in

John Deere se RX loop suutjies tussen die plantrye

John Deere

This post is also available in: English

Die ernstige saaiboer kan aan sy netjiese landerye uitgeken word, maar ook aan die moderne tegnologie en groterwordende masjinerie wat hy inspan om sy lande so presies en produktief te maak. Behalwe dat dit indrukwekkend is, is dit die vinnigste en maklikste manier om deur die kleinerwordende vensterperiode van die plantseisoen te kom.

Lourens van der Linde jr en sy pa boer 15 km buite Wesselsbron. Die sandgrond in dié streek is diep en trap baie maklik vas. Om doeltreffend te boer, moet hulle spoorverkeer toepas, wat beteken hulle moet elke jaar en met elke werktuig en trekker presies op dieselfde spore ry om die plantrye so los as moontlik te hou en bewerkings te minimaliseer. Verlede jaar in Julie het hulle ’n John Deere 9570RX gekoop.

“Ons mielies se rywydtes is 90 duim. Die groot faktor wanneer ons ’n trekker kies, is dat dit presies op die spore tussen die rye moet loop en aangesien die 9570RX se wielsporing 88 duim is, werk dit uitstekend op ons plaas,” sê Lourens.

“Grondverdigting is ook ’n groot uitdaging op ons plaas en ons kan nie bekostig dat die trekker van sy spore afwyk nie.”

Lourens moet elke seisoen weer die grond met ’n skeurploeg (moffieripper) bykom. Die trekker trek agt tande, maar omdat hulle tussen 850 en 900 mm diep moet werk, skiet die krag wat benodig word, die hoogte in. Die RX met sy 425 kW kraglewering kan egter die swaar werk met gemak baasraak. “Die trekker loop dan tussen sewe en agt km/uur en die brandstof-verbruik is so 16 tot 17 liter per hektaar,” sê Lourens.

Moderne tegnologie maak dit moontlik om die hoogs gekompliseerde trekker met feitlik die druk van ’n knoppie te bestuur. Met voorbereiding vir planttyd moet Lourens se operateurs dag en nag werk om betyds klaar te maak, maar gelukkig is die daaglikse onderhoud aan die reuse trekker maklik. Die wiele en ghriesnippels moet basies net dopgehou word.

Trap in sy spoor

Die trekker werk ook seepglad saam met John Deere se kommunikasiestelsel. “Ons gebruik die volledige RTK- (Real-Time Kinematic) -kommunikasiestelsel wat die trekker so reguit soos ’n snaar in sy spore van verlede jaar hou. Die groot kontakoppervlak onder die vier rusperbande verhoed enige bandglip. Daarmee saam sorg die knakaksie heen en weer en op en af dat die vier rusperbande altyd stewig op die grond bly, al is dit ongelyk. Sodoende sal die skeurploeg (ripper) altyd sy werkdiepte hou en nooit die trekker skeeftrek nie,” sê Lourens.

Senwes se tegnici is ten volle opgelei en bekwaam om aan die gevorderde trekker te werk. John Deere se opvolgkursus oor die RX se onderhoud is deeglik en hulle kon seker maak dat Lourens se operateurs alles presies verstaan.

Na elke 500 werksure kom hulle met hulle diensbakkie plaas toe om die trekker weer op te kikker vir nog ’n skof. Met elke 1 000-uurdiens val Lourens se operateur in die pad en ry heel gemaklik teen 40km/uur na Senwes Equipment se werkswinkel in Wesselsbron.

“Met die ongelooflike nat toestande in Januarie moes die RX baie van ons ander trekkers uit die modder sleep en ek wil amper so ver gaan om te sê dat die trekker nie kan vassit nie,” lag Lourens.

n John Deere RX staan gereed om na jou moderne behoeftes om te sien. Skakel  jou naaste John Deere-handelaar of besoek hulle webwerf by www.deere.co.za.

John Deere
Die van der Lindes van Wesselsbron het onlangs ’n soortgelyke John Deere 9570RX aangeskaf om hulle diep Vrystaatse sandgrond te skeur.

John Deere
Die breë rusperbande van John Deere se 9000RX-reeks is gebou om ligvoets op sensitiewe plantgrond te loop, stewige trekkrag oor te dra of om teen 40 km/u op ’n teerpad voort te snel.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Balfour hooidag

Balfour se hooidag groei geil

Scania

Scania verstaan boere se behoeftes