in , ,

MacDon sny die pad oop vir lusernboere

This post is also available in: English

“Ons wil oplossings vir boere seprobleme vind. Dit gaan vir ons oor wat die beste sal werk in sekere omstandighede en daarom het ons die MacDon van Vitamech vir die lusernboere in die streek ingebring,” vertel Paul Swiegers, verkoop- en takbestuurder van AgriFriend in Douglas in die Noord-Kaap.

Die aanplanting van lusern in dié besproeiingsgebied het die hoogte ingeskiet. Daar word gepraat van 100 000 ton lusern vanuit die streek, wat na verwagting elke jaar met nog 10% sal toeneem. Die meeste van die lusern word uitgevoer na die Midde-Ooste en die prys vergelyk goed met dié van mielies, met die verskil dat ’’n boer tot agt en selfs nege snysels in ’’n seisoen kan wen.

Dit beteken ook daar kan nie getalm word as dit snytyd is nie. Hoe vinniger die snyproses verloop, hoe vinniger kan hergroei plaasvind. Jan van der Westhuizen, bemarkingsbestuurder van die AgriFriendgroep, sê hulle het by Vitamech aangeklop vir die oplossing vir boere wat teen tyd moet werk en die beste plan is die selfloopplatsnyer, die MacDon M205, met die R85-tolsnyer wat ’n strook van vyf meter deur ’n lusernland vreet. Die MacDon kan teen ’n allemintige 25 km per uur werkspoed deur ’n land draf en dan het hy nog ’n vinniger padspoed om die volgende land te gaan pak – tot 37 km per uur.

Paul sê: “Die ouens doen baie kontrakteurswerk en moet redelike groot afstande van plaas tot plaas aflê. Die MacDon se rygerief en padhouvermoë plaas hom net in ’n ander klas as ander snyers.”

Hy sê hulle help boere om die nodige somme te maak om uit te werk wanneer ’n selfloper lonend begin raak en dit raak gewoonlik sinvol by aanplantings van 200 hektaar of meer.

Een van die boere in die omgewing, Danie Fourie, wat reeds ’n MacDon M155 (die M205 se kleinboet) op die plaas het en nou ’n tweede een gaan aankoop, sê hulle het gevind een selfloper doen amper twee sleepsnyers se werk in dieselfde tyd en die bedryfskoste en onderhoud is baie minder. Die MacDon gebruik maar so 4,5 liter brandstof per hektaar en die Fouries se onderhoudskoste was oor die afgelope drie jaar beperk tot die vervanging van lemme. Hulle het 10 000 ton se lusern gelewer en kan geen staantyd of sukkel bekostig nie. Die M205 het ’n Cummin-dieselenjin met ’n kraguitset van164 kW teen 2 200 opm, wat outomaties na 72 kW verhoog kan word as die toestande dit vereis. Die Tier-3-enjin is kragtig genoeg om voerbandtafels van tot 12,2 meter wyd te hanteer.
Jan van der Westhuizen en Paul Swiegers van AgriFriend saam met Henri Meintjes, Frans Badenhorst en Danie Fourie van Douglas by die MacDon-oplossing vir lusernboere wat nie tyd het om te sukkel nie.

Frans Badenhorst en Henri Meintjes, wat kontrakteurswerk in die omgewing doen, wag nou vir hulle MacDon M205 met die R85-tolsnyer. Hulle het die MacDon by Danie-hulle in aksie gesien en AgriFriend se demonstrasies fyn gaan dophou. Een van die voordele wat hulle beïndruk het, is die snyer se knap draaisirkel op die wenakker, wat verder help om tyd te bespaar. Die M205 se slim rekenaar onthou ook presies hoe hy ingestel was sodat hy na die draai op dieselfde hoogte en teen die regte spoed kan inval. Alle inligting en kontroles is op ’n gerieflike armleuningkonsole aangebring, wat saam met die operateur se stoel in die rondte kan draai.

Een van die grootste voordele van die selfloper is dat hy ewe vernuftig vorentoe en agtertoe kan beweeg. Wanneer jy sny, lyk dit soos ’n trekker wat agterstevoor loop met die snyer reg voor jou, maar om padlangs te ry, draai jy net die sitplek om sodat die trekker se neus vorentoe wys. Die MacDon M205 spog met ’n grondvryhoogte van 1,16 meter vir die hantering van hoër gewasse soos koring.

So hoog soos die selfloper staan, so knus beweeg die R85-tolsnyer oor die grond vir ’n lae skoon snit. Die snyerkneuser het ’n uitstekende geveerde flotasiestelsel wat selfs oor ongelyke terrein glad beweeg. ’n Salwing vir die gemoed is dat die R85-snyer homself teen klippe en ander vreemde voorwerpe beskerm met breekspye aan die buitenste nawe. As die snyer ’’n starre voorwerp tref, breek die maklik vervangbare spy voordat daar enige skade aan die snyer aangerig word. Die operateur kan die spy woertswarts vervang en ’n japtrap verder sny.

“Jy kan in hierdie stadium meer geld maak met lusern as met mielies,” sê Jan. Hy het ook die versekering gegee dat AgriFriend se takke gereed staan met enige slytonderdele of ander onderdele wat moontlik vervang moet word.

Vind meer uit oor MacDon se oplossings by Jurie Swart by 083-375-8840 of jurie@vitamech.co.za; Louis van der Merwe by 072-626-8409 of 021-907-8000 of Paul Swiegers van AgriFriend in die Douglas-omgewing by 072-617-9383.

Kyk ook gerus hierdie video deur ProAgri Videoproduksies!

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Kubota bied winskope

Laat elke liter (homself) tel