in ,

John Deere: Dit gaan oor mense

Eddie Schüler is aangewys as John Deere se Besigheidsontwikkelingsbeampte van die Jaar. Hier is hy by Brian Bennett, bestuurder, Mascor Middellande en Underberg.

This post is also available in: English

Dit is mense wat die kos eet wat die boere produseer. Dit is mense wat toerusting koop en verkoop. En dit is die mense van John Deere wat die verskil maak en sorg dat groen die kleur van gehalte en diens aan die landbou is.

Eddie Schüler – Besigheidsontwikkelingsbeampte van die Jaar

“Wanneer boere in hierdie omgewing John Deere-toerusting koop, vra hulle sommer dadelik ek moet reël dat Eddie hulle bel vir die finansiering. Eddie doen dinge net anders, hy woon boeredae en kerkbasaars by en is altyd beskikbaar om boere selfs na-ure te besoek en persoonlik kontrakte deur te vat.” So gesels Charl Viljoen, streekbestuurder van Mascor in Natal oor Eddie Schüler wat as John Deere se Besigheidsontwikkelingsbeampte (BDO) van die Jaar aangewys is.

Eddie werk vanuit John Deere Financial se kantoor in Pietermaritzburg, maar hy is gewoonlik op pad êrens tussen Port Shepstone, Winterton, Greytown en die Natalse Middellande om handelaars en boere te besoek.

Eddie het in die landbou grootgeword, eers op bosbouplase en later graan, ook in Kwazulu-Natal. Na sy dienspligtyd het hy rekeningkunde gaan studeer en uiteindelik by Bankfin geëindig, wat toe later ABSA geword het. Met die alliansie tussen John

Deere Financial en ABSA was dit natuurlik dat hy daar sy tuiste sou vind.

“Ek voel baie gemaklik tussen boere, ek verstaan hulle en ek verstaan landbou-omstandighede,” sê Eddie.

Hy sê dit is sy werk om na boere te luister en finansieringspakkette volgens hulle behoeftes te struktureer. Met John Deere se ondersteuning kan boere uiters gunstige rentekoerse ontvang en terugbetalings word gestruktureer om by elke boer se omstandighede en bedryf te pas.

Eddie sê: “Ons kan reël vir maandelikse, kwartaallikse, halfjaarlikse of jaarlikse terugbetalings. John Deere Financial bied die strukture om by die kontantvloei van boerdery te pas.”

Die toekenning beteken baie vir Eddie en span die kroon op vele jare se harde werk.

“Ek het geëerd gevoel om benoem te word en om te wen. Ek glo toekennings soos hierdie moedig mense aan om doelwitte te stel en om elke dag te presteer.”

Sy raad aan boere in die moeilike landboujaar: “Landbou is afhanklik van klimaatsomstandighede. Wanneer dit sleg is, is daar net een manier om vorentoe te gaan en dit is om aan te pas by die uitdagings.”

Malinda de Beer – Besigheidsanalis van die Jaar

Familietyd is ook baie belangrik vir Malinda wat hier saam met haar man, Gideon, en dogtertjie, Lyoandri, die koue trotseer.

In die Wes-Kaap op Worcester gaan Malinda de Beer ook uit haar pad om boere by te staan met John Deere Financial se gunstige finansieringsopsies. Sy moet die aansoeke en kliënte se kredietwaardigheid ontleed en aanbevelings doen aan die kredietkeurder.

Sy sê sy is deel van ’n span: “Die span bestaan uit die besigheidsontwikkelingbeampte, Nelia Grobbelaar, wat die primêre verhouding met ons kliënte het, die analis, ekself, wat die inligting verwerk en motiveer aan die kredietafdeling, en die administratiewe persoon, Charlynne Louw, wat die kontrakte optrek en finaliseer. Een van die AFGRI-takbestuurders het my werk baie goed opgesom – ek is die jam tussen die brood.”

Die span het verlede jaar 187% van hulle jaarteiken bereik! Dit is sommer baie jam.

Malinda sê sy het grootgeword as ’n bankbestuurder se dogter: “Dit beteken dat ek in ses skole was, maar darem meesal in die Wes-Kaap op die platteland.”

Dit het haar goed voorberei om te verstaan waaroor boerdery en die bankwese gaan.

Malinda het BTech Finansiële Inligtingstelsels aan die Kaapse Technikon studeer en later ook die CAIB (Certificated Associate of the Institute of Bankers): Kredietdiploma en Gevorderde Kredietdiploma verwerf.

Sy het 21 jaar gelede ’n tuiste by ABSA gevind en was nog altyd op ’n manier betrokke by die ontwikkeling en ondersteuning van sake-ondernemings. Vandag is haar amptelike titel batefinansieringsanalis. “My kantoor is in Worcester, maar ons kliënte, meesal boere, strek so ver as Heidelberg en Bredasdorp.”

Sy sê: “Ek is verantwoordelik vir die meeste John Deere-aansoeke in die Wes-Kaap. Verlede jaar was die aansoekvolumes hoog en ek het baie van my eie tyd ingesit om vir boere vinnige en goeie diens te gee.”

Malinda het ’n baie goeie verhouding met die handelaars wat John Deere-produkte verkoop en gaan sien dikwels self boere om oor hulle aansoeke te praat.

Oor John Deere se produkte en John Deere Financial se pakkette kan sy nie uitgepraat raak nie:

“John Deere verskaf meer as net ’n produk. Hulle bied uitstekende produkkwaliteit tot op die plaas met naverkope en onderdele. Die fokus is groot op optimalisering van die produk deur middel van presisieboerdery. Wat John Deere Financial uniek maak, is dat hulle ook alle presisieboerderytegnologie finansier teen mededingende rentekoerse.”

John Deere as maatskappy subsidieer ’n gedeelte van die rentekoers, wat beteken dat John Deere Financial mededingende rentekoerse op alle nuwe John Deere-toerusting kan bied met pakkette wat tot so laag is as prima minus 9%!

“Ek is ook ’n groot voorstander daarvan om pro-aktief te werk deur ’n John Deere Kredietlynfasiliteit vir boere beskikbaar te stel. Dit gee vir ’n boer die gerief dat hy weet sy finansiering is vir die volgende 12 maande in plek om John Deere-produkte aan te koop.”

Malinda is baie trots op die toekenning en erkenning wat sy ontvang het en glo dit gaan haar aanspoor om nog maniere te vind om boere te help om vooruit te boer.

Onderdelespesialis van die jaar

Onderdelediens gaan daaroor om masjiene soos hierdie aan die loop te hou, sê Jaco Wessels, Onderdelespesialis van die Jaar, van AFGRI Marquard.

“’n Mens huil net twee keer op Marquard. Die eerste dag as jy hier aankom en die dag as jy moet weggaan,” sê Jaco Wessels, onderdelebestuurder van AFGRI op Marquard. Jaco is aangewys as John Deere se Onderdelespesialis van die Jaar.

Jaco en sy vrou, Corlia, en hulle twee tieners, JP en Jennifer, is ingeburger op Marquard. Net so belangrik soos dit is om die rakke vol onderdele te ken en verstaan, so belangrik is dit om die mense wat die onderdele nodig het te ken en verstaan. Jy moet weet wat hulle nodig gaan hê nog voor hulle weet, spot Jaco.

Hy gaan elke dag die bewegende of slytonderdele na om seker te maak daar is genoeg voorraad op die rakke. As die boere wil plant of stroop, wil hulle plant of stroop – nie wag vir ’n onderdeel nie!

Jaco sê AFGRI se werkswinkel is sy grootste kliënt en dit is hoe dit hoort, want dit beteken boere vertrou AFGRI en die tegnici om aan hulle toerusting te werk. Daar is egter ook baie boere wat self aan hulle toerusting werk of slyt onderdele kom aankoop of vinnig plan moet maak met ’n krisis op die plaas.

Dit is dan noodsaaklik dat die mense in die onderdele-afdeling raakvatters moet wees.

“John Deere lewer baie goeie diens aan my,” sê Jaco. Al die elektroniese gereedskap is daar om rekord te hou en bestellings, wat outomaties deurgesit word soos onderdele verkoop word, na te gaan.

“En as iemand nou regtig ’n vreemde onderdeel soek van iets wat nooit breek nie, dan vlieg ons dit in van Duitsland af. Binne sewe dae, soms drie dae, is dit hier.”

Jaco is ook baie dankbaar vir die geleentheid wat John Deere gebied het met die kompetisie. Net soos met die tegnici is daar eers ’n oopboektoets afgelê waaruit die Top 50 gekies is, toe nog ’n skriftelike toets om in die Top 10 te land en laastens ’n praktiese en teoretiese eksamen by John Deere se opleidingsentrum in Boksburg.

Met die prakties moes hulle onderdele aan verskillende masjiene kon uitken, beskryf en benaam, of van ’n beskrywing af die onderdeel gaan soek en dan deur die bestelproses gaan.

“Dit was ’n goeie toets,” sê Jaco, “jy moet jou onderdele ken!”

Jaco het sy onderdele so goed geken dat hy en Corlia binnekort een van John Deere se fabrieke oorsee kan gaan besoek.

Jaco moedig alle onderdelemense wat by John Deere-handelaars werk aan om hierdie jaar deel te neem. “Al wen jy nie, gaan dit vir jou baie beteken om jouself te toets en te verbeter.”

En ’n wenk aan boere: Onthou om jou trekker se reeksnommer saam te vat winkel toe. Die modelnommer is nie genoeg nie, want John Deere is voortdurend besig met verbeterings en opgraderings en dieselfde modelle kan verskillende onderdele hê.

By AFGRI Marquard kry boere vriendelike toonbankdiens met onderdele vanuit ’n goed geordende pakhuis.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Bayer bring die saadwêreld na Secunda

Agri Frequencies: Kristaltegnologie – Bestry pesdiere sonder gif