in ,

Kyk so ‘n slim CAT!

Die Cat S61 is baie gebruikersvriendelik met al die belangrikste funksies op die hoofskerm, en die raakskerm sal reageer selfs al is jou vingers nat of al het jy ’n handskoen aan.

This post is also available in: English

Boerdery is nie vir sissietjies nie en ‘n boer se gereedskap moet die pas kan volhou. Gelukkig hoef geen boer nou meer verder te soek vir ‘n foon wat by sy baas kan kers vashou nie.

Die Cat®-S61 slimfoon kan afstand meet, hittebeelde sien, kyk of die lug in die chemiese pakhuis veilig is, jou pad behoorlik in die donker verhelder, twee dae lank aaneen werk, alles doen wat enige ander slimfoon ook kan doen… en nog bel ook! En jy kan hom maar laat val; hy is taai.

Philip Goodwin, verkoopsdirekteur, Afrika, van Bullit, die maatskappy wat spesialiseer in die ontwikkeling van taai, geharde (rugged) selfone, sê as jy eers die foon het, sal jy ontdek waarvoor jy dit alles kan gebruik. Hy sê: “Jy sal gou begin wonder hoe jy ooit daarsonder klaargekom het!”
Die foon is nie ontwikkel net om met die hoofstroomfone se voortdurende opgraderings by te hou nie. Die nuwe of verbeterde funksies is almal ingebou na gesprekke met mense wat die vorige weergawe, die Cat® S60, in hulle werk- of die buitelugomgewing gebruik het.

Philip sê: “’n Foon moet jou kan help om die dinge te doen wat jy moet en wil doen. Die Cat S61 is funksioneel, stewig, sy battery gaan hou, hy het al die jongste tegnologie wat jy nodig het en hy lyk indrukwekkend.”

Die foon is baie gebruikersvriendelik met al die belangrikste funksies op die hoofskerm.

Hittebeeldsensor

Dit was die hittebeeldsensor wat van FLIR®-tegnologie (forward-looking infrared) gebruik maak, wat die S61 se vorige weergawe, die S60, in ’n ander liga geplaas het. Met die S61, sê Philip, was die uitdaging om op die tegnologie voort te bou met hoërdefinisiebeelde en ’n wyer temperatuurreeks.

Die foon kan nou temperature van -20 tot 400°C meet en dit as ’n duidelike beeld op die skerm weergee.Jy kan ’n PDF-dokument van die hittebeeld en die regte onderliggende foto maak om te bêre of te e-pos. Die beeld kan ook in werklike tyd via die internet gedeel word. Met die sensor kan jy sien waar lekkasies is, jy kan kyk of ontsteking die oorsaak is dat ’n skaap kruppel loop, hoe vol die gasbottel is en in die nag kan jy sien of daar enige boosdoeners rondsluip of in die bosse skuil.

Philip vertel dat die foon in ’n skielike sneeustorm in Engeland gebruik is om lammers op te spoor. Die middels wat gebruik word om die lammers te red, moet teen hulle liggaamstemperatuur toegedien word, en die foon is daarvoor ook gebruik.

Laserafstandmeter

So, jy wil weet hoeveel teëls moet jy koop vir die pakhuis se vloer? Maklik! Gebruik jou Cat S61 se lasermeter om die afstand en oppervlakte te beraam. Die foon sal al die syfers langs ’n prentjie van die ruimte bêre en jou help om te visualiseer hoe dit gaan lyk wanneer dit klaar is. Hierdie funksie is bedoel om binnenshuis gebruik te word tot op ’n afstand van agt meter.

Luggehalte

Die luggehaltesensor is geprogrammeer om ‘n verskeidenheid skadelike stowwe in die lug binne ‘n vertrek te meet en op ‘n skaal aan te dui of daar enige gevaar is. Dit meet ook temperatuur en voggehalte, wat veral nuttig kan wees in pakhuise of graanskure waar daar met produkte wat temperatuur- en vogsensitief is gewerk word. Met ProAgri se toetse het die foon selfs opgetel dat daar ’n veldbrand so ’n paar kilometer verder begin het, voordat ons die rook geruik het.

Bittereinderbattery

Philip sê die een eienskap wat deur omtrent alle foongebruikers as topprioriteit gestel word, is batterylewe. Die groot 4500mAh battery behoort twee dae se normale gebruik met gemak te hanteer voordat dit herlaai moet word.

Helder flits

Die ander behoefte van gebruikers was ’n ordentlike flits. Die S61 se flits is 40% helderder as enige soortgelyke foon s’n.

Taai lyf

Die gegote raamwerk is met aluminium verstewig en dit kan ’n val van 1,8 meter op ’n betonvloer oorleef. Dit voldoen ook aan IP68- en IP69-spesifikasies vir stofdigtheid en waterweerstand vir een uur tot op 3 meter diep. Ons toets het ook bewys dat jy onder die water foto’s kan neem.

Ander spesifikasies:

  • 16 MP-kamera agter, 8 MP-kamera voor, 4 K-video
  • 4 GB RAM, 64 GB ROM
  • 2,2 GHz Octa-verwerker
  • 5,2” FHD helder skerm vir buitegebruik
  • Al die jongste Internet- en GPS-tegnologie

Vra vir die Cat S61 by jou diensverskaffer.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Dom Boer se lag vir die dag: