in , ,

Geesdrif is die sukses agter Bielie Bonsmaras

This post is also available in: English

Oom Louis (Lewies) Rautenbach was ’n ware stockman. Hy kon na ’n bees kyk en vir jou presies sê watter sterk en swak eienskappe die dier met hom saamdra – en jare daarna kan jy dit maar in sy nageslag gaan toets. Hy het ook die vermoë gehad om die mense om hom te besiel met sy geesdrif.

Sedert oom Louis se dogter, Elzet, haar een voet voor die ander kon sit, het sy in die beeskraal geboer. Daar was min tyd vir skoolhuiswerk doen en baie tyd om die fynere kunsies van beesboerdery by haar pa te leer. So goed het sy geleer dat sy na skool die administrasie van die kudde by haar pa oorgeneem het en met sy dood verlede jaar het sy die eienaar van Bielie Bonsmaras geword.

Elzet boer op die plaas, Sarie, tussen Tweeling en Reitz in oorwegend suurveld, maar die genetika wat vader en dogter oor baie jare opgebou het, skrik nie daarvoor nie, want Elzet se beeste is ware veldbeeste wat maklik op die veld kan oorleef om steeds ’n uitstekende kondisie te behou. Elzet se stewige en tevrede kliëntebasis wat sy reeds opgebou het en behou, getuig van haar uitmuntende vaardigheid.

Herman Mitchell is ’n jarelange kliënt van die Rautenbachs en loop nie een van hulle veilings mis nie. “Ek kan een woord gebruik om Bielie-Bonsmaras op te som en dit is ‘passie’. Die bedrewenheid van die Rautenbachs is net ongelooflik. Ek gebruik Elzet se bulle al vir agt jaar en hulle gee vir jou presies wat oom Louis vir jou gesê het. As hy vir jou gesê het watter kleur die bul gaan oordra, dan doen hy dit en as hy gesê het hulle verskalwers gaan vir jou goeie melk gee, dan doen hulle dit.”

Herman Mitchell spog graag met die uitstekende veldbulle wat hy by Elzet Rautenbach van Bielie Bonsmaras koop. As hy sy bulle vir ’n rukkie in die voerkraal sit en kos gee, dan raak hulle baie vinnig werksgereed.

Herman boer tussen Vrede en Frankfort in semi-suurveld en ten spyte van die ontoereikende voedings-waarde van die gras presteer Elzet se beeste besonders goed op sy veld. “Ek loop nie met ’n sak voer agter die bulle aan nie – hulle doen hulle ding op die veld.”

Elzet se Bielie Bonsmarabulle sal vanjaar op 28 Augustus by Frankfort-skouterrein by die Frankfort Bonsmaratelersgroepveiling en op 3 September op Vrede by die Oos-Vrystaat Veldbulklub aangebied word. Skakel haar gerus by 082-358-3104 of stuur vir haar ’n e-pos na Bielie.bonsmaras@gmail.com om meer oor haar bielie-bulle uit te vra. Facebook: www.facebook.com/pages/bielie-bonsmaras

Hy het ’n kommersiële kudde en sit sy Bielie Bonsmara-bulle op Simbra-koeie om mediumraambeeste te teel. “Wat ek die meeste van Elzet se bulle hou, is dat hulle baie klein kalwertjies lewer wat nooit in die koeie vassit nie. Ek moes nog net ’n paar keer ’n kalf uittrek en dit was van swelling of as sy kop draai, wat niks met die bul se vermoë te doen het nie. En ek het nog nie een bul gekry wat nie werk nie, want oom Louis se woord was sy eer.”


Dit is mos hoe ’n stewige mediumraam-Bonsmarabul moet lyk. Elzet kan met reg haar kudde Bielie Bonsmaras noem.

Gallie Giliomee boer buite Villiers en het die afgelope tien jaar al Elzet se veilings bygewoon om sy bulle aan te vul. “Elzet se bulle loop al van haar pa se tyd af in die veld en is baie hard. Hulle onderhou hulleself baie goed en met ’n bietjie byvoeding word hulle vinnig werksgereed voor die teelseisoen. Terwyl ander boere hulle diere in die meelbakke grootmaak, voer sy haar bulle feitlik nooit nie. Ek verkies mediumraambeeste, wat baie vrugbaar is met ’n korter interkalfperiode wat in die veld ’n ordentlike kalf van 200 kg of meer kan lewer, wat die voerkrale wil koop,” sê Gallie.

“Ek kry meer kalwers van Elzet se bulle as van die bulle wat regtig gevoer is, want as jy laasgenoemde in die veld saam met die harde Bielie Bonsmarabulle sit, dan val hulle in strepe uit.”

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Jumil maak mis goud werd

Inttrac Trading se Orsi verslind alles wat moet verdwyn