in ,

John Deere – Tegnikus van die Jaar: “My hart klop groen”

This post is also available in: English

“Ek gee om vir my goed, want ek het hard gewerk daarvoor,” vertel Johann Smith van Mispa Boerdery naby Bethlehem. Onder sy goed is 21 groot John Deere-masjiene en ’n wye versameling kosbare miniatuur versamelstukke en speelgoed.

Hy sê: “My bloed is groen, want John Deere is die voorloper in landboutegnologie, hulle masjiene se gehalte is goed, dit het ’n goeie herverkoopwaarde en die diens wat ons van AFGRI Bethlehem ontvang, maak dat my bloed groen bly.”

Dit is nie sommer enigeen wat aan ’n John Deere op Johann se werf kom werk nie. Hy is uiters gesteld daarop dat sy trekkers met respek behandel moet word. Artie Bester, wat pas aangewys is as die John Deere Tegnikus van die Jaar, verstaan dit goed. Hy kom gereeld op oom Johann se plaas; nie net wanneer daar ’n probleem is nie, maar ook om seker te maak alles loop reg en om te groet as hy in die omgewing is.

Voordat hy dit gedoen het, was dit sy pa, Japie Bester. “Ons families kom al jare saam,” vertel Johann. Op pad na die plaas het Artie die ProAgri-span gewaarsku dat ons iemand gaan ontmoet wat werklik gesteld is op sy masjiene. “Byvoorbeeld: Jy sit nie enige gereedskap op die neusgewigte van die trekker neer terwyl jy aan die enjin werk nie, want dit kan die verf krap.”

Johann se werkers gaan ook deur ’n goeie leerskool van netheid en presiesheid. Geen stof word in die kajuite toegelaat nie en die werkers weet as hulle stowwerige werk gedoen het in die lande, moet hulle eers wag dat die stof gaan lê voor hulle die trekkers se deure oopmaak om uit te klim. As ’n werker vuil werk buite moet doen, trek hy ’n oorjassie aan, wat hy weer uittrek voor hy inklim.

Die masjiene word almal op die voorgeskrewe tyd versien en selfs trekkers met 6 000 uur se werkstyd agter die blad, lyk en klink asof hulle pas van die handelaar se vloer af kom. Artie is onlangs as werkswinkelbestuurder van AFGRI Bethlehem aangestel. Dit het hom met die moeilike taak gelaat om ’n opvolger vir die tegniese werk op die plaas te vind.

“Ek het eers gedink hy moet die een man bring, maar hy het toe op iemand anders besluit,” vertel Johann. “En dit werk goed, ons verstaan mekaar. Dit wys ook net weer dat Artie sy boere verstaan. Hy het die mensekennis om die regte besluit te neem. Ons in hierdie streek is bevoorreg om die wentegnikus by ons te hê.”

Dit is die tweede keer dat Artie die toekenning inpalm en die derde keer dat hy in die top drie beland. Tegnici landwyd kan deelneem aan die eerste fase wat bestaan uit ’n geskrewe toets waardeur die Top 50 bepaal word. Nog ’n geskrewe toets  bepaal die Top Tien en dan is daar ’n hele dag by John Deere se opleidingsentrum in Boksburg waar die tien tegnici moet bewys dat hulle die breë spektrum van John Deere se tegnologie verstaan, foute kan identifiseer en die nodige regstellings kan doen.

“Vir my is die moeilikste deel die tweede geskrewe toets,” sê Artie. “As jy eers ’n slag in die Top Tien was, is daai toets nogal ’n maak of breekstorie…”

Op pad na André de Villiers se plaas, Helderfontein, laat weet die boer vir Artie dat hy maar sy tegnikushoed sal moet opsit. Hy stroop koring, maar daar is fout met die kalibrasie van die stroper.

“Gelukkig het hy gesê die stroper werk teen die pad. Ons tegnici bestee baie tyd om tussen lande deur na die toerusting te soek waarheen ons uitgeroep is,” vertel hy. Die Oos-Vrystaat se plase lê wyd, maar daar is heelwat heuwels en dale en jy kan nie altyd so ver sien waar staan die oortreder nie.

Nou, met die nuwe tegnologie wat in trekkers en stropers ingebou word, sal dit veel makliker wees om toerusting te vind en reg te maak, want die JD Link stuur diagnostiese inligting en GPS-koördinate deur. Met Artie besig in die stroper se kajuit vertel André hy sal by John Deere bly, want hy is by ’n produk en ’n handelaar wat betroubaar is. John Deere is miskien nie die goedkoopste nie, maar dit is betroubaar en met tegnologie is hulle die leier, sê hy.

“Die dienssentrum op Bethlehem is van hoogstaande gehalte en weet jy wat waardeer ek – as enige van hulle diensbakkies hier op die plaas intrek lyk die bakkie goed en dit is toegerus met alles wat nodig is. Ek sal nie daarvan hou as iemand hier met ’n flentergat bakkie aankom om aan my toerusting te werk nie.”

Hy is ook baie trots op Artie se toekenning en die feit dat hy nou werkswinkelbestuurder is. “Hy is ’n puik werktuigkundige en hy sal ’n puik werkswinkelbestuurder wees,” sê hy.

“Artie het goeie kommunikasie met die boere, hy sal altyd terugbel om te hoor of ’n probleem opgelos is, hy stel belang.”

Knus buite Bethlehem op die plaas, Versiend, beaam Hein Knobel die sentiment: “Ek is baie opgewonde daaroor dat Artie weer gewen het en ook dat hy aangestel is as werkswinkelbestuurder. Hy verdien dit.”

Hein sê dit is belangrik dat daar ’n goeie verhouding tussen die boer en die werkswinkel moet wees en dit kom van albei kant af.

Johann Smith en Artie Bester by een van die spogskoon John Deeres op die werf. Johann is baie noukeurig en kieskeurig as dit by sy John Deere-masjiene kom – die grotes en die kleintjies.

Geen skree en baklei

“Jy kan nie heeltyd staan en skree en baklei nie. Al is ’n masjien ’n John Deere, bly dit ’n yster wat kan breek,”sê hy.

Hein is ook opgewonde oor al die nuwe tegnologie, soos JD Link, wat die bestuur van toerusting soveel makliker maak met betrekking tot dienstye en die diagnosering van probleme voordat dit foute word. Artie lag lekker toe hy vertel hy het onlangs ’n boer gebel om hom te waarsku dat sy een trekkeroperateur vreeslik op die koppelaar ry. Die boer het baie verleë erken dat dit hyself is.

Hy was besig om ’n nuwe stukkie grond vol bulte en slote te bewerk. Hein meen met al die tegnologie is boere nie eers meer bakkieboere nie, hulle word nou skermkykers!

“Maar met 10 goedgekwalifiseerde tegnici by AFGRI Bethlehem, ’n goeie bestuurder en nog drie manne wat opgelei word, weet ons ons is in goeie hande. Daar is nie tyd vir ’n week wag vir ’n ding om te loop nie – ons werk teen tyd.”

Hein vertel dat van sy John Deeretrekkers al 30 000 uur gewerk het en nog steeds hulle waarde behou, want hy versien hulle gereeld, kyk mooi na hulle en “dis goeie goed”. Artie sê dit was nie regtig deel van sy plan om nou al bestuurder te word nie, maar sy voorganger is bevorder en hy het die uitdaging aanvaar. Die werkswinkel is ook aangewys as Werkswinkel van die Jaar en met al Artie se idees is dit duidelik dat hulle van plan is om die toekenning te behou.

“Ek wil ’n skermmuur inrig wat ons  kan gebruik om met die nuwe tegnologie ons boere se masjinerie behoorlik te moniteer en ons en hulle te help met nog beter beplanning. En dan het ek begin om die omgewing waarin die manne werk op te kikker en mooi te maak, want as jou werksplek mooi is, dan werk jy lekker,” sê hy.

Tot die badkamers by die werkswinkel is al “vergroen”! Artie vertel dat hy al van kleins af lief is vir John Deere en saam met sy pa aan die masjiene begin werk het. Hy restoureer tans ook sy eie veteraantrekker – natuurlik ‘n John Deere. “My hart klop groen; ek hou maar van die John Deeres.”

Om deel te word van die groen wenspan en net die beste diens te geniet, kontak jou naaste handelaar.

Die naambord het ’n storie. Dit was ‘n verrassingsgeskenk van die werkswinkel omdat Johann hulle gehelp het met ’n onderdeel uit een van sy masjiene om ’n haastige medeboer se masjien te herstel.
“Kom ek gaan wys Oom wat is fout met daai stroper se kalibrasie.”
André de Villiers is baie trots op Artie, as boorling van die geweste, se prestasie om vir die tweede keer as Tegnikus van die Jaar aangewys te word en nou bevorder is na werkswinkelbestuurder.
Hein Knobel en Artie Bester is diep in gesprek oor die dinge wat hulle na aan die hart lê. Goeie kommunikasievermoë is deel van ’n goeie tegnikus se mondering.

Die netjiese werkswinkel van AFGRI Bethlehem spog tot met “groen” versierings in die badkamer.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

AfriKelp ontgin gesondheid uit die see uit

Herstrukturering