in

Hino-vragmotor na 2,3-miljoen km steeds in die tuig

Hino

“Two Bar” is die gepaste bynaam vir Namlog se Hino 500-reeks 1324-vragdraer wat meer as 2,3-miljoen kilometer gery het sedert dit in 2009 splinternuut aangekoop is.

Die vragmotor dra sy ouderdom goed, want dit lyk nie soos ‘n trok wat al so ver gery het nie. Die afstand is gelykstaande aan amper 60 keer om die aarde!

Wat nog meer verstommend is, is dat die Hino-vragmotor hierdie afstand gery het sonder enige groot meganiese probleme. Die onderstel en ratkas is nog net soos dit aangekoop is.

By die enjin is die silinderkop herstel en sommige items soos die koppelaarplaat, aansitter en alternator is vervang.

Die Hino-vragmotor is nog in ‘n baie goeie toestand en Namlog wil dit nog nie vervang nie. Die gemiddelde brandstofverbruik is 22,5 liter per 100 km wat aanvaarbaar vir ‘n gemiddelde vrag van 5 ton is.

Two Bar het vir sy eerste vyf jaar vragte op die Durban-Johannesburgpad heen en weer gery. Die trok is elke 30 000 km versien toe dit op die langafstandroete was en dit is gesny na elke 20 000 km toe die trok korter afstande gery het.

Namlog is baie streng op bestuurstandaarde en dring daarop aan dat die bestuurders gereeld vir opleiding gaan.

Hulle is een van die groot kontrakteurs wat betrokke is met die vervoer van Toyota-, Lexus- en Hino-onderdele van die verspreidingsentrum in Ekurhuleni na die netwerk van handelaars in Suid-Afrika, Namibië en Botswana.

“Hierdie bedrywighede funksioneer almal op die net-betyds-beginsel met beperkte tydvensters vir oplaai en aflewering, daarom benodig ons betroubare vragmotors daarvoor,” sê Albie Greyvenstein, Namlog se nasionale vlootbestuurder.

“Al ons trokke word versien by die OEM-handelaars, want ons voel dit stel ons gerus. Die dienste van die Hino-trokke word deur Hino Oos-Rand gedoen en ons is baie gelukkig met die verhouding wat ons met die handelaars oor die jare opgedoen het,” sê Albie.

Die Namlog vlootbestuurder is baie gestel op die bande van die vragmotor en daarom word elke trok se wielsporing elke 15 000 km nagegaan en reggestel indien nodig. Hierdie strategie werk, want een van die Hino 1626-vragdraers se eerste bande is eers vervang nadat hy 350 000 km ver gery het!

Namlog het meer as 60 Hino-trokke in hulle vloot en het onlangs nog vier bygekry naamlik ‘n 714-outomaties, twee 1326-vragdraers en ‘n 1018 met valkante. Die maatskappy is in die proses om van die afleweringstrokke in die vloot te vervang met Hino se 300-reeks trokke met outomatiese transmissie.

Gewoonlik besluit Namlog om hulle trokke te vervang wanneer hulle tussen 700 000 en 800 000 km afgelê het, omdat hulle begin geld kos ten opsigte van herstelwerk, maar Two Bar is ‘n uitsondering op die reël.

Meer oor Namlog:

Namlog (die naam kom vanaf Namibië Logistiek) is in 2002 gestig en het gegroei in ‘n toonaangewende voorsieningskettinggroep, wat uit vier maatskappye bestaan wat bedrywig is in Suid-Afrika, Namibië en Botswana. Namlog se hoofkantoor is in  Johannesburg. Die ander maatskappye in die groep is Mellets Transport in Kuruman, SLI in Windhoek en Gentex in Gaborone.

Foto-onderskrif: Garth Middleditch, verkope, Hino Oos-Rand; Albie Greyvenstein, Namlog se nasionale vlootbestuurder; Leslie Long, senior bestuurder van Produk- en Behoeftebeplanning vir Hino SA en Christo Swartz, besturende direkteur van Namlog is baie trots op die Hino 1324-vragdraer wat al meer as 2,3-miljoen kilometer ver gery het.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

kaap agri

Kaap Agri listed on the JSE