in ,

MacDon bring nuwe bandstropertafeltegnologie na SA

Kyk hoe mooi volg die nuwe MacDon FD135-bandstropertafel die kontoer van die plaveisel.

This post is also available in: English

“MacDon bly nie net op die voorpunt van bandstropertafeltegnologie nie, MacDon IS die voorpunt van die tegnologie,” sê Pieter Janse van Rensburg, wat al die pad van Mpongwe in Zambië af gekom het om die Vitamech Boeredag by Bethal by te woon waar die nuwe MacDon FD1-reeks aan boere bekendgestel is.

Ook van ver af by die geleentheid, was Bruce Nesbit, uitvoerbestuurder van MacDon se hoofkantoor in Kanada en Chris Cauchi, produkspesialis van MacDon se kantoor in Australië. Bruce sê hoewel MacDon onlangs deel geword het van ‛n groter groep van maatskappye, Linamar, sal die strooptegnologiemaatskappy in wese altyd ‛n familie-onderneming bly. Hulle luister na hulle boere en daarom hou hulle aan met ontwikkelings in tegnologie om hantering en onderhoud immer te vereenvoudig.

Chris het verduidelik dat die vernaamste verskille tussen die bekende en geliefde FD75 en die nuwe FD1-reeks hoofsaaklik oor drie aspekte gaan:

  1. Verhoging van werkskapasiteit – tot 20% verbetering kan verwag word.
  2. Beter bereikbaarheid van alle verstellings en onderhoudspunte.
  3. Optimale verstellings om aan te pas by die verskillende stropers op die mark.

Die modelreeks se name dui nou die wydte van die toerusting aan in voet. Daar is vier groottes in die FlexDraper-reeks: FD130 (9,1 m), FD135 (10,6 m), FD140 (12,2 m) en FD145 (13,7 m). Die hoofraam, wat vroeër bekend gestaan het as die CA25, is nou die FM100 (Float Module).

Die grootste verandering hier is die verhoging van hidrouliese vermoë met ‛n olietenk van 75 liter (teenoor die vorige 60 liter) en drie pompe vir die verskillende hidrouliese netwerke. Dit beteken groter gewigsvermoë vir die tafel en bied ook ‛n verbetering in die sirkulasie en afkoeling van die olie. Pieter sê hy glo dit gaan ‛n merkwaardige verbetering in brandstofverbruik tot gevolg hê.

Die punte vir oliedreinering en –aanvulling is nou ook makliker bereikbaar. Die trommel met sy terugtrekbare tande, “Retractable Tine Drum (RTD)”, en met sy FeedMacX-voertegnologie kan nou verstel word om presies by die stroper se bek en werkspoed aan te pas. Awegaarvane kan nou op verskillende plekke aan die trommel vasgebout word om in enige toestande en omstandighede die beste vloei van die materiaal in die stroper in te verseker. Die tande op die trommel staan nou bekend as DrumSaver Tines en hulle is nie meer van soliede staal nie, maar hol buisies wat 13% langer is as die voriges, 10% nader aan mekaar en hulle beweeg vinniger in en uit om voer te verbeter. Indien daar ‛n groot versperring is, kan die pypies afbreek om die trommel te beskerm en dit sal nie die stroper binnekant beskadig as dit daar beland nie.

MacDon
Chris Cauchi, produkspesialis van MacDon, wys hoe die awegaarvane op die trommel verstel kan word vir verskillende stropers en strooptoestande. Let ook op die hol vingers wat materiaal oor die trammel voer en die vlekvrystaalplaat onder wat langer gaan hou.

Dit is makliker om die ketting wat die trommel aandryf se posisie en spanning te verstel. Aan die optel- en snykant van die tafel is daar steeds drie drywende seksies wat die grondkontoere knus volg, selfs met die yslike 13,7 m-tafel.

Die middelste gedeelte bly ewe groot in al die modelle, dit is die flanke se lengtes wat verskil. Die flanke se hoeke kan maklik meganies verstel word indien dit nodig sou wees. Jy kan die tafel met ‘n hefboompie van ‘Flex” na “Rigid” skakel, indien jy nie die buigsaamheidsfunksie wil benut nie.

‛n Slim, wakker sensor volg die hoogte van die snystaaf bo die grond en hou dit outomaties op jou gekose hoogte van 1 tot 5, maar as die sensor om een of ander rede ophou werk, beteken dit nie jou hoef op te hou werk nie. Die masjien loop en jy moet dan net self dophou dat jy nie grond of lug sny nie.

Die tol se tande is nou 51% nader aan mekaar met 100 mm (vier duim) tussen hulle. Dit is veral handig om gewasse wat lig, kort of gekoek is beter te sny. Die deksel aan die kant van die tafel swaai heeltemal oop om alle onderhoudspunte maklik te kan bereik. Die vervoerbande aan die kante word nou van hulle eie hidrouliese pomp af gevoer, wat tot 60% verhoging in die vervoerbandspoed kan lei.

Die spoed kan ook opsioneel vanuit die kajuit verstel word. Dit is makliker om die vervoerband se spanning te verstel en soos boere van MacDon verwag, word die materiaal steeds gelykmatig en gladweg, koppe eerste, na die stroper se voerkamer gedra. Snywerk bly perfek omdat die tol aan die snystaaf gemonteer is om ‛n volgehoue kritieke klein afstand tussen die tolvingers en die snyerstaaf te handhaaf.

MacDon
Alles aan die nuwe tafel is makliker bereikbaar en omtrent alles kan ook meganies gestel word, soos die keuse tussen buigsaam en star. Op is “Rigid” en af is “Flex”, beduie Chris Cauchio.

Vitamech, die vertroude en betroubare verskaffer van landbouoplossings, is die verspreiders van MacDon in Suid-Afrika. Kontak hulle by 021-907-8000, Louis van der Merwe: 072-626-8409, Jurie Swart: 083-375-8840, jurie@vitamech.co.za of besoek www.vitamech.co.za.

Die Vitamech- en MacDon-span, bestaande uit Bruce Nesbit, Louis van der Merwe, Chris Cauchi, Nadia Fourie, Shaun Fourie, Connie Campher en Jurie Swart, het boere tydens hulle suksesvolle Boeredag by Bethal sommer lus gemaak vir stroop.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Piket

Plant sonder sukkel met Piket