in

Sprankelwerktuie spesiaal vir die boer: Kanna ken nie kannie

This post is also available in: English

Kanna ken nie kannie

Nuttige landbouwerktuie van die hoogste gehalte teen bekostigbare pryse. Dit is wat Kanna Industries op Worcester vervaardig om boere oor die hele land se lewe makliker te maak.

Die perfekte kombinasie van kundigheid, ervaring en gesindheid om werklik tegnologie-oplossings vir die boer te bied, is saamgevat in die stigter en eienaar van Kanna Industries, Willa Nolte.

As kind op die plaas naby Loxton het hy nie net vir boerdery lief geword nie, maar was hy ook die een wat die enjins herstel het, al die staal- en sweiswerk gedoen het en plannetjies gemaak het om die wolmerinoboerdery beter en makliker te laat vlot.

Later, as goed gekwalifiseerde onderwyser in Meganiese Tegnologie, het hy knaend tegnologie ingespan om sy boerevriende se werk makliker te maak. So gesog en suksesvol was hierdie dienste dat hy vandag sy eie fabriek met die mees gevorderde ontwerpvermoë, vervaardigingstoerusting en bekwame personeel het.

Die fabriek is op Rumax se perseel in Worcester en Willa vertel dat Jaco Pieters van Rumax hom met waardevolle raad en daad bygestaan het in sy oorgang van onderwyser na fabrikant.

Kanna Industries se baalwa werk maklik met ’n trekker van 60 tot 65 kW. Hy tel bale self op sonder die nodigheid om agteruit te stoot. Net een trekker en operateur is nou nodig om bale uit die lande te ry. Foto 2: Kanna Industries se unieke gelykskraper loop op sleë en het twee lemme om paaie, wingerdrye, brandbane en ander grond gelyk te skraap sonder om ’n sloot te vorm en ’n wal grond eenkant te gooi.
Kanna Industries se unieke gelykskraper loop op sleë en het twee lemme om paaie, wingerdrye, brandbane en ander grond gelyk te skraap sonder om ’n sloot te vorm en ’n wal grond eenkant te gooi.

Oor hierdie oorgang is baie boere reeds baie bly. Hulle verwelkom Kanna Industries se beleid om werktuie te ontwikkel op grond van werklike behoeftes wat hulle by boere raaksien en hulle strewe om goeie werktuie, spesiaal ontwerp en vervaardig vir Suid-Afrikaanse toestande, teen bekostigbare pryse aan ons boere beskikbaar te stel.

Kanna Industries het die vermoë en die wil om op aanvraag werktuie wat die boer se behoeftes presies pas te ontwerp en te vervaardig. Elke produk in hulle reeks is gemaak om die boer ’n plaaslike, bekostigbare, betroubare, doeltreffende oplossing te bied.

Die nuttige ministortbakstel van Kanna Industries kan gebruik word om enigiets van vullis tot produkte soos pekanneute met ’n bakkie aan te ry en te stort. Die stortbak word met ’n elektriese wenas op die sleepwa gelaai en gekantel.
Die nuttige ministortbakstel van Kanna Industries kan gebruik word om enigiets van vullis tot produkte soos pekanneute met ’n bakkie aan te ry en te stort. Die stortbak word met ’n elektriese wenas op die sleepwa gelaai en gekantel.

 

Boonop is Kanna-werktuie se slyt-onderdele oor enige koöperasietoonbank te koop sodat niks ooit hoef te staan en wag vir duur onderdele om van oorsee ingevoer te word nie.

Baalsleepwa

’n Ware arbeid- en kostebespaarder is Kanna Industries se baalwa wat ronde bale met net een trekker en operateur op die land laai en werf toe aanry. Daar is ’n model wat ses bale vervoer en een wat nege op ’n slag laai.

Die Kanna-baalwa is slank genoeg om gladweg deur enige hek te glip en met die aflaaislag kan jy kies of die bale op hulle sye moet lê of op hulle koppe moet staan.

Laaigraaf

Wanneer die Kanna-baalwa sy vrag in of voor die skuur aflaai, begin die Kanna-laaigraaf met sy baalhanteerder om die bale netjies weg te ry en te stapel. Hy laai ook bale in die voermenger of op ’n vragmotor van tot drie meter hoog.

Hierdie bekostigbare staatmaker kos veel minder as sy ingevoerde boeties, maar as dit by die werk kom, staan hy geensins terug nie. Verskillende werktuie soos ’n baalgryper, baalpenne of laaiskop word kliks-klaks gemonteer of verwyder.

Kanna Industries monteer die laaigraaf voor aan enige trekker sodat die boer maar net kan opklim en laai.

Skraper

’n Unieke werktuig van Kanna Industries is die skraper wat gebruik kan word om paaie, wingerd- en boordrye, brandpaaie en spilpuntlande gelyk te skraap. Waar ’n gewone skraper bogrond verwyder en eenkant toe gooi om die oppervlak gelyk te maak sodat jy uiteindelik met ’n sloot sit waar jy geskraap het en ’n wal waar die grond gegooi is, maak die Kanna-skraper perfek gelyk sonder om grond eenkant toe te skuif.

Die Kanna-skraper werk 1,8 meter wyd en waar hy geloop het kan jou voertuie met spuite, druiweplukkers of sleepwaens vol delikate produkte gladweg loop sonder dat enigiets uitmekaarskud of papstamp.

Ministortbakstel (skip)

’n Vindingryke produk wat Kanna Industries eintlik vir ’n ander mark ontwerp het en vervaardig is ’n onderneming op sy eie: ’n stel stort-bakke met ’n sleepwa wat agter ’n bakkie gesleep kan word om vullis, maar ook enigiets anders, maklik en gou te vervoer en te stort.

Die bak word met ’n elektriese wen-as op- en afgelaai en gekantel om te stort. Elke bak hou 1,7 kubieke meter, maar dit kan na 2,2 kubieke meter vergroot word.

Die beste nuus van Kanna Industries is dat jy op jou rug sal val as jy sien hoe gunstig hulle pryse is.

Vir meer inligting, praat met Willa Nolte by 072-333-1051 of willa@kannaindustries.co.za. Besoek ook www.kannaindustries.co.za.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Kubota lewer maksimum werk vir minimum diesel in wingerd

Land Cruiser 200: Nou ‘n waardige weeldewa