in ,

Kontrakteurboer sê: LEMKEN werk beter vir minder diesel

This post is also available in: English

“Met ‘n vlak stoppelbewerking kan ek teen 18 kilometer per uur deur die land draf. Dis nou met die 6-meter Rubin 9 agter die New Holland T8 – 390,” sê Johan van Niekerk. Johan boer saam met sy pa naby Derby. Die Van Niekerks speel nie as hulle plant nie en hulle het vanjaar ondanks die droogte, maar danksy huurlande en LEMKEN, so 1 500 hektaar vir hulleself bewerk en geplant. Dit is egter nie waar dit stop nie, want Johan doen ook kontrakwerk vir verskeie boere in die omgewing met die hulp van sy twee Rubin-skottelkombinasiewerktuie van LEMKEN. Johan het twee jaar gelede ‘n 3-meter Rubin 9 gekoop en net drie kort maande later besluit om ook in ‘n 6-meter Rubin te belê, ter wille van blitsige goeie kontrakdiens aan medeboere. In die seisoen werk die Rubins strykdeur en Johan sê 150 hektaar in 24 uur is haalbaar as die operateurs in skofte kan werk. Vir die LEMKENs is aanhou werk nie ‘n probleem nie.

Johan se een Rubin het nou al 20 000 hektaar agter die blad en werk nog net so fluks soos die eerste dag. Hy sê in ‘n stadium was daar ‘n probleem met ‘n besending U-boute, maar LEMKEN se mense het al die boute op hulle koste vervang. “Oor dienslewering van Neels Sanders-hulle van NWK en Blackie Swart van LEMKEN self, kan ek beslis nie kla nie,” sê hy. Hy sê hulle het hom baie gehelp aan die begin, want “ek hou daarvan om presies te verstaan waarmee ek werk en ek hou aan pla totdat ek alles weet!” Johan sê daar is ‘n hele paar ander boere in die omgewing wat ook LEMKEN se toerusting gebruik, maar diegene wat die moeite doen om seker te maak dat hulle instellings vir elke taak en grondtipe reg is, is die mense wat met lof van LEMKEN praat. Johan sê hy het al dekgras van heuphoogte so ingewerk dat ‘n mens na die bewerking dadelik kon plant, maar sy Rubin 9 was reg ingestel vir die spesifieke taak. Hy sê as jy byvoorbeeld in los grond werk, kan jy hom nie stel dat hy voor te diep loop nie, want dan kry jy ‘n stootskrapereffek (bulldozer). In harde grond kan jy maar insak met die skottels, maar dan moet jy ook nie probeer om te vinnig te werk nie.

“Jy moet weet, ‘n masjien kan nie vir homself dink nie. Jy moet vir hom dink en dan sal hy vir jou werk. Dis hoekom LEMKEN vir my werk,” sê hy. In die tyd van droogte het hy ook weer die waarde van die wetenskap agter die Rubin se ontwerp gesien en gewaardeer. Die hoek waarteen die skottels sny, is so ontwikkel dat dit bydra tot vogbewaring. Wanneer die stoppels fyngesny word, bly die meeste van die reste in die boonste lagie van die grond en bo-op die grond om verdamping te verhoed en die grondtemperatuur laag te hou. Dit help dat al die vog nie uitbak nie. Wanneer die reste afbreek, verbeter dit die grondstruktuur vir nog beter vogbewaring in die toekoms. Johan is so beïndruk met LEMKEN se toerusting, dat hy besluit het om ook tande in die grond te slaan met twee tandwerktuie wat hy pas aangekoop het, naamlik ‘n 3-meter en 4-meter Kristal. Hy het gekyk na die Karats, maar die Kristal-masjiene was onmiddellik beskikbaar en hulle benodig minder kilowatt per meter omdat die tande verder van mekaar af is (tussen 430 mm en 440 mm).

Die masjiene is egter baie veelsydig, want jy kan ook wye vlerkskare aan die tandskagte monteer om seker te maak geen bossie kan deur die staalnet glip nie. Soos al LEMKEN se tandwerktuie, kan die punte in ‘n kits geruil word, sonder om eers die gereedskapskas met die bakkie aan te ry. “En wat lekker is, is dat die masjiene jou met ‘n egalige, gelyke saadbed los, wat verdere bewerkings uitskakel en sommer baie diesel bespaar,” sê Johan.

Kontak Blackie Swart by 082-404-9651 of b.swart@lemken.com; of Karel Munnik by 082-412-2577 of k.munnik@lemken.com. Besoek ook www.lemken.com om na die produkreeks te kyk, of lees op www.proagri.co.za wat sê die ander “blou” boere.

Johan van Niekerk van Derby by sy twee Rubin 9-masjiene. Die 6-meter Rubin het 20 000 hektaar in twee seisoene bewerk.
Johan van Niekerk van Derby by sy twee Rubin 9-masjiene. Die 6-meter Rubin het 20 000 hektaar in twee seisoene bewerk.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Beheer swartvlek met RovicLeers se jongste navorsing

Skuif bale sonder sukkel met Kanna se baalwa