in ,

Laventel: ՚n kleurige, geurige boerdery

Vars blomme moet so gou moontlik gedistilleer word om die vlugtige olie te onttrek.

deur Tisha Steyn

Gelukkig bestaan die lewe nie net uit distels en dorings nie; daar is ook mooi, goeie gewasse soos mielies, koring en druiwe, maar meer nog – daar is ook kleurige, geurige plante soos die laventel waarmee Ingrid de Waal op Canettevlei in die Stellenbosch-distrik boer.

Canettevallei is eintlik ’n ou wynplaas waar Ingrid se man, Daniël, heerlike Pella- en Mount Sutherland-wyn maak. Ingrid het twee jaar in Frankryk as gasvrou by die vonkelwynhuis, Veuve Clicquot, gewerk voordat sy na SuidAfrika teruggekeer het. Nadat Daniël op Stellenbosch wynkunde studeer het, het hy gaan leer wynmaak in St Emilion, ՚n bekoorlike Middeleeuse dorp in die hart van die bekende Bordeauxwynland.

Hulle is in 1997 getroud en het drie kinders. Albei is versot op Frankryk en die Mediterreense leefstyl, en die betowerende skoonheid van veral Frankryk se Provensaalse streek het Ingrid inspireer om ՚n stukkie Frankryk in die plaasopstal se voortuin te vestig. Die gedagte van ՚n proelokaal vir hulle wyn in ՚n laventellandskap wat toeriste eweneens sal betower, was ook ՚n oorweging. Benewens die nostalgiese skoonheid van die Franse landskap, wou sy ook ՚n inkomste uit die heerlike geur van laventel skep. Die eerste landerye is in 2004 met ՚n olievariëteit, die hibried lavandin abrialis, ՚n kruis tussen angustifolia en lavandula latifolia, aangeplant. Die eerste blomme is die volgende jaar geoes. Die hoofprodukte is vlugtige olie en laventelrys, ՚n woord wat sy geskep het omdat die “laventelblommetjies soos ryskorrels lyk”.

Ingrid de Waal, laventelboer.

Verbouingsproses

Organiese boerderypraktyke word gevolg en geen chemiese middels word gebruik nie. Dit beteken dat die olie 100% suiwer is en dat die produkte geskik is vir gebruik op ՚n sensitiewe vel en in kos. “Ons laventel word onder meer as eetbare kruid bemark en daar mag dus geen gifstowwe op wees nie. Ek is ook baie besorg oor die welsyn van ons heuningkorwe en die duisende bye wat op die laventel wei, en ek sal enigiets doen om hulle te beskerm.”

Laventel is ‘n arbeidsintensiewe produk en moet met die hand gesny
word.

Ingrid vertel verder: “Ons het twee variëteite: Abrialis, die olie-variëteit, en die tuinplant Dentata, oftewel Franse laventel. Abrialis word in Januarie geoes en die Franse laventel dwarsdeur die wintermaande tot aan die einde van September. Die oes van laventel is arbeidsintensief, want dit word met die hand geoes. Hiervoor word werklose jeugdiges van die nabygeleë Vlottenburg-woonbuurt ingespan. Laventelsteggies word geplant, want lavandin abrialis is ՚n steriele hibriedvariëteit wat nie saad produseer nie. “Ons maak al ons steggies self sodat ons die plantjies gereed het wanneer ons moet inboet.”

Hulle peuter nie met die grond nie. “Ons meng minimaal in met die grond en ploeg net die bogrond vlak om, om dit los te maak. Daarna strooi ons landboukalk in die rye om die pH-vlak te verhoog, want laventel floreer in ՚n alkaliese omgewing.” Vir besproeiing word slegs drupperpyp gebruik.

Hulle maak self kompos van perdemis, druiwedoppe, houtskaafsels en hoendermis en geen chemiese bemesting word gebruik nie. “Ons gebruik ook graag trichoderma, ՚n natuurlike bakterie, om die plante weerstandig teen siektes te maak.”

Varsgesnyde laventel.

Oesproses

Die oliebosse word in Januarie met sekels gesny, in kratte gepak en so gou moontlik na die stoomdistilleerder geneem wat die olie onttrek. Een ton vars blomme lewer sowat 12 kg olie. Die pulp wat agterbly word as deklaag tussen die rye in die landerye gebruik. Elke tweede jaar word die hele oes gedroog om laventelrys, hulle tweede belangrikste produk, te maak. Omdat dit Januarie en warm is, neem dit ՚n week om droog te word. Die tuinsoort-laventel word dwarsdeur die winter met die hand gesny,

in bossies gebind en vars verkoop of gedroog en buite seisoen verkoop.

Die drie De Waal-dogters tussen die laventel.

Produkte

Hulle doen al die werk self. Ingrid maak seep en het twee vroue wat permanent in die fabriek help met die pluk van bossies, die verpakking en bestellings opmaak. Gedroogte laventel is sterk in aanvraag by bruide, seepmakers en knutselaars (crafters). Die geur sit in die blommetjies wat in ՚n rits aan die blomstingel groei en wanneer dit gekneus word, die heerlike geur vrystel wat tot vyf jaar hou!

Bondels vars laventel

՚n Deel van die laventel, wat ՚n pragtige prentjie maak wanneer dit tussen Mei en Oktober vol in die blom staan, word as snyblomme gekweek. Dan word bondels gesny wat aan bruide, winkels en bloemiste verskaf word. Die blomme word styf vasgebind in bondels van 60 stamme van sowat 25 cm lank.

Laventelheuning

Laventellanderye is ՚n byeparadys. Een maal per jaar word heuning uit die korwe geoes. Laventelnektar is subtiel gegeur en is ware fynproewersheuning. “Omdat laventel nie baie nektar het nie, word net beperkte volumes geoes,” verduidelik Ingrid. Omdat die heuning, oftewel miel de lavande, so skaars is, is dit baie gesog. Die heuning is 100% natuurlik, rou en ongepasteur-iseerd. Die feit dat die heuning kristalliseer is juis ՚n teken van suiwerheid, sê Ingrid.

Die winkel op Canettevallei verkoop die laventelprodukte en ander mooi
goed.

Seep

“Ek is absoluut passievol oor natuurlike seep en ek maak amper elke dag van my lewe seep met natuurlike bestanddele soos olies en botters. Ons het ՚n verskeidenheid van meer as vyftig soorte seep waarvan die gebruike wissel van wasgoed, skottelgoed, boerseep, seep vir babavelle en velprobleme soos ekseem en psoriasis. Ons kan ook ՚n seep pasmaak volgens ՚n kliënt se behoeftes.”

Waardetoevoeging

“Ek dink waardetoevoeging tot ՚n landbouproduk is kenmerkend van vroue in landbou. Mans boer gewoonlik met ՚n onverwerkte produk en lewer dit in stortmaat (bulk), terwyl vroue allerhande planne daarmee maak. ՚n Man lewer sy pruime in groot kratte by die mark af, terwyl ՚n vrou konfyt en stroop kook of die vrugte droog en rolle daarvan maak.

“Ek het baie vroeg besef ek sal moet waarde toevoeg as ek suksesvol wil wees. Gelukkig is ek ՚n skeppende mens met geen tekort aan planne nie. Waar daar nie aanvraag vir ՚n produk was nie, moes ek aanvraag skep – dit was die grootste uitdaging om mense te oortuig hoekom hulle my produk moet koop.” Laventelrys is ՚n voorbeeld hiervan. “In 2007 was laventelrys ՚n onbekende produk, maar ek het die potensiaal raakgesien en onwrikbaar daarin geglo. Vandag is die produk uitverkoop en ek moet selfs blomme van ՚n ander laventelplaas koop om in die aanvraag te voorsien. Ander produkte het op ՚n organiese wyse gevolg en vandag maak ons ՚n groot reeks unieke produkte.”

Die De Waal gesin: Isabella (17), Regina (23) Ingrid, Daniël en Anaïs (20) om die tafel in die tuin.

Werk en speel

Ingrid glo ondernemers en kleinsakebedrywe is die hart van ՚n gemeenskap en het ՚n rimpeluitwerking op die onmiddellike en groter omgewing. Almal op die plaas ondersteun plaaslike ondernemings soos die kafee. “Ek is ՚n ondernemer in murg en been en is steeds mal oor elke aspek van my werk,” sê Ingrid. “Ek kry bevrediging daaruit as klante terugkom vir dieselfde produk of wanneer ՚n winkel weer bestel.

“Ek het nooit ՚n sakeplan gehad nie, maar is gedryf deur my geloof in die produk wat ek verbou en verkoop. Die saak het met verloop van tyd ontvou en ontwikkel en het ook aangepas by veranderende tye, soos sosiale media en aanlynverkope.” Sy glo aan skeppingskrag op die ingewing.

“My natuurlike instink is en was nog altyd my grootste bondgenoot! Ek is nie dol oor groot risiko’s nie en het verkies om my saak met klein treetjies uit te brei. Ek verkoop net produkte waaraan ek self glo, waarvan ek self hou en weet wat die gehalte daarvan is.” Sy hou daarvan om baie van die artikels wat in die winkel verkoop word, self te maak. “Dit is heerlik om so weg te kom van die fabriekroetine, alhoewel ek ongelukkig nie meer baie tyd daarvoor het nie.”

Sy probeer ՚n gesonde balans tussen werk en speel handhaaf. “Die werk verwys na die fabrieksroetine – dit betaal die fakture; die speel is die skeppende kant, soos die maak van unieke goedjies, en die bywerking van oudhede wat enig in hulle soort is. Neem van foto’s vir ons Instagram-blad is ook noodsaaklik om ons onderneming interessant te maak en mense se aandag te hou.” Die laventelboerdery verdien nie ne ՚n inkomste nie, maar maak ook die lewe vir Ingrid en almal wat dit sien mooi en lekker.

“Die rol van die landskap, die skoonheid van die pers lande in blomtyd en die reuk is ontspannend en laat alles die moeite werd voel wanneer jy ՚n moeilike dag beleef. Ek het min tyd vir ontspan, gaan feitlik nooit met vakansie nie, werk elke dag, ook naweke, maar ek is steeds verlief op my werk.”

Uitdagings

Die grootste uitdaging was die droogte. “Ek kon glad nie besproei nie en het gevrees ek gaan al my plante verloor, maar nie eens een plant is dood nie. Ek kon dit nie glo nie!” Nog ՚n reuse uitdaging is om by te bly met tegnologie. “Ek moes noodgedwonge tydens die inperking ՚n aanlynwinkel te begin om te oorleef, en moes hierdie tegnologie vinnig aanleer. En dit verander so vinnig! Nog ՚n uitdaging is nuwe neigings en smake, en om in pas te bly is nogal moeilik.”

Ingrid het nie eintlik ՚n mentor nie. “Ek volg graag finansiële nuusblaaie om op hoogte te bly van wat in die sakewêreld gebeur. Ek bewonder suksesvolle ondernemers, maar meestal volg ek my eie kop.” Die laventel en die wingerd vul mekaar goed aan om ՚n gesellige geheel te vorm. “Ons is ՚n boetiekwynplasie en maak min wyn, maar alles is van hoë gehalte en het al baie pryse gewen. Ek dink dit vorm ՚n geheel omdat dit my en Daniël se onderskeie passies is. Dit skyn deur, mense ervaar ons plekkie as outentiek, eg en niks kommersieel nie. Mense geniet die visuele ervaring van die laventel wanneer hulle kom wyn proe.”

Bemarking en verkope

Die winkel op Canettevallei is Maandae tot Saterdae oop tussen 10:00 en 17:00. Al die laventelprodukte is in die winkel en aanlyn beskikbaar. Die plaas is ook ՚n gesogte agtergrond vir foto’s, video’s en films. Hulle neem vanjaar ook weer deel aan die Stellenbosch Tuinweek, wat einde Oktober gehou word. “Ons gaan verskeie werksessies vir besoekers aanbied en die geleentheid beloof om ՚n groot jaarlikse gebeurtenis te word.”

Kontak Ingrid de Waal by pella@ adept.co.za of besoek die webtuiste by http://www.canettevalleilavender.co.za/about-us/  

Winkel: https://canettevalleilavender.co.za/shop/  

Instagram: @canettevallei

Facebook: https://www.facebook.com/canettevallei   

Canettevallei-kantoor: 072-730-9811

What do you think?

2 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 2

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

2 Comments

Leave a Reply

    Leave a Reply

    Your email address will not be published.

    Val Boeredag 2022 bereik nuwe hoogtes

    Winsgewende skaapboerdery Deel 11: Benut die koggelrameffek tot voordeel