in ,

Jag kan wildbedryf red

African Wildlife Auctions (AWA) van Vaalwater se vangspan gebruik helikopters om wild aan te keer. Foto: AWA

deur Tisha Steyn

Die wildbedryf in Suid-Afrika het sedert 2017 dramaties teruggesak nadat dit tussen 2014 en 2017 ‘n ongekende opbloei beleef het. Nog voor die COVID-19-inperking die bedryf finaal op sy knieë gedwing het weens beperkings op internasionale en plaaslike toerisme en jagbedrywighede, was die bedryf al in die moeilikheid – in so ՚n mate dat Wildlife Ranching South Africa (WRSA) gevrees het dat die bedryf op die rand van ineenstorting is.

Piet Warren, wat op die plaas Josephine naby Gravelotte in Limpopo groot sukses met die teel van topgehalte swartwitpense behaal het, sê: “Die wildbedryf, en veral die gekleurde wild, het ՚n groot insinking beleef. Gekleurde wild was reeds in die moeilikheid, want ons het te veel waarde daaraan geheg – dit was ՚n fout wat aan die broei was.

“Die reisbeperkings het dit net momentum gegee. Dit het gemaak dat niemand kom jag het nie en dit het die mat onder baie wildboere uitgeruk. As jy ՚n rooibok skiet, kry jy nouliks R1 000 vir die vleis by ՚n slaghuis. As jy ՚n rooiboktrofee laat jag, kry jy R4 000. Dit is ՚n plesier vir buitelanders om hier te kom trofeejag teen die pryse waarvoor ons dit aanbied. Ek glo hierdie jaar gaan ՚n wonderlike jagjaar wees!”

Kleurvariante het tot val gelei

AWA se vangspan is volledig toegerus om wild vir veilings te vang en uit te dun. Foto: AWA

“Ons omset het met meer as negentig persent geval,” sê ՚n wildboer wat anoniem wil bly. “Werkers moes afgelê word en alle kostes is tot op die been gesny. “Ons maak die afgelope twee jaar geen wins nie, maar byt vas in die hoop dat die bedryf kan herstel.”

Dié boer meen dat die groot beleggings in kleurvariante van buite die bedryf, gedryf deur die belofte van vinnige en groot winste, ՚n groot aandeel gehad het in die uiteindelike ineenstorting van die bedryf.

“Dit was absoluut onlogies en die massiewe winste het ՚n klomp beleggers (ook nie-boere) aangetrek wat ook in ander skaars spesies belê het, wat pryse opgedruk het. Baie slim sakemanne met deeglike bemarkingskennis het toegetree en boere en beleggers was meegevoer in ՚n spel waarvan hulle kennelik te min verstaan het.”

Volgens dié boer benodig jy met kleurvariante net een duur manlike dier. “Koeie en ooie is gewone kleur en goedkoop. Na ՚n paar geslagte teel jy dan super duur bokke uit gewone vroulike diere. Dit is vanselfsprekend dat ineenstorting op oorproduksie sal volg.”

Afgelope drie jaar ՚n nagmerrie

Botse, ‘n goue wildebeesbul, wat vir ‘n rekordbedrag aangekoop is. Foto: Romaco Ranch

Ellalien Davey is die eienaar van Romaco Ranch in die Waterberge sowat 25 km vanaf Naboomspruit. Sy en haar man, Colin, boer saam met hulle seuns, Colin jr, Rodney en Malan, en besit ook Plant Ranch Kwekery met takke in Centurion en Germiston.

Die gesin boer met verskeie wildspesies soos swartwitpense, siektevrye buffels, bastergemsbokke en kleurvariasies van hoë standaard. Romaco is veral ook bekend vir die goue wildebeeste wat hulle teel en waarmee haar pa, Jimie Malan, al in die vroeë 90’s begin eksperimenteer het.

In 2011 het hulle die bul, Botse, vir ՚n rekordbedrag bekom en in 2016 is een van die eerste ou bulle met 26-duim horings vir R325 000 laat jag. Jag het nog altyd deel van hulle onderneming uitgemaak.

Sedertdien het die wildbedryf ietwat anders verloop. “Ons is deur ՚n nagmerrie die afgelope drie jaar,” vertel Ellalien. “Eers was dit die droogte, en toe COVID-19. Toe die pryse begin val, was dit nogal ՚n bomskok vir wildboere. Net toe ons weer ons glimlagte begin terugkry, is die reisverbod ingestel …”

Tog is die wildbedryf nie heeltemal in sak en as nie en nuwe, jong boere is besig om toe te tree.

Ellalien sê: “Hulle is nie bevooroordeeld nie en beskou nie wildboerdery as net ՚n belegging nie, maar as ՚n boerderygeleentheid. Hulle fokus op jagdiere, wat hulle nou met die laer pryse kan bekostig en hulle boer meer ekstensief op hulle plase sonder kampe.

“Dit gaan eintlik baie goed met die jagbedryf, en baie mense is al vol bespreek vir 2022. As die buitelandse reisbeperkings net opgehef kan word en die jagters kan inkom!”

Die opbloei in die jagbedryf het daartoe gelei dat daar ՚n tekort aan veral trofee-jagdiere is. Die vraag na goeie trofeë van vlaktewild wat tot ՚n mate “verwaarloos” was weens duurder spesies het so toegeneem dat daar tans ՚n tekort aan goeie jagdiere is en pryse het goed gestyg.

Waardetoevoeging

Ellalien Davey, middel, en haar gesin, van links, Colin jr, Colin sr, Rodney en Malan. Foto: Romaco Ranch

Ellalien sê die terugslae wat die bedryf getref het, het hulle mooi daaroor laat dink. “Ons het besef dat ons buiten die oorspronklike produk ook na ander aspekte van waardetoevoeging moet kyk. Ons oornaggeriewe word nie meer net vir jagters aangebied nie, ons stel dit ook beskikbaar aan naweekbesoekers en groepe soos voëlkykers. Vleisbewerking word ook opgradeer.

“Al verkoop ons nou meer jagdiere het ons nie opgehou om goeie genetika te produseer nie; kopers sal altyd ՚n goeie prys vir goeie genetika betaal. Goeie teeldiere skep goeie jagdiere, omdat die beter genetika volhoubaar oeie trofeediere kan produseer. Die pryse is nou net meer volhoubaar omdat dit meer realisties is.

“Die pryse is bekostigbaar vir die nuwe toetreders, wat met gemak dieselfde of beter pryse vir hulle aanteeldiere kan kry as wat hulle daarvoor betaal het, so almal kan vorentoe kyk!”

Groei in veilingsmark

Piet Warren met die legendariese swartwitpensbul, Piet. Foto: Dr. Louis Greef

Volgens ՚n voorlegging van African Wildlife Auctions (AWA) van Vaalwater aan die WRSA, was daar verlede jaar, ondanks die inperking, ՚n buitengewone oplewing in die wildmark. Inkomste uit AWA se tweemaandelikse veilings het sedert Maart tot September met reëlmaat toegeneem, in vergelyking met wisselvallige veilingspryse die vorige twee jaar.

AWA se syfers toon dat die groot rolspelers nie meer soveel geld in die wildbedryf soos voor 2020 belê nie. Die mark word nou oorheers deur kopers wat wild vir die jagbedryf en vir groter én kleiner plase aankoop. Hierdie kopers se aankope maak tot tagtig persent van die veilingsinkomste uit en minstens twintig nuwe kopers registreer voor elke veiling.

Belangstelling in goedkoper skaars wildspesies

iet Warren, dr Louis Greeff en Patrick Sambukeri werk met ‘n swartwitpens. Foto: Christine Warren

Die nuwe kopers belê in skaars wildspesies omdat die huidige pryse meer bekostigbaar is as in die verlede. Die drastiese afname in die prys van hierdie spesies sedert 2017 het dus ՚n nuwe marksegment geskep. Dit is byvoorbeeld meer bekostigbaar om nou ՚n swartwitpenskoei as ՚n koedoekoei aan te koop.

Volgens AWA se rekords is nuwe toetreders se benadering anders omdat hulle nie die ineenstorting van hierdie marksegment tussen 2017 en 2019 beleef het nie. Laer pryse lei tot nuwe beleggings in die wildbedryf met die moontlikheid van ՚n redelike opbrengs op ՚n langtermynbelegging.

Jagwild se pryse styg

Volgens AWA is die grootste vraag na vlaktewild vir plaaslike en korporatiewe jagters, wat tot tekorte en gevolglike prysstygings lei. Die toenemende vraag na wildsvleis dra by tot hierdie tekorte.

Hierdie neiging word veral weerspieël in die styging van die prys vir koedoekoeie en -familiegroepe sedert 2017, toe die gemiddelde prys R4 522 was. Sedert Februarie tot September verlede jaar het die gemiddelde pryse van R6 965 tot R8 973 gestyg. Die afgelope drie jaar se droogte het daartoe bygedra dat daar tans nie in die vraag na vroulike diere voorsien kan word nie.

Dieselfde neiging geld ook vir gemsbokkoeie en -familiegroepe, waarvan die gemiddelde prys van R8 625 in 2017 tot R12 100 in September verlede jaar toegeneem het.

Rooihartbeeskoeie en -familiegroepe is tans die skaarste van al die wildspesies, waarskynlik omdat hulle nie goed by die bosveldklimaat en droogte aangepas is nie. Pryse het van gemiddeld R5 806 in 2017 tot R4 469 in 2018 afgeneem, en in 2019 verder geval tot R3 876, voordat dit dramaties tot R12 500 in September verlede jaar opgeskiet het.

Timon Dreyer van AWA help om ‘n kameelperd te laai. Foto: AWA

Afhangend van die genetika, verkoop swartwitpenskoeie tans teen tussen R8 000 tot R15 000. Pryse het weens die tekort aan vroulike diere van R6 000 aan die begin van die jaar tot R10 000 in September toegeneem. Die tekort kan toegeskryf word daaraan dat swartwitpenskoeie tans goedkoper as die meeste ander groot vlaktewildspesies is.

Swartwitpensbulle se prys hang af van die horinglengte en diere met horings van 46 duim en langer kan tot R800 per duim haal.

Bastergemsbokkoeie verkoop vir tussen R12 500 en R20 000, afhangend van die genetika, terwyl bulle tussen R10 000 en R25 000 kos, afhangend van die ouderdom en horinglengte. Die vraag na die bastergemsbokbulle as teel- of jagdiere is die laagste van al die spesies.

Afhangend van die genetika en horinglengte, verkoop jong buffelkoeie tans vir R25 000, terwyl volwasse koeie tussen R30 000 en R40 000 haal. Buffelkoeie met ՚n horinglengte van meer as 35-duim is duurder. AWA het be-vind buffels wat in ՚n boma besigtig kan word, is meer gewild op veilings as die diere wat net in ՚n katalogus verskyn.

Buffelbulle van ouer as ses jaar met ՚n harde horingbasis en horinglengte van meer as 38-duim behaal tussen R65 000 en R85 000. Bulle met ՚n horingspan van meer as 44-duim behaal pryse van tussen R100 000 en R165 000.

Verwysings:

Wildlife Industry Status Report. (2021, October 23) African Wildlife Auctions

Steyn, T., Van Zyl, P. (2017). Master Game Ranchers of South Africa: Passion and Power. JLO Publishing, Pretoria

Stoddard, E. (2020, May 11). South African game-farming industry on the ‘brink of collapse’. Daily Maverick https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-05-11-south-african-game-farming-industry-onthe-brink-of-collapse/

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Beperk bosvarkskade só:

Dormer veilings 2022