in ,

Gifblaar: Klein klossies, groot gif

Die gifblaarplant is ՚n reuse euwel vir boere en ՚n teenmiddel bly ՚n vae droom. Gifblaar (Dichapetalum cymosum) is verantwoordelik vir talle vergiftigings van vee en wild. Die plant se natuurlik verspreiding is in die noordelike en westelike dele van Suid-Afrika, asook Namibië, Zimbabwe en Botswana.

Die gebiede waar gifblaar voorkom is sanderige grond wat min voedingstowwe en goeie dreinering het. Plante wat gewoonlik saam met die gifblaar voorkom, is wildesering of rooisering (Burkea africana), vaalboom (Terminalia sericea), Lekkerbreek (Ochna pulchra), grysappel (Parinari capensis) en treurboswilg (Combretum collinum).

Eienskappe van gifblaar

Die gifstof wat die plant dodelik maak, is natrium-fluorasetaat (SMFA). Dit tas die dier se hart en senuweestelsel aan.

Hierdie houtagtige, bladwisselende struik het ՚n baie diep wortelstelsel en tegnies gesproke is hierdie plant eintlik ՚n rankplant as mens kyk hoe dit groei. Dit het een hoofstam met vertakkings wat horisontaal onder die grond groei. Plek-plek steek klossies groen blare bo die grond uit.

Gifblaarblare is liggroen en verhard soos dit verouder. Soms is die blare en die takkies ook harig. Die blare het prominente are wat geboë voorkom. Wanneer die plant in die lente blom, is die blomme geurige liggeel bloeisels. Daarna vorm dit vruggies wat lyk soos klein perskes.

Dit is ook gedurende hierdie tyd wat nuwe, hoogs giftige blaartjies die diere se aandag trek, want teen die einde van die winter is hulle baie lus vir ՚n groenigheidjie. Die diere wat die meeste verlei word om die vars blare te eet, is perde, grootwild, skape en beeste, veral jong kalfies. Beeste wat aangekoop word van buite die distrik waar die gifblaar voorkom, is meer geneig om die plant te eet as die wat daarmee grootgeword het.

Simptome van vergiftiging en raad

Simptome dat ՚n dier vergiftig is kan binne 30 minute tot 2 uur nadat dit ingeneem is begin verskyn. Aanvanklik, wanneer die dier lê of rus, mag hy normaal voorkom asof hy niks makeer nie, maar sodra die simptome begin is dit ՚n geweldige en ernstige reaksie. Diere toon onreëlmatige hartklop en vinnige asemhaling. Omdat die hart aangetas word, pomp die hart dus teen ՚n vinnige pas sonder om bloed behoorlik deur die liggaam te stoot (՚n swak, vinnige pols). Perde urineer, ontlas, sweet en toon tekens van koliek. Diere sterf binne 24 uur.

Om die diere te probeer red, hou vergiftigde diere rustig en kalm. Skuif hulle na ՚n kamp of kraal waar hulle kan rus sonder om hulle te verjaag. Hou die diere weg van water vir 48 uur. Indien ՚n dier wat ՚n dodelike hoeveelheid gifblaar gevreet het water drink, sal dit onmiddellik vrek.

Die dier se gesondheid en die hoeveelheid gifblaar op jou veld speel ՚n rol in wat ՚n dodelike dosis is. Navorsing het aangetoon dat oorbeweiding en slegte bestuur ՚n bydrae lewer tot meer vergiftigings, maar om dit reg te stel verwyder nie die gifblaar nie.

Gifblaarbeheer

Doeltreffende beheer van die gifblaarplant behels ՚n kombinasie van chemiese beheer en handearbeid.

Chemiese beheer

As onkruiddoder gebruik word, moet blare goed deurnat wees met chemiese gifstof om ՚n effek te hê, want die grootste deel van die plant is onder die grond versteek. In die meeste gevalle gaan ՚n gedeelte van die plant dan dood, maar loop weer uit in die nuwe seisoen.

Fisiese beheer

Waar die vervuiling minder is, is dit dalk beter om die gedeelte van ՚n kamp wat vol gifblaar is af te skort.

Om net die plant uit te grawe, is ook nie genoeg nie. Omdat die plant so wyd en diep strek, is dit moeilik om al die worteldeeltjies en stukkies tak te verwyder. Dit beteken dat oorblyfsels nuwe lote kan stoot. Hierdie metode is ook arbeidsintensief, maar lewer goeie resultate as dit deeglik gedoen word.

Om uitgrawe met chemiese behandeling te kombineer, is meer suksesvol totdat ՚n doeltreffende teenmiddel gevind kan word.

Bronne:

Botha, C..J & Venter, E. (2002). ‘Plants poisonous to livestock Southern Africa (CD-ROM)’ University of Pretoria, Faculty of Veterinary Science. Pretoria.

Ministry of Agriculture, Water and Forestry, Directorate of Agricultural Research and Training (2005). Dichapetalum cymosum ( Poison leaf/Gifblaar): A never-ending problem; Spotlight on agriculture, Issue 90. Beskikbaar by: http://theeis.com/elibrary/sites/default/files/downloads/literature/Spotlight_090.pdf

Ministry of Agriculture, Water and Forestry, Directorate of Agricultural Research and Training (2005). Herbicidal control of Poison leaf/Gifblaar; Spotlight on agriculture, Issue 91. Beskikbaar by: http://theeis.com/elibrary/sites/default/files/downloads/literature/Spotlight_
091.pdf

Ministry of Agriculture, Water and Forestry, Directorate of Agricultural Research and Training (2005). Manual eradication of Poison leaf/Gifblaar; Spotlight on agriculture, Issue 92. Beskikbaar by: http://theeis.com/elibrary/sites/default/files/downloads/literature/Spotlight_092.pdf

Ministry of Agriculture, Water and Forestry, Directorate of Agricultural Research and Training (2005). Reducing livestock mortality from poison leaf; Spotlight on agriculture; Issue 93. Beskikbaar by: https://www.yumpu.com/en/document/read/11739717/reducinq-livestockmoktality-from-poison-leaf-nbrinamibia

Ndlovu, S. (2019). Use of Indigenous Knowledge Systems in the prevention and control of Dichapetalum cymosum poisoning in cattle.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Final area planted and crop production figures

Marquis Macadamias farmers commit to climate and social upliftment