in ,

Graanbedryf, met ‘n fokus op koring, kanola, gars en alternatiewe gewasse

kanola

This post is also available in: English

Die oggendsessie van Nasie in Gesprek op Donderdag, 5 September, by NAMPO Kaap van Bredasdorp Park in die Wes-Kaap, het groot belangstelling gelok, met ‘n stampvol gehoor wat die sessie bygewoon het.

Die gasheer, Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, het ‘n boeiende gesprek gelei met sy paneellede: dr. Dirk Strydom, Graan SA Ekonoom; Gert Claassen, Wes-Kaapse produsent; Richard Krige, Nasionale Garskomitee-voorsitter; Cobus Bester, Wes-Kaapse produsent; Willem Botes, Stellenbosch Universiteit fakulteit van Agri-wetenskappe.

Strydom sê kommoditeite is tans in ‘n superproduksiesiklus, met laer pryse. Hy voorspel dat pryse vir die afsienbare toekoms sywaarts gaan beweeg.

Vorster het beklemtoon dat produsente nie op prysstygings kan staatmaak nie, maar op ander elemente moet fokus.

Oor hoe die situasie tans in die Wes-Kaapse wintergraangebiede lyk, sê Krige vanjaar se reënval is sowat 50% van die langtermyn gemiddeld. “Twintig jaar terug sou hierdie reënval ‘n totale katestrofe tot gevolg gehad het. Daar is tans nie ‘n totale misoes nie, te danke aan nuwe praktyke en tegnologie,” voeg Krige by.

Claassen, wat in die Swartland boer, sê sy omgewing het ‘n goeie begin gehad. Droeër weer het in Junie toegeslaan en hulle staan tans op reënval van 60% van die langtermyn gemiddeld. Hy sê die noordelike dele word swaarder geraak. “Genetika het baie gehelp die laaste tyd. Oeste is weerstandig ten opsigte van die reën wat ons kry. Die Wes-Kaapse koringboer is rasse skrede aan die voorpunt van fyn bestuur. Ons is maar bekommerd oor die hitte wat voorspel word, maar met goeie reën kan ons naby aan ‘n gemiddelde oes sien,” sê Claassen.

Bester sê in sy omgewing van die Swartland gaan dit ondergemiddeld teenoor waaraan hulle gewoond is. “Die klimaatverandering of droogtesiklus maak dit moeilik. Ons sal vinnig moet aanpas. Ons sal moet kyk na winsmarges, veral in marginale gebiede. Dit is ‘n uitdaging,” voeg Bester by.

Die produsente is dit eens dat boere risiko moet bestuur, eerder as om opbrengs te jaag.

Strydom sê die plaaslike koringbedryf is die afgelope dekade in ‘n koste-knyptang, maar daar is verskeie inisiatiewe om die bedryf by te staan, onder andere ‘n hersiening van prysstrukture, regulasies oor nuwe kultivars, stelsels om saadtelers aan te moedig om in tegnologie te belê en ‘n hersienne graderingstelsel wat binnekort deur die minister van Landbou onderteken kan word.

Botes verduidelik dat anders as mielies, waar groot opbrengsvooruitgang oor die laaste twee dekades plaasgevind het, is koring se genoom uiters kompleks. Enige manipulering of veranderinge aan die genoom het baie min invloed op die uiteindelike uitkoms.

Bester sê daar is kultivars wat meer as 20 jaar al beskikbaar is, wat in sommige gebiede steeds baie goed vaar. Botes sê dit is omdat die kultivars baie stabiel is.

Een van die faktore wat Wes-Kaapse boere wel beheer oor het is bewerkingspraktyke. Herlewingslandbou word wyd aanvaar en geïmplementeer, en die produsente sê ‘n wisselboustelsel wat ‘n peulgewas insluit is onontbeerlik. Krige sê ‘n vee-komponent is ook noodsaaklik om kontantvloei in droogtetyd aan die gang te kan hou. “Ons is egter baie bekommerd oor die komende somer met beskikbare ruvoer en grondwaterbronne,” sê hy.

Bester sê Overberg Agri se data toon dat die reënseisoen in dié omgewing die afgelope dekade drie weke korter geword het in vergelyking met die vorige 80 jaar se gemiddeld. Bester sê die kultivars wat hy plant moet hierby kan aanpas. Daarvoor kyk hy na goeie wortelstelsels.

Botes sê navorsers en telers het vir te lank slegs gefokus op wat bo die grond aangaan en daar is nou nuwe fokus op goed-ontwikkelde wortelstelsels in die ontwikkeling van nuwe kultivars.

Vorster het Strydom uitgevra oor die waarde en prys van landbougrond. Strydom sê daar is perk waar grond nie meer self-onderhoubaar is nie, wanneer dit ten opsigte van produksiepotensiaal te duur word. Maar grond bly ook altyd ‘n bate wat in waarde kan toeneem. Strydom sê daar is in die verlede gekyk na balansstate, waar die fokus deesdae op kontantvloei is.

Krige sê boere se besluitneming en waarnemingsvermoë sal baie verfyn moet word, omdat die streek soveel verskillende faktore na vore bring. Wat op een boer se plaas werk, gaan nie noodwendig by sy buurman werk nie.

Botes sê somtyds is die beste raad om te luister na die ou, ervare boere in jou omgewing wat al baie droogtesiklusse weerstaan het.

Bester sê een van die beste maniere om risiko te verskans is om humus en koolstof in jou grond op te bou. Hy beveel ook aan dat kleiner boere nie moet oorkapitaliseer op duur tegnologie nie. Daar kom ‘n punt waar die opbrengsverhoging nie genoeg is om die koste te dek nie. “Dit moet sin maak en dit moet werk,” sê Bester.

Navorsers en bedryfsorganisasies is besig met proewe om alternatiewe peulgewasse se lewensvatbaarheid te ondersoek. Van die gewasse sluit, onder andere, lensies, kekerertjies en hawer in.

Die oorhoofse boodskap van die gesprek is dat produsente nie kan staatmaak op hoër pryse nie; hulle sal moet werk aan beter winsgewendheid, koste per ton. Strydom sê die ou produksiebeginsels geld meer as ooit: optimale opbrengs teen die hoogste wins. “Invoertariewe kan die subsidie-faktor uitkanselleer, maar ons moet ons hulpbronne doeltreffend gebruik,” sê Strydom.

Besoek gerus www.nasieingesprek.co.za of www.nationinconversation.co.za vir die volledige gesprekke.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Trekkerverkope daal met 21% in 2019

ProAgri

ProAgri 235