in

Mahindra S11-bakkie: Outomatiese ratkas is ‘n groot verbetering

bakkie

This post is also available in: English

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Mahindra het so pas hul  S11 bakkie met outomatiese ratkas in Suid-Afrika bekendgestel – die eerste land in die wêreld om dit te doen.

Mahindra is tans die vinnig groeiendste motorvervaardiger in SA met verkope wat op ‘n jaargrondslag met byna 29% gegroei het volgens die amptelike NAAMSA verkoopsyfers vir 2019.

 Gevolglik will Mahindra op die sukses voortbou en gaan ‘n aantal nuwe modelle plaaslik bekendstel asook ‘n reeks bestaande modelle opknap. Die S11 met outomatiese ratkas in 4×4 en 4×2 modellle lei die aanslag in 2020. Na aanleiding van groeiende belangstelling in outomatiese weergawes gaan aanvanklik slegs die dubbelkajuitmodelle daarmee toegerus word. Die vlagskipmodel in die reeks, die “KAROO” is ook opgekikker en is slegs as 4×4 outomaties beskikbaar. Met spesiale sierwiele, voorste bosbreker asook ‘n rolstaaf agter die kap, vertoon die KAROO visueel indrukwekkend en behoort belangstelling onder kopers te lok. 

Die Mahindra S11 bakkie word aangedryf deur die groep se mHawk turbodiesel 2.2 liter enjin.

Die 4-silinder lewer 103 kW piek verrigting teen 3 750 rpm en 320Nm maksimum wringkrag in ‘n plat kurwe tussen 1 500 en 2 800 rpm. Amptelike brandstofverbruik word aangedui as 7.9 litres vir elke 100 km gery in ‘n kombinasie van stad en ooppadry.

Aandrywing na die pad gaan via die agterwiele of na al vier die wiele (by 4×4 model) deur middel van ‘n nuwe 6-spoed outomatiese ratkas wat in die S11 bakkie debuteer en tans nog net vir die S11 dubbelkajuit bedoel is.

Die ratkas kom met ‘n selfwissel opsie wat in die 4×4 model ook oor ‘n heuwel-af beheer (hill descent control) funksie beskik. Die funksie, in samewerking met die voertuig se traksiebeheerstelsel, spoedbeheerkontrole asook enjin remming en rembeheer word gebruik om die voertuig veilig en stadig teen steil afdraendes gedurende uitdagende veldrytoestande te laat ry.

Tydens die bekendstellingsrit was ons beïndruk met hoe glad en gemaklik die ratkas met die enjin kombineer vir ‘n aangename ry-ervaring op die pad. Ons het ook die ratkas en die S11 se veldry en klipklim vermoë behoorlik getoets en ek kan met vrymoedigheid sê dat die nuweling my juis daarmee baie beïndruk het. Die S11 bakkie dubbelkajuitbakkie is heel bekwaam in die veld danksy ‘n 210 mm grondvryhoogte en ‘n meganiese ewenaarslot (MLB) wat in samewerking met Eaton ontwikkel is. Met ‘n intreehoek van 34˚, ‘n vertrekhoek van 15˚ en ‘n oorklim hoek van slegs 18˚ kon die S11 gemaklik klaarspeel met uitdagende veldrywerk danksy die hulp van die swaardiens Cushion veerstelsel wat in die S11 diens doen. Die Mahindra dubbelkajuitreeks is gesertifiseer om ‘n sleepwa met eie remme plus vrag met ‘n maksimum totale gewig van 2500 kg te sleep.   

Voorkoms gewys onderskei die S11 hom van sy stalmaats met ‘n nuwe ontwerp vir die sierrooster en voorbuffer. Ook die hoofligte is nuut. Verder is die kantspieëls nou dieselfde kleur as die bak en toegrus ingeboude flikkerligte.

Binnekant het die S11 se kajuit ook onder die poeierkwas deurgeloop met veral die voorpaneel wat ‘n nuwe 7” volkleur raakskerm insluit. Hierdie infotainmentstelsel vertoon die kamerabeelde van die nuwe tru-kamera stelsel asook die satelietnavigasiestelsel. Klank en telefoonskakeling kan nou ook via Bluetooth gedoen word in die S11 of met die USB koppelpunt in die voorpaneel. Daar is ook ‘n 12V laaikoppelpunt voor en by die agtersitplekke.

Verder is die S11 standaard toegerus met ondermeer twee voorste lugsakke, outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer, elektriese vensters en kantspieels asook ‘n verstelbare stuurwiel met beheerskakelaars vir die telefoon, klankstelsel en spoedbeheer. 

Die “KAROO” is duidelik herkenbaar as vlagskipmodel met spesiale insignia asook kroom en swart gedetaileerde afwerking. Die uiterlike stilering waaronder spesiale veldry-sierwiele en die ander afwerking is reeds hierbo genoem.

Die Karoo kry ook kantskorte ekstra asook ‘n sluitbare roldeksel  vir die laaibak. Alle modelle kom standaard met rubbervoering vir die laaibak. 

Pryse soos tydens bekendstelling in SA is as volg:

Mahindra Dubbelkajuit Bakkie:

Mahindra S11 AT 4×2 – R384 999

Mahindra S11 4×2 Karoo AT – R399 999

Mahindra S11 AT 4×4 – R414 999

Mahindra S11 4×4 Karoo AT – R429 999

Mahindra SA verkoop die bakkie ingesluit met ‘n 4 jaar / 120 000 km tegniese waarborg en ‘n 5 jaar/100 000 km diensplan. ‘n Gratis padbystanddiens is ook ingesluit. Die eerste oliediens is op 10 000 km met 20 000 km diensintervalle daarna.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

wolmark

Wolmark daal

Lewendehawe-ekspo’s en -skoue poel kragte om biosekuriteit te verbeter