in

John Deere dink aan groot en klein boere

This post is also available in: English

Jy kan maar al jou eiers in die dieselfde John Deere-mandjie gooi, want hierdie landbouwerktuigvervaardiger bied jou ’n allesomvattende stelsel – van die eenvoudigste rakonderdeel tot ’n toep waarmee jy na die grondvog in jou lande kan kyk terwyl jy oorsee reis.

John Deere se NAMPO-stalletjie was vanjaar weer propvol nuutskeppings en het sterk op tegnologie gefokus.

Operations Center

“Ons het ons Operational Centre, wat die samesmelting van al ons tegnologieë insluit, op 1 Mei in Suid-Afrika bekendgestel. Inligting vanaf die sensors in die lande en die sensors in die voertuie word alles in die ‘wolk’ geberg en na ’n sentrale operasionele sentrum op die plaas gestuur. Dit kan ’n slimtoestel of ’n rekenaar wees,” sê Kevin Lesser, kommunikasiebestuurder van John Deere.

Die boer kan dan intyds sien wat onder sy grond aangaan, hoeveel ton sy stroper oes, waar sy voertuie is en selfs diagnostiese inligting van die voertuie trek. Hy kan ook besluit met wie hy die inligting wil deel, soos sy kunsmis- of gifagent, sy plaas se werkswinkelbestuurder of die een by sy agentskap op die dorp, en alles is interaktief.

Afstandskermtoegang (Remote display access – RDA)

Hierdie asemrowende nuwe funksie word ingesluit in die Slim Operasionele Sentrum. Dit laat die boer toe om te sien watter knoppies die operateur op die skerm druk sodat daar seker gemaak kan word dat instruksies presies uitgevoer word. Sagteware-opdaterings kan geskeduleer word om net sekere tye plaas te vind. Jy kan plant-, spuit- en doseringsinstruksies vanaf jou toep na die voertuig stuur. ’n Funksie kan selfs wys of trekkers onder- of oorpresteer.

Laekoste telematiese stelsel

“Ons het ’n vroeë bekendstelling van ons laekoste telematiese stelsel (low cost telematics) uit Indië op NAMPO en wil aan die einde van die jaar ’n volledige bekendstelling doen. Dit werk op ’n teksboodskapstelsel en bied ’n stelsel vir die kleinboer waar hy ook toegang tot inligting op sy trekker kan kry. Hy kan sy voertuie se ligging en posisie sien asook die temperature, brandstofvlakke en hektare gewerk, en baie meer,” sê Kevin.

Dit word alles deur middel van ’n toep gedoen. Die sensors wat data na die boer se selfoon stuur word in ’n trekker geïnstalleer. Dit stel die kleinboer en kontrakteur in staat om koste uit te werk en sy winste vanaf hulle selfone te bepaal. “Slimfone is oral in Afrika beskikbaar en die toep kan gratis afgelaai word,” sê hy.

Toerusting

’n Hele rits nuwe masjiene het op John Deere se staanplek gepronk. Die indrukwekkende 8600i-kuilvoerstroper is so pas in Suid-Afrika bekendgestel. Net die beste tegnologie is daarin gebou en daar is baie verskillende tipes snyers en optellers wat aangehaak kan word om die gehalte van jou kuilvoer te verbeter.

Die bekendstelling van ’n Deere TLB (trekker-laaigraaf-trugrawer) is ook groot nuus. Die buksie is stewig en kan verskeie aanhegsels soos baalvurke en palletvurke gebruik.

Die 4730-spuit is ’n ou bekende, maar John Deere het vir hom ’n nuwe baadjie aangetrek. “Ons kliënte het gesê dat die onderstel te laag is om gemaklik oor hulle mielies te ry. Met die nuwe opligpakket is die spuit se pens 1,9 meter hoog. Nou is laatseisoentoedienings nie meer ’n kopseer nie,” sê Kevin. Koolstofveselbalke, wat baie ligter is, is die volgende opwindende tegnologie wat op die horison wink.

Vir die vrugteboere is daar ’n nuwe smal trekker met ’n smal kajuit, wat uitstekend in die boorde en wingerde werk, vertoon.

Die RSX 860i-Gator is ook herontwerp vir die avontuurlustige boer. Met ekstra krag en ’n onafhanklike, volle Fox-onderstel kan ’n boer waag om tot 90 km/u te ry.

Onderdele

Boere wat nie weet wat om met hulle ou filters van enige fabrikate te doen nie, kan dit nou vir John Deere gee vir afslag op nuwe John Deere-filters, terwyl die promosie nog geldig is.

Om die stormloop voor planttyd te voorkom, bied John Deere nou ’n reuse spesiale aanbod op planteronderdele.

Kevin Lesser sal jou na die regte John Deere-afdeling verwys. Skakel hom by +27 (0)82-807-2603 of +27 (0)11-437-2600 of stuur n e-pos na LesserKevin@JohnDeere.com.

Hooffoto: Ansie Kotze en Renico Lombard voor die splinternuwe John Deere 8600i-kuilvoerkerwer.

John Deere
Chaitanya Mamadupur van Indië wys hoe lyk die bekostigbare telematiese stelsel vir kleinboere.

John Deere
’n Besoeker aan NAMPO kon op ’n tegnologiese reis in die saal op die John Deere-staanplek gaan.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

GSI

GSI en AGCO se mooi rooi kragopwekker sal jou nooit in die steek laat nie

gundle

Gundle laat plastiek vir die boer werk