in ,

MacDon tel jou opbrengs op

This post is also available in: English

Christo Visser, verteenwoordiger van Sentraal-Suid Koöperasie, en Henk van Zyl van Swellendam reken die MacDon PW8 is die opteller waarvoor almal gewag het.
Wanneer die platgesnyde koring in een goue golf gladweg tot in die stroper se pens gly sonder om ’n korrel te mors, weet jy jou opteller doen sy werk reg. So ’n opteller is die spiksplinternuwe MacDon PW8.
MacDon is ’n huishoudelike naam in die Wes- en Suid-Kaap en dit is nie sonder rede nie. Om vir 65 jaar aan die voorpunt van kleingraanstrooptoerusting te beweeg, beteken dat daar voortdurend nuwe tegnologie ingespan moet word. In Suid-Afrika is Vitamech, die plaaslike verspreider van MacDontoerusting, gou om die nuwe ontwikkelings huis toe te bring.
Suid-Afrikaanse boere is immers bekend daarvoor dat hulle slim boer met tegnologie!
Die eerste MacDon PW8-opteller in die land het op die Van Zyl’s se plaas net buite Swellendam eksamen geskryf en hy het elke vak met onderskeiding geslaag.
Soos die ontwerpers belowe het, is alles aan die PW8-opteller meer gebruikersvriendelik as enige voorganger. Daar is byvoorbeeld net vyf ghriespunte wat net elke 100 werksure die ghriespomp se aandag vereis.
Die voerbande se spanning word maklik van die kant af gestel. Die voerbande self is eintlik die ding waaroor almal gaande raak, want in plaas van die gewone agt, word daar net vier bande gebruik wat so stewig aan mekaar heg, dat omtrent geen korrel kan ontsnap nie.
Henk van Zyl sê dit is veral by die fyn pitjies van kanola waar hulle die verskil sien: “Jou vermorsing en verliese is baie minder.” Dit is nogtans moontlik om die bande los te maak om net een op ’n slag te vervang of te herstel as dit ooit nodig sou wees. Die voorste stel voerbande oorvleuel ook die agterste stel verder as in vorige modelle, wat bydra om die stroom graan sonder vermorsing in die awegaar in te voer.
Die voerbande volg ’n glipvrye pad in stewige V-groewe op die rollers wat 12,7 cm in deursnee is en hidroulies aangedryf word. Volgens Henk is die maklik verstelbare werkspoed van die opteller ’n groot pluspunt.
Hy sê: “Die grootste voordeel is dat hy saam met die grondspoed van die masjien kan loop, en hy tel definitief baie skoner op ook as gevolg daarvan.”
Kontoere is geen probleem nie. ’n Verstelling aan die spanning van ’n groot veer wat die voorste deel van die opteller aan die agterste verbind, sorg dat die voerband-eenheid ook saam met die stroper enige kontoere volg. Dit is dus nie nodig vir die operateur om gedurig aan die hoogte te verstel nie.
Eenvoud is altyd die sleutel tot doeltreffendheid en dit is ook die geval met die opteller se flottasiestelsel met die skokbreker binne-in die spiraalveer, wat ’n speling van 45,7 cm oor ongelyke terrein bemoontlik. Die stelsel hoef ook nie verstel of gesluit te word wanneer jy hom vervoer nie en die duidelik sigbare lesings alkante van die opteller wys jou dat die PW8 teen presies die regte hoogte werk.
Vir André Nel van Sentraal-Suid Koöperasie, wat voorsien dat hy nog heelwat boere gaan help om hulle MacDon PW8-optellers in die land te stoot, is die grootste voordeel dat die masjien maklik aanpasbaar is by enige stroper. Hy sê by die Van Zyls was daar geen verstelling nodig om die opteller aan die New Holland CX5090-stroper te koppel nie.
Die PW8 is robuust gebou vir baie ure se harde werk, met ’n enkele stewige aaneenlopende ketting wat die awegaar aandryf. Die awegaar het ook ’n glipkoppelaar wat inskop om te keer dat groot klippe in die stroper beland. Indien die stroper dit toelaat, kan die PW8 se hoogte of sywaartse kanteling ook vanuit die kajuit gestel word vir bulte en skuinstes.
Die opteller is 5,6 meter wyd en kan ’n windry van 4,5 meter breed optel. Die werkspoed hang af van die stroper se vermoë, maar hy werk met gemak tot tien kilometer per uur.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

John Deere en ProAgri hou die boer aan die boer en ingelig

McHale en Valtra: Hier’s die gedugte baalkombinasie