in ,

Jumil maak mis goud werd

This post is also available in: English

Die goue grondslag van alle gewas-produksie is eenvormigheid. Plante wat akkuraat en eenvormig geplant word, het ’n gelyke kans op sonlig, vog en voedingstowwe, en lewer daarom ’n gelyke, hoë opbrengs.

Dieselfde beginsel geld vir die toediening van bemesting. Die manier waarop kunsmis, kalk en mis toegedien word, kan ’n boer laat wen of verloor.

Ongelyke kunsmistoediening veroorsaak groen kolle en geel strepe in die land, met ’n gepaardgaande opbrengsverlies. Daarom is dit belangrik dat kunsmis eenvormig toegedien moet word, of in ’n presisiestelsel akkuraat na behoefte geplaas moet word om die beste moontlike opbrengs te verseker.

In Suid-Afrika is die pH-balans van grond ook ’n groot probleem en daarom moet kalk meestal gereeld toegedien word. Die insetkoste van kalktoediening kan egter maklik weghardloop as ’n boer dit nie fyn dophou nie en ’n strooier wat net die regte hoeveelheid kalk op die regte plek kan plaas met die laagste moontlike brandstofverbruik, is ’n groot bate. 

Die mis van diere is ’n waardevolle bemestingstof wat boonop help om die grondtekstuur en -struktuur te verbeter. Maar om die beste uit mis te haal, het die boer, net soos met kunsmis en kalk, ’n betroubare, bekostigbare, ekonomiese, akkurate strooier nodig – en daardie strooier wat perfek aan al die boer se behoeftes voldoen, is ’n Jumil van Crop-Tech.

Kyk net wat bied Jumil-strooiers die boer:

Jumil-strooiers is in verskillende groottes beskikbaar om elke boer se behoefte te pas. Boere wat kleiner plant, sal die Jumil 2050 TTD met sy vermoë van 1,6 m3 of 2,5 ton kies, middelslagboere die Jumil Lider 50-50 wat 3,4 m3 of 5 ton mis hou, en boere wat groot plant die 10500 TTD, wat 7,5 m3 of 12 ton mis dra en ook kalk en kunsmis kan strooi.

’n Jumil-misstrooier werk logies en eenvoudig: ’n As van die trekker se kragaftakker af dryf ’n duursame, stewige ratkas aan. Op sy beurt dryf die ratkas die misstrooier se pensketting aan, wat die materiaal na die agterkant van die strooier voer, waar die vloei deur ’n verstelbare skuifdeur beheer word.

Die ratkas dryf ook deur ’n dryfband die twee draaiskywe aan waarop die mis val om met werpers uitgeslinger te word.

Naas Brits, wat in die Opraap-omgewing naby Klerksdorp boer, se boerdery se naam is Dankbaar. Een van dinge op die plaas waaroor hy dankbaar is, is die flinke en presiese werking van sy Jumil Lider 10500 TTD wat hy gebruik om kalk en kunsmis wisselend volgens die behoefte van die grond toe te dien.

Hy gebruik dit vir sy kontantgewasse, mielies en sonneblom, en vir aangeplante weiding vir die Beefmasters en Vleismerino’s op die plaas. Naas gebruik ’n Ag Leader-presisiestelsel wat maklik met die strooier saamwerk om kalk en kunsmis na behoefte toe te dien.

Hy hou daarvan dat die strooier ’n ketting gebruik in plaas van ’n dryfband, omdat die ketting nie kan gly nie. Die tandem-wielstelsel maak sleep en draai baie maklik en saam met die lekker breë hoëflottasie-bande is daar die minimum vastrap in die land. Dit is baie belangrik in Naas se geenbewer-kingstelsel.

Hy gebruik die strooier al sedert 2010 en kan nie uitgepraat raak oor die goeie diens wat hy van sy Jumil-handelaar, Ottosdal Landini, ontvang nie.

“Louwrens Rudolph se diens is puik! Die eerste seisoen het ek een nag half elf gestrooi ter wille van die wind en toe breek daar ’n wiellaer. Ek het hom gebel en teen sonop die volgende oggend was hy en die werktuigkundige hier om dit te vervang.”

Hy ontvang dieselfde uitstekende diens met sy Jumil-planter en geniet die kundigheid van Johan Duvenhage van Crop-Tech se hoofkantoor by Parys. “Daardie man kén ysters,” vertel hy.

Naas Brits van Dankbaar-boerdery gebruik sy Jumil-strooier vir die presisie-toediening van kalk en kunmis. 

Frik van Sittert van Hartebeesfontein het ook sy Jumil-strooier en -planter deur Ottosdal Landini gekoop en is baie tevrede met die diens, maar veral met die min onderhoud wat nodig is. Hy werk self aan sy masjiene as dit nodig is.

Hy sê: “Die tandem-wiele aan die Lider 10500 sorg dat die strooier baie goed gebalanseerd is, daar is minder gewig op die disselboom en ’n mens gebruik ook baie minder trekkerkrag en diesel as met ’n ander strooier van dieselfde grootte.”

Hy sê die strooier vereis so min trekkerkrag dat hy gemaklik met sy 63 kW-trekker kan werk.

Frik se strooier werk ook al vyf jaar lank op die plaas en pas perfek in sy geenbewerking- en presisiestelsel in. “Die Ag Leader-stelsel beheer die spoed van die kettingvloer sodat ek volgens my grondkaart die regte hoeveelhede kalium en fosfaat kan toedien.”

Tielman Esterhuizen plant in die omgewing van Vredefort en Koppies en hy het sy Jumil Lider 10500 gekoop nadat hy 8 000 ton hoendermis goedkoop in die hande gekry het en ’n manier nodig gehad het om dit uit te strooi as topbemesting om sy fosfaat-vlakke te lig.

Hy het ’n strooier gesoek wat die volumes mis kon hanteer en ook later vir kunsmis gebruik kon word. Oor die laaste drie jaar is daar ’n paar duisend ton mis deur sy Jumil en hy is baie beïndruk met die masjien se werkywer en gehardheid.

“Daar waar hulle die mis oplaai is maar baie klip, maar die Jumil gaan net aan,” vertel hy. Daar was wel een keer skade aan die ketting toe ’n klip so groot soos ’n sokkerbal in die masjien beland het, maar die klip is regdeur die strooier sonder dat die meganisme gestop het. Dit het welis-            waar ’n trekker se ruit uitgegooi…

Tielman sê die diens van Crop-Tech af was uitstekend. “Hulle het nie ’n ketting in voorraad gehad nie, maar het ’n splinternuwe strooier plaas toe gebring en sy ketting hier afgehaal en aan my masjien gesit.”

Nog eienskappe waarvan Tielman hou, is die amper regaf kante wat aanpakking bekamp, die lekker breë ketting wat dit moontlik maak om selfs nat mis te hanteer en die gemak waarmee die strooier omgeskakel kan word om kunsmis te hanteer.

“Dit is net agt boutjies en ’n plaat wat moet inkom,” sê hy.

 

‘n Jumil-strooier kan selfs nat hoendermis hanteer, sê Tielman Esterhuizen van Vredefort. 

Dit is nie net saaiboere wat met lof van hulle Jumil-strooiers praat nie. Die melkboer, André Malan van Sterkwaters naby Warden, omskep sy koeie se mis in ’n bate met sy Jumil Lider 50-50, wat al die mis netjies en akkuraat op sy lande strooi om weer kos vir sy koeie te produseer. Hy sê die Jumil-misstrooier is ’n betroubare, doeltreffende masjien. Hy kan aan niks dink wat verbeter kan word nie. Die Jumil is na sy mening sy prys deur en deur werd en hy strooi
veel akkurater en eenvormiger as die vorige misstrooiers wat hy gebruik het.

 

Ek kan nie aan iets dink wat aan my Jumil-misstrooier verbeter kan word nie,” sê André Malan, ’n melkboer van Warden. 

Vir toegewyde presisiestrooiwerk van kalk en kunsmis, bied Crop-Tech ook die gevorderde Jumil Precisa 6 m3-presisiestrooier aan. Hierdie toonbeeld van ingenieursvernuf skakel by die trekker se GPS-stelsel in en plaas tussen 15 en 8 000 kilogram per hektaar akkuraat teen 4 tot 15 kmu. Hy het sy eie hidrouliese stelsel, verstelbare werpers vir korrel- en poeierprodukte en sy wielwydte is verstelbaar van 1,8 tot 3,2 meter.

Crop-Tech se Jumil-misstrooiers is in verskillende groottes beskikbaar, maar almal is in ’n klas van hulle eie ten opsigte van bekostigbaarheid, betroubaarheid, duursaamheid en akkuraatheid. 

Praat vandag nog met jou naaste Jumil-handelaar of George Celliers by 056-817-7308 of sales@croptech.co.za vir meer inligting of besoek www.croptech.co.za.

 

 

 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Isuzu se splinternuwe Serengeti wil ons vlaktes kafdraf

Geesdrif is die sukses agter Bielie Bonsmaras