in ,

Laat Agri Frequencies jou plaas regdokter

Stefaans van Heerden moet natuurlike metodes soos Agri Frequencies se stelsel op sy skilderbokke gebruik om hulle in hierdie vyandige, tropiese klimaat van Pongola gesond te hou.

This post is also available in: English

Die Pongola-streek is nie ՚n plaasdier se maat nie. Hierdie is die perfekte teelaarde vir enige denkbare parasiet, omdat dit warm is, baie reën en nooit regtig koud genoeg word vir die parasiete om te vrek nie. Die getalle neem net eenvoudig toe en dit is slegs boere soos Stefaans van Heerden wat regtig lief is vir diere wat bereid is om hier te te boer.

“Ek onthou as kind van al die dipwerk wat ons moes doen,” sê Stefaans.

Hy het na universiteit teruggekom plaas toe om onder meer die KI en dipwerk te doen. “Ons het minstens een keer per week of elke tien dae in die somer die beeste gedip. In die winter was dit elke tien tot veertien dae, anders bly daar bitter min diere oor. Die hartwaterbosluise maak gate in die diere as hulle lank genoeg op hulle bly,” sê hy.

“Van die boere sê die enigste manier is om die diere te laat vrek totdat net die weerstandige diere kan oorbly, maar dit is ‘n baie duur manier van boer.”

Stefaans het in 2011 skilderbokke aangeskaf nadat hy uit die suikerrietboerdery getree het. Sy mark vereis dat hy ekstensiewe, geharde en aangepaste diere produseer en so min as moontlik gif op sy diere gebruik. Hy is elke aand in sy kraal en kan dadelik sien as ՚n bok vinniger asemhaal of nie dikgevreet is nie, of as die stertjie en oë en ore hang. Die hartwaterbosluis en die niervormige lewerslak is Stefaans se grootste kopsere en het al baie van sy bokke se lewe geëis.

Stefaans se veearts het aanvanklik vir sy bokke bloed gegee, maar daar het steeds baie van hulle gevrek. Hy en sy wagter het die diere ook gereeld gedip, maar die dipstof, veral die opspuittipe, is geweldig duur. “Die boere hier maak ook hulle eie mengsels vir selfs ՚n tiende van die prys, maar dit kan in die dier se liggaam beland en ons weet nie wat die langtermyngevolge is nie,” sê Stefaans.

Drie jaar gelede het Stefaans na ՚n praatjie deur ՚n Agri Frequencies-agent gaan luister. Hy was redelik raadop en was bereid om hierdie vreemde stelsel ՚n kans te gee. Die onderneming het aangebied om dit vir ՚n jaar gratis te doen sodat Stefaans eers kon sien of dit werk.

Stefaans van Heerden het sy bokke met Agri Frequencies se stelsel op die proef gestel en is nou  so ingenome dat hy besluit het om self ՚n agent te word.

Volgens Stefaans werk Agri Frequencies op die volgende kwantumfisika-beginsel: Enige item, (lewend of dood) straal ՚n frekwensie uit en is ook aantasbaar deur ՚n bepaalde ander frekwensie. ՚n Organisme of parasiet kan dus gedwing word om sy habitat te verlaat wanneer dit met dié frekwensie gebombardeer word.

Agri Frequencies gebruik ՚n apparaat om hierdie frekwensies na ՚n kliënt se plaas te stuur. Stefaans moes net die plaas se koördinate en ՚n foto van die parasiet(e) wat hy wil beheer, vir hulle stuur. Hulle vra slegs R10 per hektaar per jaar, ongeag die aantal parasiete wat beheer moet word.

Twee jaar gelede was die stelsel gereed en Stefaans was self verbaas oor die resultate. “Dit het hierdie seisoen besonder baie gereën na die vorige twee jaar se droogtes, wat uiters gunstige omstandighede vir parasiete skep, en steeds is die bosluise en lewerslakke binne perke. Ek het sedertdien nog net een keer ՚n lewerslakgeval gehad en my bokwagter sê hy kan nie onthou wanneer laas ons gedip het nie. Ons het wel een keer die jaar gedip op aandrang van my seuns wat ook aandele in die boerdery het. Daar is steeds bosluise op die diere, maar dit is binne perke sodat die diere weerstandig kan bly,” sê hy.

“Dit is moeilik om die wetenskap daaragter te verstaan of dit wetenskaplik te meet, maar dit werk so goed vir my dat ek onlangs ook ՚n agent vir Agri Frequencies geword het,” sê Stefaans.

“Die R700 per jaar wat ek vir die 70 hektaar waarop my bokke loop betaal, is nie eers een bok se geld nie…”

Elke boer kan self toets om te sien dat die frekwensies hom wel bereik. En die frekwensies kan ook gebruik word om insekte te beheer en jakkalse en voëls te verwilder, dit kan ook 30% water spaar. Die volgende parasiet wat Stefaans en Agri Frequencies die stryd aangesê het, is die rooipootbosluis. Sedert die begin van Maart is dit in Agri Frequencies se visier en Stefaans is baie opgewonde om te sien of die bosluis wat nou tussen sy bokke se horings saamkoek, na beheerbare vlakke sal afneem.

Alhoewel daar steeds bosluise op Stefaans van Heerden se skilderbokke is, is dit binne perke en die sterftes bly ewe min of hy nou dip en spuit of nie.

Kontak gerus vir Jan du Plessis by jan@agrifrequencies.com of skakel hom by 082-429-4055 om meer oor hierdie stelsel uit te vind.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Somer- en wintergewasse 2019: Produksieskatting en voorneme om gewasse te plant

Ontmoet die uitstallers