in ,

Mieliename – die oorgang van mooi na funksioneel

mielie

This post is also available in: English

Mooi, beskrywende, romantiese name het die mieliebedryf versier in die tyd voor bastersaad – toe ՚n man nog vier of vyf ton per hektaar as ՚n vet oes beskou het en ՚n groot gesin kon versorg met mielieproduksie op twee- of driehonderd hektaar.

՚n Mens verstaan dat niemand vandag winsgewend sou kon boer met daardie liewe ou mooinaammielies nie, maar tog behoort ons nie toe te laat dat daardie name uit ons mieliekultuur verdwyn nie.

Hier is die mooi name van ՚n paar van die mielies waarmee ons voorouers die land gevoed het:

Natal-witperdetand het kort, dik koppe gehad met 12 tot 14 rye pitte. Daar was ook ՚n Natal-geelperdetand.

Hickory King

Hickory King word darem seker nog deur die meeste ouer boere onthou.

Voortrekker was in dieselfde lang groeiklas as Hickory King.

Hickory-perdetand en Eureka het ietwat gouer ryp geword.

Rooistronk Hickory is die naam wat die boere vir Silver King gegee het. Dit was ՚n vinniger groeier as Hickory King.

Rooistronk Hickory is die naam wat die boere vir Silver King gegee het

Anveld was die lekkerste wit groenmielie. Waar die naam vandaan kom weet ons nie, maar die meeste boere het dit “Aandveld” genoem, wat ekstra atmosfeer en betekenis aan die naam gegee het.

In Wes-Transvaal het boere graag Early King geplant en dit kortweg “Ingelsman” genoem.

Potchefstroom-pêrel was ՚n sterk mielie wat goed in die hele Transvaal, Natal en die Noordelike en Noordwes-telike Vrystaat geaard het.

Early Pearl-mieliesaad is in die vroeë vyftigerjare van die vorige eeu deur JFT Mostert van Balfour bemark teen £3 tot £5 per sak met die aanspraak dat dit jou oes kan verdriedubbel.

Wisconsin-witduikpit was ՚n gewilde vinnige groeier in Wes-Transvaal en die Springbokvlakte.

Wit Boesman was ՚n baie vinnige groeier wat eintlik net in die Oostelike Vrystaat en enkele ander plekke geaard het. Dit is ook Wit Kango, Springhaas en Sit-en-dra genoem, laasgenoemde name waarskynlik omdat die plante so kort was.

In Oos- en Wes-Transvaal en die Noordwestelike Vrystaat was Kroonstad Robyn ՚n gewilde geelmielie met egte duikpitte.

Le Roux-proef was ՚n gewilde geelduikpitmielie wat goed geaard het by Lichtenburg, oral op die Oos-Transvaalse Hoëveld, Wes-Transvaal en die Sentrale Vrystaat. Hy het baie ooreengekom met Golden Beauty.

Boesman Cincinnati het eens vir die grootste deel van die Oostelike en Sentrale Vrystaat se geelmielie-oes gesorg en was ook geskik vir laat aanplan-tings in die Noordwestelike Vrystaat en Wes-Transvaal omdat dit so ՚n vinnige groeier was. Bleek Boesman was soortgelyk aan Boesman Cincinnati, maar die pitte was liggeel.

Natal-8-ry was ՚n baie vinnige geelmielie wat oral in Transvaal en die Vrystaat geplant is.

Broodmielies was ՚n baie duidelike soort mielie wat net sagte stysel bevat het. Een bron waarsku: “Kalanders vind dit net so lekker as die mens.”

Die eerste mieliebasters met koue nommername was PP X K64, SA11-dubbelbaster en die geel SA200-dubbelbaster. Daarmee was die mooi era van kleurvolle en verbeeldingryke mieliename verby. Mielies het nou nie meer name nie, maar nommers.

Alhoewel elke boer met ware boerebloed in sy are met verlange na die ou, karaktervolle mieliename terugdink, aanvaar ons tog dat die nommername nodig is en ons in staat stel om steeds te oorleef en ՚n winsie te toon – veral wanneer die nommernaam van betekenis is om die boer iets meer van die betrokke mielie se aard, gedrag en eienskappe te vertel.

՚n Nommernaam is dus sinvol as daardie nommers iets beteken, maar dit sal nog sinvoller wees as die boer presies weet wat die nommers sê. Daarom gee ProAgri elke saadmaatskappy die kans om aan ons lesers te verduidelik waarvoor al die nommers in hulle mieliename staan. Vir sommige lesers sal dit ou nuus wees, maar vir ander splinternuwe, nuttige inligting.

Vandeesmaand spring ons op bladsy 18 weg met PIONEER® se mieliename en terselfdertyd ՚n bekendstelling van nuwe somerkultivars.

Bronne:

Sellschop J en Stead B. 1957. Akkerbougewasse: Mielies. Hulpboek vir Boere in Suid-Afrika. Deel II. Departement van Landbou.

“Hoëvelder”. 1952. Die verbouing van mielies. Boerdery-jaarboek. Impala-uitgewery.

Elbrecht B. 1929. Natuurstudie vir standerd V en VI – Plaasoeste, onkruide, bome en groentes. JL van Schaik.

Mackenzie AJ. 1925. Suid-Afrikaanse Boerdery, Jaarboek vir 1925. Die Landbouweekblad.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

macdon

As koring kon kies: Vitamech se MacDon FD1-bandstropertafel

zimmatic

40-jarige Zimmatic loop nog sterk