in

La Nina duur voort

Deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS

Die eerste goeie reënneerslae in die Winterreënvalgebied is moontlik vanaf die middel van Junie. Swaar neerslae is moontlik wat skades kan veroorsaak aan infrastruktuur en gewasse.

1. Huidige toestande

Swaar en “onverwagte” reënval het steeds in Meimaand voorgekom. Meer as 300mm is byvoorbeeld gemeet vanaf 20 tot 23 Mei oor gedeeltes van KZN en vloedtoestande veroorsaak vir die tweede keer in die afgelope twee maande. Meer as 50mm is ook gemeet in ander dele van die land soos Cradock in die Oos-Kaap (55m), Koppies in die Vrystaat (100mm), Greytown in KZN met 51mm en Kathu in die Noord-Kaap met 63mm.

Die reën in die Somergraangebied het in sommige dele skades aan gewasse wat oesgereed is soos sojabone, droëbone en sonneblom. Die reën sal egter help om die brandgevaar te verlaag en die begin van die brandseisoen uit te stel as gevolg van die hoër lugvog en nat grondoppervlaktes. Die reën wat in sommige van die droogte geteisterde gebiede van die Oos-Kaap voorgekom het soos Cradock en Jansenville, het vir die eerste keer die droogte gebreek wat reeds ‘n paar jaar duur.

Die koudste week van die jaar tot op hede het voorgekom teen die einde van Mei en die eerste paar dae van Junie. Die laagste temperature wat gemeet is was Sutherland (-7.9°C), Buffelsfontein naby Molteno (-6°C), Prieska (-5.5°C), Bloemfontein (-5.2°C), Wesselsbron (-4.0°C) en Calvinia (-4.4°C).   

Byna al die opgaardamme in die Somerreënvalgebied het baie hoë watervlakke as gevolg van die baie reën in April en Mei met die Vaaldam op 109%, Bloemhofdam 104.6%, Gariep 100.2% en Vanderkloofdam met 99.0%. Die Wes-Kaapse damme is op gemiddeld 51.9% teenoor 53.9% in 2021 dieselfde tyd. Die Kougadam in die Oos-Kaap is op 13% en die Impofu dam op 10.3%  

Die watervlak van die Karibadam is op 32.8% teenoor die 53% van verlede seisoen dieselfde tyd terwyl die Katzedam in Lesotho op 97.8% is en die Mohale dam op 97.4%. Die Hardapdam in die suide van Namibië is op 69.0% van vol volume op 19 Mei 2022 terwyl die grootste dam in Namibië, die Neckartaldam op 99.2% is.

2. ENSO en Indiese Oseaan

2.1 ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

See-oppervlaktemperature van al die sogenaamde Nino-gebiede is steeds koeler as normaal met die belangrike Nino3.4-gebied wat ongeveer -1°C koeler as normaal is. Belangrik is die hoë waardes van die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat ‘n maatstaf is van die koppeling van die weerstelsels met see-oppervlaktoestande. Die 30-dae lopende gemiddelde SOI was op 2 Junie op ‘n skaal van +30 (La Nina) tot -30 (El Nino), op ongeveer +17.94 en die 90-dae lopende gemiddelde op +16.3.

Die waarskynlikheid dat ‘n volskaalse La Nina gaan voortduur vir die volgende ten minste ses maande, is ongeveer 60% met die moontlikheid van El Nino toestande slegs 5%. Dit lyk egter asof die La Nina effens gaan verswak in die komende maande vanaf Julie tot September maar steeds swakkerige La Nina-toestande gaan handhaaf.

2.2 Indiese Oseaan

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) Indeks is tans in ‘n neutrale fase maar die nuutste voorspellings dui ‘n skerp daling in die waardes van die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks om oor te gaan in ‘n negatiewe fase vanaf Junie tot ten minste September. (‘n Negatiewe IOD is positief vir somerreënval en dit beteken dat daar koeler water in die westelike Indiese Oseaan nader aan die Afrika kuslyn is en warmer water nader aan Australië, soortgelyk soos in 2021).

3. Reënval- en klimaatsvooruitsigte
3.1 Somerreënvalgebied
Reënval

  • Dit lyk of die reënseisoen, selfs met die La Nina steeds teenwoordig, gaan staak met slegs kleiner gedeeltes wat verdere reën kan verwag in komende maande soos die oostelike en suidoostelike Somerreënvalgebied.  Die moontlikheid van gemiddelde tot bogemiddelde reën is steeds goed oor die oostelike en suidoostelike gebiede soos die Ooskaap, kusgebiede van KZN en aangrensende dele van die Weskaap. 
  • Die verwagte ontwikkeling van ‘n negatiewe fase van die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks in komende maande, is ‘n baie positiewe sein vir reënval en tesame met die La Nina wat voortduur, kan dit weer verantwoordelik wees vir bogemiddelde reënval in die somer van 2022/23.

Temperatuur

  • Swaar ryp het begin voorkom vanaf die einde van Mei en sal aanhou tot ten minste die einde van Julie.
  • Dit is egter steeds moontlik dat sporadiese ryp en baie koue toestande kan voorkom tot in September en selfs Oktober wat ‘n groot gevaar inhou vir rypskades op winterkoring, vroeë druiwe en pekanneut variteite asook ander rypsensitiewe gewasse.   

3.2 Winterreënvalgebied 

Reën

Reënvaltoestande gedurende die maand van Mei was gemiddeld tot ondergemiddeld alhoewel daar plek-plek goeie neerslae voorgekom het. Dit lyk asof daar egter min reën gaan voorkom tot ten minste 14 Junie wanneer ‘n redelike sterk frontale stelsel reën kan veroorsaak en meer as 30mm tot 50mm kan voorkom vanaf ongeveer 14 tot 23 Junie met verdere reën in die laaste paar dae van Junie oor die grootste deel van die Winterreënvalgebied. Daar is ‘n moontlikheid van swaar neerslae. 
Ligte neerslae van minder as 15mm is moontik langs die Weskus tot so ver as Springbok en aangrensende distrikte in die tweede deel van Junie.

Temperatuur

Temperature gaan matig wees in die eerste deel van Junie maar heelwat koeler tydens die verwagte bewolkte toestande en reën wat kan voorkom vanaf 13 Junie. 

3.3 Namibië

Min reën word verwag vir die res die winter en lente maar gemidddelde to bogemiddelde reënval is moontlik vanaf November.

4. Opsomming en samevatting

  • La Nina toestande duur voort en gaan verswak vanaf ongeveer Julie maar sal steeds op La Nina vlakke bly tot ten minste die midsomer.
  • Korttermynvoorspellings is nie baie gunstig vir verdere reën in die   Somerreënvalgebied nie met die uitsondering van die oostelike en suidoostelike gebiede waar daar nog ‘n kans is vir reën in die winter. 
  • Redelike swaar neerslae is moontlik in die Winterreënvalgebied vanaf ongeveer 14 tot 23 Junie en meer as 30mm tot 50mm is moontlik.

5. Vrywaring: Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal,  waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie. 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Gundle beskerm jou oes

Valtra: ‘n Trekker vir elke boer