110 kW (6000 rpm) met 198 Nm piek wringkrag teen 4200 rpm.  Kopers kan kies tussen ‘n voorwielaangedrewe of ‘n AWD-model.  Beide modelle gebruik slegs ‘n CVT ratkas wat ook met ratspane agter die stuur beheer kan word, terwyl die ratkas op die AWD-model verskillende ritmodusse bied naamlik “Auto”, “Snow” of “Gravel”.  Mitsubishi noem die viertrekstelsel  in die Eclipse “S-AWC” en is die akroniem vir “Super All Wheel Drive Control”.

Die ontwerp van die Eclipse Cross tref met ‘n koepee-agtige stilering wat terselfdertyd sportief, dinamies en modern vertoon.  Internasionaal is die Eclipse Cross al in meer as ‘n jaar beskikbaar en het reeds meer as 80 000 eenhede van die hand gesit.  Sedertdien het die Eclipse Cross ook al etlike internasionale toekennings verwerf waaronder die “Good Design”-prys wat uitnemendheid en vernuwing in ontwerp erken en bekroon.  Die Eclipse Cross is ook in Japan aangewys as Motor van die Jaar by ‘n konferensie waar motorjoernaliste en navorsers beїndruk was met ondermeer die stilering, maar ook die padhouvermoë en verrigtinge op veral rowwe paaie.

Die ruim kajuit van die Eclipse Cross verras met goeie ergonomie en ‘n stylvolle uitleg wat weelderig en modern vertoon. Afwerking is uitstekend met bogemiddelde bougehalte en materiale wat spreek van goeie gehalte.  Die AWD model se leerbekleedsel het ook kleurgepaste stikwerk. Ek wil my verstout om te sê dat die Eclipse Sport in die verband ‘n nuwe standaard stel in sy prysklas.  Die kajuit bied gemaklike sitplek vir vyf insittendes met indrukwekkende beenspasie vir die agterste passasiers.  Ek is 1,85 en ek kan gemaklik agter myself sit wat ‘n rariteit is onder die kompakte sportnutse tans in Suid-Afrika beskikbaar. Die agterste sitplekke kan 60/40 verdeel en platvou terwyl die bagasieruim genoeg spasie bied vir al vyf insittendes se naweekbagasie.

Kopers in Suid-Afrika vereis dat leefstylvoertuie goed toegerus moet wees en die Eclipse Cross stel ook nie hiermee teleur nie.  Standaard toerusting sluit ondermeer in ‘n  7” hoë definisie kleur raakskerm waar klank-, kommunikasie- en motor/rit inligting asook SATNAV intuїtief beheer word. Ook die trukamera beelde word hier vertoon.  Bluetooth, AppleCar Play en Android Auto aanpasbaarheid asook ‘n USB en AUX koppelpunte is beskikbaar.  Verder bied die Eclipse Sport klimaatbeheer, stembeheer vir die telefoon na Bluetooth asook afstandbeheer skakelaars vir spoedbeheer, telefoon en klankstelsel op die leeroorgetrekte stuurwiel.

‘n Klein glasskermpie bo-op die instrumentepaneel voor die stuurwiel, weerkaats ritinligting in volkleur na die bestuurder. Sleutelose toegang en aanskakel, verhitte sitplekke, elektriese beheerfunksies vir die bestuurdersitplek, wegvoubare kantspieëls en vensters dra alles by tot ‘n aangename ritervaring in die nuweling.  Die Eclipse Cross word standaard toegerus met LED dagryligte, parkeersensors, 17” of 18” allooiwiele (na gelang van model), funksionele dakrelings asook ‘n volgrootte spaarwiel onder die bagasieruim.

Bestuurshulp sluit in etlike standaard passiewe en aktiewe veiligheidstelsels waaronder parkeer gonsers, sewe lugsakke, ABS remme met elektroniese remkragverspreiding (EBD), elektroniese stabiliteitsbeheer (ESP), heuwel wegtrekhulp, ISOFIX hegpunte asook deure wat outomaties sluit wanneer die motor wegtrek.  Die Eclipse Cross se rompkonstruksie is ook versterk ten einde impakveiligheid tydens botsings te verhoog.

Tydens die bekenstellingsrit in die mooiste Kaap en Weskus het ons ‘n goeie mengsel van stedelike verkeer, ooppad ry en ook grondpaaie beproef met die Eclipse Cross wat beїndruk het met ‘n stil kajuit, goeie paddinamika asook ‘n uitstekende onderstel en veerstelsel vir greep op die grondpad.  Veral die wyse waarop die onderstel, veerstelsel en AWD-stelsel saamgewerk het om die grondpad wat  gedeeltelik los sand, sinkplaat gedeeltes en klipperigheid selfs teen hoër as normale spoed te hanteer, maak die Eclipse Cross ‘n veel beter keuse as meeste stoftrappers wanneer daar van die teerpad af verken wil word.

Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 7,9 liter per 100 km vir die voorwielaangedrewe model, met die AWD se verbruik as 8.1 liter per 100 km.

Die nuwe Mitsubishi Eclipse Sport bied ‘n welkome alternatief vir kopers wie graag ‘n relatief bekostigbare en weelderige kompakte nutsvoertuig soek vir naweek- en vakansiewegbreke op die agterpaaie, maar wat ook moet diensdoen as die gesin se daaglikse karweier.

Pryse:

Mitsubishi Eclipse Cross 4×2                       R399 995

Mitsubishi Eclipse Cross AWD                    R449 995

Pryse sluit in ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg, ‘n 5 jaar/90 000 km diensplan asook ‘n padbystanddiens van 5 jaar ongeag die voertuig se kilometers.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Goeie nuus vir suiwelbedryf: SA Suiwelkampioenskappe lok 882 inskrywings

NERSA se tariefbesluite sal boere seermaak