in ,

John Deere beloon goeie diens

John Deere het sy toppresteerders vir goeie diens aan boere en aan die maatskappy by Emperor’s Palace in Kemptonpark beloon.

This post is also available in: English

“Moet nooit om verskoning vra vir jou sukses nie,” is Jacques Taylor, besturende direkteur, John Deere Suid-Afrika, se raad aan die span wenners by vanjaar se John Deere-prysuitdeling. Die spoggeleentheid het ’n paar jaar gelede ontstaan om erkenning te gee aan die toptegnici wat boere in die veld moet bystaan.

Strawwe toetsing word gebruik om die bestes onder die bestes uit te soek. Vanjaar is die geleentheid uitgebrei om ook die onderdelekundiges te toets en erkenning te gee, en aan die sakekant is die Verkoopspersoon van die Jaar, Besigheidsanalis van die Jaar en Besigheidsontwikkelingsbestuurder van die Jaar ook beloon.

Jacques sê dit is vir John Deere belangrik dat ’n boer nie ’n John Deere-aankoop as ’n uitgawe moet sien nie, maar as waardetoevoeging tot sy boerdery. Die span van John Deere, vanaf die verkoopspersoon, die sakespan in die kantoor wat die boer se finansieringsaansoek hanteer, tot die tegnici en onderdelekundiges wat naverkopediens moet lewer, is almal daar om te help om waarde toe te voeg.

Die drie kernwaardes wat John Deere plaas toe neem is gehalteprodukte, ’n persoonlike ondersteuningsnetwerk en die nuutste John Deere-presisieboerderytegnologie.

Oor die volgende paar maande gaan ProAgri by die wenners kuier, in die hart van die “groen” maatskappy.

Benut John Deere se persoonlike diens by jou naaste handelaar of besoek https://www.deere.com/sub-saharan/en/ om na die groen spyskaart te kyk.

Jacques Taylor, besturende direkteur van John Deere Suid-Afrika, is self ook ’n boer en hy sê ’n John Deere-aankoop moenie as ’n uitgawe gesien word nie, maar as waardetoevoeging.
Artie Bester doen dit weer! Artie van AFGRI Bethlehem (in die middel) is vir die tweede keer as Tegnikus van die Jaar aangewys. Hy het die toekenning ook in 2016 ontvang. Gert Grobler van AFGRI Grootvlei (net links van Artie) is in die tweede plek en ook vir die tweede keer in die top-drie, en Myburg de Bruin van Senwes, Wesselsbron, is derde. Die toekennings is deur Stephan Nel en Jacques Taylor van John Deere oorhandig.
As jy John Deere-boere wil bedien moet jy jou onderdele ken. Na strawwe toetsing is Jaco Wessels van AFGRI Marquard (middel) as die Onderdelespesialis van die Jaar aangewys. Gaetano Cassara van Trekker en Diesel in Oudtshoorn (regs) was tweede en Deon Britz van AFGRI Malmesbury (links) was derde.
Ronnie Philips, wat al 37 jaar vir John Deere werk, het ’n spesiale “Dankie!”-toekenning van Stephan Gouws, onderdelebemarkingsbestuurder, ontvang.
Die top John Deere-verkopers in die land, soos deur die handelaars aangewys, is Kwek Dietrichsen van Senwes Hoopstad, Francois Destroo van AFGRI Suid en Paul Jansen van Rensburg van AFGRI Noord.
Eddie Schüler word deur sy kollegas, Nelia Grobbelaar en Charlotte Nhlapo, gelukgewens met sy aanwysing as Besigheidsontwikkelingsbestuurder van die Jaar. Saam was die drie verantwoordelik vir uitbetalings van R225-miljoen rand!

Voordat enige boer finansiering kan ontvang, moet al die risiko’s deeglik ontleed word. Malinda de Beer (tweede van regs) van die Wes-Kaap is aangewys as Besigheidsanalis van die Jaar. Saam met Malinda is van links na regs Dawie Oberholzer van ABSA, wat John Deere Financial onderskryf, Sandra van Tonder van Sentraal-streek, Sue Pillay van Pietermaritzburg en Ferdie Marx van John Deere Financial.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Maksimum opbrengs: Timac Agro het boere aan die gons

Trompsburg se boere oorweldig oor oop harte ná brande