in ,

Hoe rooier hoe beter

This post is also available in: English

“Ons bou voort op ons groot ideaal om ’n volledige reeks geïntegreerde oplossings aan boere te bied, van klein tot groot,” vertel Johan Joubert, hoofbestuurder van Massey Ferguson, Barloworld Agriculture, by NAMPO. ’n Nuweling in die Massey Fergusonstal is die 5700-reeks met ’n aangeslane krag van 69 tot 76 kW wat by NAMPO bekendgestel is. Dit is deel van die Global-reeks en volg kort op die hakke van die 6700-reeks wat ook pas bekendgestel is en die 4700-reeks wat verlede jaar hulle pad na Suid-Afrikaanse plase oopgewerk het. Soos al die produkte in die Global-reeks, vervang die trekkers nie vorige modelle nie – elke trekker is van meet af aan deur ingenieurs in verskillende lande ontwerp sodat dit wêreldwyd aan boere se behoeftes kan voldoen.

Ontwerpers het spesifiek gelet op betroubaarheid en lae onderhouds-koste. Die trekkers in die 5700-reeks is almal basiese trekkers sonder kajuite, maar met ’n verskeidenheid tegnologiese voordele soos die keuse van ’n natkoppelaarstelsel vir gerieflike, gladde ratwisseling tussen die 12 vorentoe- en 12 truratte (sinkroskakeling net soos die 6700-reeks). In die tipiese werkspoed van tussen 4 en 12 km/u is daar 8 ratwisselings wat goeie brandstofbesparing en krag vir elke taak meebring.

Die trekkers is beskikbaar met gesinkroniseerde meganiese ratwisseling met ’n droë koppelaar of met ’n Power Shuttle met ’n nat, olieverkoel-de koppelaar vir elektro-hidrouliese vorentoe- en truskakeling. Dit is veral geskik vir boere wat byvoorbeeld die trekker gebruik vir werk soos bale haak en lig of kuilvoer uithaal, omdraai en in ’n menger gooi met aanhoudende vorentoe- en agtertoeryery.

Boere wat regtig stadig wil ry vir werk soos kompos omdraai, kan ook vra vir die montering van ’n kruip-spoedrat wat die trekker teen ’n slakkepas van 200 m per uur kan laat beweeg. Maar as daar gewikkel moet word tussen lande, is ’n ryspoed van 30 km per uur moontlik.

Die modelle het almal 4,4-liter AGCO Power 4-silinderenjins wat spesiaal vir die reeks ontwikkel is om ook vir die laerkilowatt-trekkers meer krag teen laer omwentelinge te gee. Ekstraswaar gietstukke in die agterstel maak dit moontlik om swaarder werk te doen en met ’n hysvermoë van 4 500 kg kan jy maar die driepuntplanter nader bring.

Die slim manne het ook aandag gegee aan die gerief van die operateur met ’n plat vloer en ’n hoër sitplek vir beter sigbaarheid rondom die trekker.

Groot en sterk

Dit is nie net die laertrekkerkragsoe-kers wat breed kon glimlag by die Barloworld-uitstalling by NAMPO nie – die MF 8660 met ’n aangeslane krag van 196 kW het ook in sy koninklike blinkrooi gewaad aangetree. Die 8660 voltooi die 8600-reeks saam met die MF 8670 (213 kW) en die vlagskip MF 8690 van 250 kW. Soos die ander trekkers in die reeks, het dit ’n beproefde nuwetegnologie- AGCO Power-enjin vir meer doeltreffende kraglewering en brandstofekonomie en ’n deurlopend-wisselende Dyna VT-transmissie vir presisiewerk in strawwe toepassings. Die driepunt se hysvermoë is 12 ton.

Johan sê die nuwe slim tegnologie is net die begin van hulle aanbieding aan boere om produktiwiteit, doeltreffendheid en dienslewering te verhoog. Massey Ferguson wil graag met boere in vennootskap gaan met uitstekende produkte en vriendelike dienspakkette sodat hulle sonder sukkel kos kan produseer.

Goeie nuus!

’n Opwindende nuwigheid wat ook by NAMPO aandag getrek het, is die MF 35-trekker wat nou weer nuwe lewe by Massey Ferguson self gekry het. Die staatmaakwerkeseltjies het oor die afgelope 60 jaar nog nooit opgehou werk nie en is ook in lisensie deur ander vervaardigers aan die lewe gehou. Massey Ferguson bied egter nou weer varsvervaardigde MF 35-trekkers aan met ’n volledige reeks werktuie en ’n finansieringsplan wat deur regeringsinstansies en ander hulporganisasies ondersteun word om die korps van kommersiële voedselprodusente uit te brei.

massey 1 junie

Vir meer inligting oor hierdie oplossings, besoek jou naaste Massey Ferguson-handelaar of skakel Barloworld Agriculture by 011-898-0074 om jou naaste handelaar te vind. Lees meer oor die Massey Ferguson-6700-reeks in ProAgri 195 of by www.proagri.co.za/nuwe-global-reeks-massey-op-sy-beste.

Johan Joubert, hoofbestuurder van Massey Ferguson, Barloworld, is baie trots op die reeks 6700-trekkers wat ook onlangs bekend gestel is.
Johan Joubert, hoofbestuurder van Massey Ferguson, Barloworld, is baie trots op die reeks 6700-trekkers wat ook onlangs bekend gestel is.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

CLAAS-groen vir plaas-groei

Nou nóg beter: Senter 360 kry nuwe wiele, sprinkelaars en beheerkaste